Jesaja 40:1-11 – 6 Desember

Tweede Sondag van Advent

Op die tweede Sondag in Advent word die tweede Adventskers aangesteek. Dit simboliseer vrede. Hiermee bely ons dat Christus se koms vrede bewerkstellig. Tussen mense hier op aarde, maar ook tussen ons en God. In die eerste vers van Jesaja 40 kom God met ‘n opdrag dat sy volk wat in ballingskap is, getroos moet word (Engelse vertaling: “Comfort, comfort my people”). Hierdie woorde is bedoel vir die volk wat getwyfel het of God hulle nog wil en inderdaad kan red. God kom egter met die goeie nuus dat daar sagkens met sy volk gepraat word. Dat die pad reguit gemaak word. Nie bloot vir die ballinge om by die huis te kom nie, maar ook vir God om terug te keer Jerusalem toe. Hulle hoor dus dat God kan en wil red. Hierdie woord “troos” het egter nie bloot die betekenis van iemand wat jou optel en jou trane afvee nie. Dit beteken eerder om te bemoedig en te versterk. Ons kan dit aflei van die lettergreep “fort” in die Engelse “comfort” (Latyn: comfortare). Dit beskryf die krag om ‘n situasie te kan hanteer. Jesaja se boodskap van troos gaan dus om die bemoediging en sekerheid van God se hulp en krag. Dit word pragtig saamgevat in Jesaja se twee metafore vir God se betrokkenheid by die volk. Hy is die Kryger-Herder. En Hy is die magtig-deernisvolle Koning-Kind. Dit is twee metafore wat amper paradoksaal is. God kom as magtige kryger wie se mag die vertroue en sekerheid inboesem waarna die ballinge verlang het. Hy is sterker as die Babiloniese gode. Maar Hy kom ook as die Herder. Die een wat vertroos en beskerm en sagkens werk. Dit is waarin die boodskap ook vir ons lê in die voortslepende trauma van hierdie jaar. Ons wonder ook soms of God nog kán en wíl red. Ons voel immers oorweldig deur die nood en geweld in ons wêreld. Dit is waarom hierdie boodskap ook vir ons troos en versterk. Kyk, hier is jou God! Hy bring die vrede waarna jy met jou hele wese smag!

Laai af: Word – PowerPoint

Jesaja 64:1-9 – 29 November

Eerste Sondag van Advent

Met die aanvang van Advent word die Adventskrans kers aangesteek wat hoop simboliseer. Uit die OT hoor ons in Jesaja 64:1-9 die Godsvolk se smeekgebed dat God hulle sal verlos. Dat Hy die berge sal skud in sy verskyning! Dat Hy tot ons redding sal verskyn, soos Psalm 80 dit liries beskrywe. Daardie hoop het in Christus ‘n werklikheid geword. Paulus verklaar aan die Korintiërs dat God in Christus Jesus met sy eerste koms ons reeds in alles ryklik geseën het (1 Kor 1:3-9). Markus verkondig daarby die Wederkoms van die Seun van die mens met groot krag en majesteit (Mrk 13:24-37). Ons weet nie wanneer dit sal wees nie, maar ons wag daarop dat Hy ons nie aan die slaap kry nie.

Vir Familietyd kan jy John Stephens se idee gebruik om met die kinders oor wag te gesels. Bring ‘n kaartjie waarop daar staan: “Moenie oopmaak voor Kersfees nie”. Gesels dan oor hoe ons wag op Kersfees. Verduidelik die simboliek van die Adventskrans sowel as die Adventskalender en moedig families aan om dit by die huis te maak, waarmee die weke en dae tot Kersfees afgetel kan word. Moedig die kinders ook aan om geskenke vir minderbevoorregte kinders te gee.

Met dít as inleiding kan jy dan met die preek aansluit by die afwagting en verlange na God se teenwoordigheid wat die eerste Sondag in Advent tipeer. Dit is die verlange waarvan ons in ons sleutelteks Jesaja 64:1-9 lees. Die profeet herinner daar die Here aan sy magtige dade in die verlede. En bid dat die Here weer met krag sal optree. Die berge sal skud en soos ‘n vuurvlam Homself aan die nasies sal bekend maak. En soos ‘n pottebakker die volk sal hervorm om aan Hom alleen te behoort. Sodat die heilige stad en die pragtige tempel weer as getuies van God se teenwoordigheid op aarde kan optree. “U is ons vader, Here!” Jesaja steek dus in ons die hoop aan dat God ook nou weer in ons eie kontekste Homself sal openbaar. Ons weet God se reddingswerk is reeds voltrek. Maar ons is ook maar té bewus daarvan dat dit nog nie voleindig is nie. Ons verwag God se teenwoordigheid, maar rondom ons sien ons die pandemie, ekonomiese verwoesting, en mense wat geweldig swaarkry. Ons vra: “Kom Here, kyk tog nou ‘n slag van die hemel af! Kom verander ons lot!” Hierdie gebed is nie triomfantelik nie. Dit spreek nie van selfvertroue in die “tussentyd” nie, maar van Godsvertroue.  Dit ontken dus nie die noodkreet van ons lewe, ons wêreld en van die kosmos nie. Maar ons onthou wie die Pottebakker is. Ons Vader. Ons teks lei ons dus in 2020 die Adventstyd binne. Dit lei ons uit ‘n jaar van soveel ontnugtering, van Covid-19, van soveel swaarkry en soveel struweling op politieke sowel as kerklike terrein. Na die nuwe hoop wat net ons God kan bring.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 100 – 22 November

Vyf en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Christus die Koning

Hoe roep julle ma of pa julle?  Kan julle hulle stemme herken?  Hoe weet julle?  Kan julle hoor of hulle opgewonde is? Of kwaad? Watter troeteldiere het julle?  Hoor julle honde as julle roep? Kom hulle na julle toe?  En katte? En kanaries? Ons hoor ons ma en pa as ons hulle ken. Hoe beter ons hulle ken, hoe beter luister ons na hulle.  Dieselfde met ons troeteldiere.  Hoe beter hulle ons ken, hoe beter luister hulle na ons. Dit werk so met skape ook.  As jy hulle roep, sal hulle nie na jou toe kom nie.  Maar as die skaapwagter, die herder hulle roep, kom hulle dadelik.  Want die skape ken die skaapwagter se stem. Dit is ook so met die Here Jesus.  Hoe beter ons Hom ken uit sy Woord, hoe beter verstaan ons wat Hy sê. Daarvoor moet ons tyd deurbring met die Bybel.  Moet ons lees en bid. Psalm 100 is seker een van die bekendste lofpsalms wat steeds gesing word in ons kerke.  Die titel van die Psalm is nie verniet nie: “‘n Psalm.  Vir lofprysing.” (2020 vertaling) en “‘n Dankpsalm” (1983 vertaling).  Albei titels is verantwoorde vertalings van die oorspronklike, omdat die woord tôdâ vir baie betekenisse gebruik kan word: lofprysing, danklied, verklaring, en selfs vir belydenis (vgl. bv. Jos. 7:19; Esra 10:11). Dit is ‘n kort Psalm en daarom wil ek gesels ons oor die inhoud van die psalm in terme van drie perspektiewe:

  • Hoe God geteken word,
  • Wie Hom moet loof, en
  • Hoe ons Hom moet prys en dank.

Laai af: Word – PowerPoint