Levitikus 19:1-2, 15-18 – 29 Oktober
Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd
Daar is ‘n foto van weggegooide gemors wat jy kan wys. Gesels oor wat daar aangaan. Laat families met mekaar gesels. Laat hulle alles noem wat hulle het, maar nie meer (gereeld) gebruik nie, of alles waarvan hulle te veel het, bv. ou speelgoed, ekstra stelle borde, beddegoed, DVD’s wat hulle nie meer kyk nie, naellak wat ma nie meer gebruik nie, klere wat hulle nie meer dra nie (of wat nie meer pas nie). Laat hulle kreatief dink wat hulle met hierdie goed kan doen. Kry wenslyste by plaaslike welsynorganisasies (plekke wat haweloses versorg, plekke wat kinders sonder heenkome versorg, inval-plekke vir straatkinders, ens.). Daag families uit om van hul ekstra besittings vir hierdie organisasies te neem.
In ons teks is die Here self aan die word. Hy gee opdragte aan die volk wat hulle gedrag teen God en medemens bepaal. Hierdie opdragte – om te doen wat God wil – staan op die fondament van wie ons God self is. “‘Julle moet heilig wees, want Ek, die Here julle God, is Heilig”. Ons alledaagse, praktiese optrede moet pas by wie ons God is. Ons leef in God se teenwoordigheid, en die Here leer ons in Levitikus hoe ons as God se volk in sy teenwoordigheid moet lewe.