Johannes 1:29-42 – 15 Januarie

Tweede Sondag na Epifanie

Laas week het ons geluister na stemme met Familietyd; hierdie week word ons genooi om te sien. Nooi die kinders om aan die begin van die diens te luister na verwysings na sien en op te let na wat ons alles in die kerkgebou en tydens die erediens sien. Nooi hulle aan die einde van die diens om te deel wat hulle gesien het. In ons teks vertel almal wat vir Jesus sien vir ander daarvan. Gesels met die kinders oor waar hulle die afgelope week vir Jesus gesien het en vir wie hulle dit kan gaan vertel.

Johannes se hele bediening het daarin bestaan om na Jesus te wys, die Verlosser wat die sonde van die wêreld wegneem. Só word Johannes ook uitgebeeld op Matthias Grünewald se bekende skildery in Isenheim waar Johannes na Jesus as die Lam van God wys. In ons teks doop Johannes in Betanië oorkant die Jordaan. Die toneel is priesters, Leviete en Fariseërs wat Johannes uit Jerusalem kom besoek om hom uit te vra oor sy identiteit en bediening. Johannes lê dan getuienis af oor Jesus, die Een wat groter as Johannes is. Direk op hierdie gebeure volg ons teks. In ‘n wêreld waarin ons elke dag gekonfronteer word met die grootheid van ons en ons planeet se ellende en ontsettende skuld, is dit ongelooflik vertroostend om te onthou dat God self versoening vir ons sonde en gebrokenheid voorsien het. Ons kan onsself en ons wêreld probeer red, maar selfs die mees optimistiese scenario’s struikel oor die werklikheid van sukkel en swaarkry. Ons het verlossing van buite nodig. Hier in Epifanie word ons herinner aan die verskyning van die Seun van God, die Lam van God, wat kom om ons sonde en gebrokenheid weg te neem.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui