Jona 3:10-4:11 – 24 September

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel gewoon die verhaal in Familietyd! Jy kan dalk hierdie video gebruik, of hierdie een. Hierdie video se kwaliteit is nie so goed nie, maar Jona is so lekker dramaties! Hier is mooi inkleurprente, o.a. van ‘n knorrige Jona onder ‘n bos. En hier is ‘n idee van ‘n plant wat jy kan maak met ‘n lekkergoed-wurm. Dis natuurlik ‘n ander plan – deel “sour worms” uit en gesels oor hoe ons soms suur raak wanneer God mense vergewe vir wie ons nie wil vergewe nie.

Die preekriglyn begin met die feit dat Jona nie vir God kans sien nie. God is te veel vir hom. Spesifiek God se genade oor die heidense stad, Nineve. ‘n opbloeiende stad van die Assiriese ryk. Assirië, die wrede en gewelddadige empire wat uiteindelik die noordelike tien stamme van die Godsvolk in ballingskap sou wegvoer. Ons sal die Assiriërs vandag kon vergelyk met die Nazi’s of – weens hulle wreedheid – met moderne volksmoordenaars en etniese suiweraars. Gaan kyk weer na wat die profeet Nahum profeteer teen Nineve en hoe hy die bloedspoor beskryf wat die stad in sy strooptogte agtergelaat het (3:1-3). Jona vind dit onmoontlik om genade vir so ‘n stad aan te kondig. Hoe kan God sy oordele oor Nineve opskort in die lig van Nineve se berou en bekering? Vir die Joodse profeet, Jona, was dit te veel.

Wat is die boodskap van hierdie teks vir ons vandag?

Eerstens word ons getref deur die genade van God. God se liefde en trou verander nooit nie, God se oordele verander dikwels. Soos God kan ons gerus ook oop bly vir verandering, berou en bekering. Ons moet ook bereid wees om te vergewe en te omhels.

Tweedens is die oordeel van God geregverdig en gepas. Nineve en Assirië se wreedheid skrei ten hemele en verdien oordeel. Uit die geskiedenis weet ons Assirië het bly volhard en is in 612 v.C. met die aarde gelyk gevee. God haat die hoogmoedige, onbekeerlike maghebbers en rig hulle ten gronde. Bekering, berou, restitusie en vergifnis is die weg van God se koninkryk, die weg na God se hart.

Derdens word ons geroep om vanuit die krag van liefde en deernis op te tree en die kwaad te oorwin. Dit lyk soms belaglik om met liefde en diens op onreg te reageer. Liefde en diens verdoesel nie onreg nie, maar ontmasker dit. Jesus het aan die kruis vir sy vervolgers gebid. Die kruis was die hoogtepunt van al die geweld wat teen die koninkryk van God geloods kon word. Die kruis het geweld ontmasker en vernietig. Dit geld tot vandag toe.

Vierdens help Jona ons om nie te dink ons vyande is ook God se vyande nie. Die boek wys hoe onverwags God se genade is. Die Leesrooster vir Lidmate stel dit so: “Ons sien hoe God se genade verby die grense en stereotipes beweeg wat ons telkens keer om genade aan ons medemens te betoon. Die verhaal van Jona is soos ‘n spieël wat opgehou word voor onsself. Dit help ons nadink oor of ons regtig gemaklik is met God se genade. Of is ons soos Jona wat weier om die radikale aard van God se verlossing te aanvaar? Watter gevoelens en emosies maak die verhaal by jou wakker?”

Vyfdens help Jona ons verstaan niemand is so verlore dat redding nie moontlik is nie. Nie individue nie, ook nie stede, state of empires nie. Die Christelike evangelie skep altyd die moontlikheid van verlossing vir elkeen. Dit is God se diepste bedoeling dat niemand verlore gaan nie, maar dat almal hulle bekeer en lewe.

In die sesde plek het Jona eintlik nie ‘n slot nie. Ons hoor nooit wat Jona se reaksie was nie. Het sy houding verander? Het hy insig in God se genade ontwikkel? God sien en dink anders as ons. Die oordeel behoort aan God. Laat ons mense vanuit God se genade benader. Op hierdie manier skryf elkeen van ons die slot van die boek Jona vir onsself en ons tyd.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui