Romeine 12:1-8 – 27 Augustus
Dertiende Sondag in Koninkrykstyd
Gesels in Familietyd oor die ervaring van legkaart bou – en dan kom jy agter daar is ‘n stukkie weg! Of bou saam ‘n eenvoudige legkaart, maar hou een van die stukke terug. Jy kan ook gesels oor iets meganies wat aanmekaar gesit word, maar aan die einde is daar skroewe oor. Elke deel is nodig en belangrik. Net so in die kerk. Hier kan jy prente van legkaarte kies wat kinders kan teken/inkleur en knip. As jy ‘n storie wil vertel, kan jy die oulike storie van Head, Body, Legs: A Story From Liberia deur Won-Ldy Paye & Margaret Lippert vertel. Kinders sal dit ook geniet om papierpoppe te maak, waar hulle self die liggaamsdele saam kan voeg. Hier is ‘n patroon.
Die preekriglyn sluit aan by die teks wat ons vandag nooi om onsself aan die Here weg te gee, onsself te offer. Dit is ‘n reaksie op die gedagtegang in die Romeinebrief tot dusvêr:
- In die eerste hoofstukke van Romeine 1–4 word ‘n prentjie geskets van die weerstandige mensdom teenoor wie God keer op keer meer genadig handel.
- In Romeine 5–8 verduidelik Paulus dat God gelowiges bevry het van magte soos sonde wat hul lewe en verhoudings wil vernietig.
- In Romeine 9–11 werp Paulus lig op die rol van die Jode en hoe nie-Jode ingetrek word in die ruimte van God se genade.
In Romeine 12 fokus Paulus op hoe om daagliks vanuit die genade te leef wat ons reeds ontvang het. Romeine 12 skets wyse gedragsriglyne vir gelowiges oor hoe om mekaar en ander te behandel. Dit wentel om sewe gawes wat eintlik baie prakties is. Gawes wat daarop fokus om die liggaam gesond, gelukkig en saam te hou. So ‘n lewe is ‘n doelbewuste keuse van ons kant, op grond van alles wat God vir ons in Christus geskenk het. Daarom sê Paulus: “Stel julle liggame as ‘n offer aan God beskikbaar.” Die Heilige Gees lei ons in hierdie proses en maak dit moontlik dat ons só kan lewe.