Markus 1:21-28 – 31 Januarie

Vierde Sondag ná Epifanie

Speel ‘n luisterspeletjie: Na wie moet jy luister? Vra ‘n vraag en gee twee antwoorde. Laat die kinders dan hulle hande opsteek by die antwoord wat hulle dink reg is. Voorbeelde ingesluit. Vra dan: Wie luister almal na Jesus? Hoekom? Ons teks speel af in die sinagoge van Kapernaum. Sinagoges dateer uit die tyd na die ballingskap toe Jerusalem en die tempel verwoes was. Met die offerdiens daarmee heen, het Ou Testamentiese gelowiges rondom die Heilige Skrifte bymekaar gekom, dit gelees en oordink. Ons lees dat Jesus en Paulus veral sinagoges vir hulle bediening uitgekies het. Die sinagoge was daarom dikwels die ruimte van konflik tussen die evangelie en die Joodse leiers. In ons teks word hierdie spanning voorspel deur die mense wat verstom was oor Jesus se leer, omdat dit met gesag was, nie soos die skrifgeleerdes nie. Jesus se gesag is die gesag van God self wat beslissend handel op aarde. Daaroor leer en onderrig Jesus die mense, sodat ons weet hoe om onder God se koningskap te lewe. En deur sy bediening, wat die breek van bose en bindende magte insluit, bring Jesus God se koninkryk op ‘n bevrydende manier na mense op aarde. Die goeie nuus van Jesus se gesagvolle optrede is dat die een, ware God bevel op aarde neem. Die uitdrywing van die onrein gees uit die arme man in die sinagoge, dien om Jesus se gesag verder te bevestig. Wanneer Jesus die onrein gees uitdryf, bevestig dit God se gesag ook oor die Bose. Jesus behaal ‘n klinkende oorwinning oor die Bose. Wanneer Jesus die onrein gees in die sinagoge uitwerp, is dit ook vir ons die evangelie van God se bevrydende heerskappy wat in Jesus tot by ons kom. Ons is nie onder die heerskappy van die bose nie, ons is nie uitgelewer aan vernietiging nie – God regeer. Jesus se gesag en mag oor die bose bly steeds geld, ook in Covid-tyd. Jesus bring nou reeds vir ons gesagvol bevryding, selfs al ly ons steeds en al sien ook nog vooruit na die dag waarop die koninkryk van God met die wederkoms volledig ‘n werklikheid sal word. Covid het nie die laaste woord nie, die bose ook nie.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 62:6-13 – 24 Januarie

Derde Sondag ná Epifanie

Vra die kinders wat die belangrikste dinge is wat ’n mens nodig het as jy ’n veilige fort in die speletjie Minecraft wil bou. Watter dinge laat hulle veilig voel? Vat jou kussing, ’n kombers en monstergif (’n spuitbottel met water en ’n prentjie van ’n monster waaroor ’n kruis getrek is daarop) saam. Vra vir die kinders wat ’n mens nodig het om lekker te slaap. Vra hulle verder uit totdat julle by die feit kom dat jy net lekker kan slaap as jy nie bang is nie. Psalm 62 sluit aan by die tyd ná Epifanie waarin die kerk besin oor ons wandel met God in die lig van Jesus Christus se koms en daaglikse teenwoordigheid by ons. In die psalms gaan dit juis oor die uitreik na God om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef en oor die versekering dat God ons vashou sodat ons aan Hom kan vashou. God se teenwoordigheid in die psalms vind sy vervulling en hoogtepunt in Jesus se koms na ons toe. Psalm 62 raak ‘n sentrale tema van die menslike lewe aan, naamlik geborgenheid te midde van ‘n wêreld vol lyding. Te midde van die afwaartse spiraal van geweld, onreg en rusteloosheid, is God ‘n veilige staanplek. Dit sluit aan by Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-29: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 139:1-6, 13-18 – 17 Januarie

Tweede Sondag ná Epifanie

Gebruik ‘n reeks voorgeboortelike sonarfoto’s van verskillende diere en kyk of die kinders die verskillende diere kan herken. Wys dan ook sonarfoto’s van babas en vra die kinders uit oor die verskillende liggaamsdele op die foto. Waar is die kop, die arms en die maag? Vra of die kinders weet hoe ‘n mens ‘n foto kan neem van iets wat jy nie kan sien nie. God sien alles, al kan ons dit nie sien nie. God ken ons van vóór geboorte af. Ons is ingeskryf in sy boek. God weet van ons. God is met ons. Ook in die tyd van die koronavirus. God sal ons hierdie jaar vashou en deur elke krisis dra. Ons kan ons vertroue in Hom stel en die toekoms met rus, kalmte en vrede in ons gemoed tegemoet gaan. Dit is waarom ons God se eer ten alle koste wil beskerm. En absoluut getrou en lojaal aan God wil leef deur Hom toe te laat om ons op die beproefde pad te lei, die pad wat nou alreeds sin maak en tot in ewigheid sal hou.

Laai af: Word – PowerPoint