Jeremia 20:7-13 – 25 Junie
Vierde Sondag in Koninkrykstyd
Lees Jeremia 20:7-13 in die Bybel vir almal in Familietyd en vertel die verhaal deur uiteindelik Jeremia se hart op ’n prentjie van ’n menslike skelet (ingesluit) te teken. Brei dan uit oor die betekenis daarvan vir ons. Die preekriglyn fokus op die geweldige uitdagende roeping wat God vir Jeremia gehad het. Jeremia se hele mens-wees was ter sprake. Hy het, soos ‘n vriend altyd sê, “skin in the game” gehad. Ons teks spel teen die einde ook uit waarom Jeremia met sy roeping kon voortgaan. Hy het ‘n Godsgeloof en ‘n Godsbewussyn gehad wat alles moontlik gemaak het. Daarby was hy net ‘n feilbare mens. Die skrifgedeelte is ‘n uitnodiging aan elkeen wat al die bodem, oftewel rock bottom, getref het om ‘n spesiale lament of klaaglied in digvorm te skryf oor dit wat hulle beleef. Ons kry die elemente van ‘n lament in die ons Skrifgedeelte. Dit bestaan uit die volgende: roep tot die Here, klag, smeekgebed en element van lofprysing. Hoe kan so ‘n lament lyk uit eietydse gebeure? Byvoorbeeld: Iemand wie se kinders emigreer het, iemand wat hul werk verloor het, iemand wat voel dat hul lewe nie genoegsame betekenis het nie. Die skryf van so ‘n lament moedig gelowiges aan om hul seer en dit wat hulle nie kan verstaan nie na God te neem. Dit bied die geleentheid om dit wat swaar neerdruk uit hul sisteem te bid. Net iemand wat in ‘n intieme verhouding met die Here leef, kan so rou eerlik met die Here wees soos Jeremia was. Jeremia het uiteindelik hierin gevind dat sy geloof versterk word en hy kon die Here selfs prys. Dit is ook die troos vir die gelowige vandag. In hierdie klaaglied voor die Here lê daar uiteindelik heling wat die gelowige met bewende hande kan neem om struikelend vorentoe te beur na die nuwe Jerusalem.