Matteus 22:1-14 – 15 Oktober
Twintigste Sondag in Koninkrykstyd
‘n Eenvoudige opsie met kindertyd is om vir kinders te vertel dat die kerk God se fees of partytjie is waarheen hulle elkeen genooi is. By hierdie partytjie sing ons, behoort aan groepe soos kategese, neem deel aan bedieninge, ens. Gee vir die kinders partytjiehoede en, as jy dapper is, ballonne en papier fluitjies. Of gesels oor verjaarsdagpartytjies. Vra wat hulle by sulke partytjies doen en wie hulle nooi. Gesels dan oor die gastelys by die fees in die teks: dit sluit almal in, goed of sleg. God nooi almal na die partytjie. Jy kan ook verse 11-13 weer lees en verras reageer. Erken dat dit nie klink soos God of Jesus nie. Soms is dit nodig om iets te weet van die tyd waarin die Bybel geskryf is. In Jesus se tyd sou die gasheer spesiale klere vir die gaste gee om by die troue te dra. Iemand het dus vir hierdie ou klere aangebied, maar hy wou dit nie hê nie. Hy het na die partytjie toe gekom, die regte kos geëet, maar geweier om die regte klere te dra.
Die preekriglyn sluit aan by die feit dat die atmosfeer gespanne is in ons teks. Die toneel is die laaste week van Jesus se bediening in Jerusalem. Dit is kort voor die viering van Paasfees. Vir meer as drie jaar het Hy op verskeie plekke en maniere verkondig dat Hy deur God gestuur is, nie net as profeet nie, maar as die Christus en selfs meer, as die Seun van God. Die Jode het ’n groot verwagting gehad dat die beloofde Messias sou kom om hulle te bevry. Dit is van kleintyd af by hulle ingeprent dat hulle deel van God se uitverkore volk was en dat Hy hulle na die spesiale feesmaal van die Messias uitgenooi het. Die meeste Jode neem nou sterk standpunt teen Jesus in. Die Joodse godsdienstige leiers verneem nie God se stem en God se aanraking in Jesus van Nasaret nie. Een van hul probleme met Jesus is juis dat sy bediening te oop is. Vir Jesus loop die pad na God deur die omhelsing van God se genade. Jesus is God se inisiatief om stukkende mense en gebrokenes op te tel. Teen hierdie agtergrond vertel Jesus die gelykenis van die uitnodiging na die bruilofsfees. ‘n Koning reël ‘n bruilofsfees vir sy seun, en nooi gaste. Die genooides wil nie kom nie. By ‘n herhaling van die uitnodiging raak van hulle aggressief en geweldadig. Dan word die uitnodiging na die straathoeke geneem, en aan slegtes en goeies gerig. Hulle kom wel, en maak die saal vol. Daar is egter ‘n indringer, met wie die koning afreken. Dit lui tot ‘n stelreël of spreuk waarmee die wyse waarop God se genade werk toegelig word.
Vir die Jode was dit ondenkbaar dat die “mense van die straathoeke” by die bruilofsfees kon wees. Die Joodse leiers het gedink hulle weet wie by die Goddelike banket ingesluit sal word. Dit sou Jode wees wat volgens die Joodse verstaan reg lewe. Die Jode het gemeen hulle het God en God se bedoelinge volmaak uitgepluis. Hulle het gedink hulle weet wie God is en wie by God welkom sal wees. Hulle het ook geweet nie-Jode is nie welkom nie. Hulle was immers, soos 4 Esdras sê, minder werd as ‘n spoeg op die straathoek. Ons moet diep en selfondersoekende nadink oor ons eie onsluiting by die koninkryk van God. En ons moet diep nadink oor wie ons uitsluit, oor wie ons dink nie kwalifiseer nie. Want ons mag die skok van ons lewe kry. In die koninkryk van God kies mense nie wie in en uit is nie. Ons mede-banketgangers word aan ons geskenk. Hulle bestaan uit mense wat in ons oë goeies én slegtes is. Daarom pas dit ook dat ons eerder ‘n meer inklusiewe as ‘n eksklusiewe ingesteldheid handhaaf. En terwyl ons dikwels onder druk is, daagliks ons kruis saam met Jesus moet opneem, en onder verwerping en verhardheid ly, kan ons mekaar tog bemoedig met die vaste wete dat ons wat glo deur God by die ewige banket ingewag word. Dit is die bruilofsfees van die Lam.