Eksodus 33:12-23 – 22 Oktober
Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd
Deel met die kinders iets van die breër verhaal van Eksodus 33-34. Begin deur te vra wie soos hul ouers lyk – pa se neus, ma se oë, ens. (Hier is ‘n oulike video wat met die beginsel werk.) Vertel dan in jou eie woorde – so dramaties as wat jy kan – die gebeure van Eksodus 33:18-23. Verwys ook na Eksodus 34:29ev, wat vertel dat Moses se gesig geblink het nadat hy tyd by God spandeer het. Hier is ‘n redelik uitgebreide idee van hoe jy die blinkende gesig kan uitbeeld. Maar jy kan dit eenvoudiger doen. Gebruik ‘n prent – soos die een – en kleur die gesig met glow-in-the-dark verf in. Gee na die familie-oomblik vir kinders afdrukke van die prent en as daar min kinders is, glow-in-the-dark “penne” om vir Moses ‘n gesig te teken. Anders kan hulle ‘n gewone gesig teken en inkleur. Op bladsy 144 hiervan is ‘n oulike prent wat jy sou kon gebruik tydens jou vertelling. Hier is ‘n oulike video as jy eerder dit wil gebruik om die storie te vertel. Die eerste video bo trek die vertelling deur na ons toe. Soos wat ons dalk pa se neus het, en Moses God se heerlikheid reflekteer, reflekteer ons iets van God se karakter wanneer ons tyd met God spandeer. Gee vir die kinders glow-stick hangers (necklaces), om die idee van ‘n gesig wat gloei tuis te bring.
In ons teks ontmoet God en mens mekaar in ‘n lewenskrisis. Ons kry wonderlike insig in die diepe geheimenis van God se betrokkenheid by ons, maar ook die diepe misterie wat God omhul. Hoewel ons God nooit kan deurgrond of kan ken nie, sien ons in die misterie van God tog God se liefdeshart vir die mens, vir ons. Ons teks is inderdaad geheimenisvol. Jy voel of jy iets daarvan verstaan, maar net sodra jy dit probeer verwoord dan voel dit of die betekenis jou ontglip. Die misterie wat die teks omring weerspieël iets van die misterie van die Een waarvan ons in die teks lees. Ons kry ‘n prentjie van die wonderlike teenwoordigheid van God by sy mense – van sy goedheid en genade. Tog lees ons nie net van God se teenwoordigheid nie, maar ook van sy verberging of afstandname. Anders gestel: die teks skets vir ons ‘n beeld van ‘n God wat ‘n misterie is, maar weliswaar ‘n misterie wat sy liefdeshart ontbloot.