Handelinge 2:42-47 – 30 April
Vierde Sondag van Pase
Carolyn Brown stel voor dat jy met die Skriflesing die gemeente vra om hul hande op te steek elke keer wat hulle ‘n aktiwiteit in die teks hoor. Stop dan telkens en gesels oor hoe dié aktiwiteit in jul gemeente gebeur. Sy stel ook voor dat jy aankondig dat vandag ‘n toets-dag is. Vra lidmate wie dink hulle kan Psalm 23 uit hulle kop uit opsê. Laat die gemeente dit dan sáám opsê. Een alleen mag sukkel, maar saam kan die gemeente dit maklik onthou. Dit sluit aan by die voordeel van die lewe as geloofsgemeenskap. ‘n Ander voorstel wat sy maak, is dat jy ‘n bak vol toegedraaide lekkernye (dalk Paaseiers) bring. Vertel dat jy die lekkernye op jou lessenaar kan sit en elke dag een eet. Raai hoe lank dit sal vat. Verbeel julle saam hoe lekker dit gaan wees. OF jy kan dit nou geniet, saam met die hele gemeente. Laat die kinders die lekkernye uitdeel. Terwyl almal saam smul, lees weer die Skrifgedeelte en gesels oor hoeveel meer pret dit is om die lekkernye saam te geniet.
Ons teks, Handelinge 2:42-47, vorm die hoogtepunt van ‘n aangrypende hoofstuk in die Bybel. Handelinge 2:1-41 vertel die verhaal van die Pinkster-gebeure in Jerusalem. Die Heilige Gees is uitgestort oor almal wat teenwoordig was, die dissipels het spontaan begin getuig oor Christus, die gawes van die Gees is deur mense van alle nasies ontvang en die mense het tot bekering gekom. Die mense wat reageer op Petrus se getuienis en hulle tot die Here bekeer, vorm die fondasie van die eerste Christelike gemeenskap. Handelinge 2:42-47 getuig oor hierdie nuwe gemeenskap wat nie te lank gelede nie nog vreemdelinge vir mekaar was. Nou funksioneer hulle as ‘n geloofsgemeenskap in Christus deur die Heilige Gees. In hierdie kort skrywe deel Lukas hoe die gemeente gefunksioneer het nadat hulle met die Heilige Gees gevul is. Ons moet weer die nuus van die dag hoor om herinner te word dat ons ‘n unieke identiteit en rol het in die gemeenskap en land. Ons rol is om daagliks as geloofsgemeenskap saam te bid, saam oor Jesus se lewe en werk na te dink, saam te eet sodat ons kan fokus op Christus, sodat ons gefokus kan bly. Ons rol is nie om saam te kla nie, maar deur stil te raak, saam te bid en te eet, te onderskei wat Jesus van ons vra. Wat vra Christus van ons as gemeente in hierdie gemeenskap en hierdie land? Hoe vra Christus julle om om te gee vir mekaar en ander?
Gert Olivier
Baie dankie.