Rigters 4:1-7 – 15 November

Vier en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Soos met alle narratiewe tekste, kan jy gewoon die Bybelverhaal op ‘n kindervriendelike manier vertel. Jy kan dit uit ‘n gunsteling Kinderbybel vertel. Daar is ook video’s en ‘n mooi inkleurprent. Die preekriglyn begin met die verhaal van ‘n natuurlike diamantveld in ‘n nasionale park in Arkansas. As jy ‘n diamant sou optel, kan jy dit vir jouself hou. Ongelukkig is daar nie meer veel diamante oor nie. Om een te vind, moet jy vroegoggend voor sonsopkoms daar wees sodat die strale van die son dalk op ‘n weggesteekte diamant in die veld kan skyn en dit blink. Soms moet jy wag tot laatmiddag as die son sak om iets te sien blink. Dit is dus ‘n wag-en-sien besigheid. Die onderdrukking van die Here se mense was erg. Hulle het iets spesiaals nodig gehad – iets wat soos ‘n diamant blink. Die magte rondom hulle was sterk en onverbiddelik. Hulle het dit oor hulleself gebring. Gewoontemisdadigers. Só beskryf Rigters die mense wat die beloofde land binnegetrek het. In hierdie donker tyd skitter daar ‘n diamant. Op die pad tussen Jerusalem en Efraim, het ‘n profetes onder ‘n boom gesit. Dag na dag het mense na haar toe gekom. Sy het hulle gehelp om geskille uit te sorteer. Sy was ‘n wyse persoon. Haar reputasie was goed. Sy het gesag gehad. Sy het na mense geluister. Sy het baie verhale van swaarkry gehoor. Soos die mense in Arkansas soms ‘n diamant ontdek as die son se lig daarop skyn, het sy baie mense versterk. Sy het egter nie net na mense geluister nie. Sy was ‘n profetes. Oor die jare het sy geleer om op God se golflengte te wees. Hoe sy God se stem gehoor het, weet ons nie. Sy het egter dag in en dag uit, van vroegoggend tot laataand gewag dat die son van God se openbaring op die woorde sal skyn wat sy moes meedeel. Toe kom die dag. God praat met haar.

Laai af: Word – PowerPoint

Josua 24:1-3a, 14-25 – 8 November

Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Hierdie teks help kinders om te begin verstaan dat ’n mens keuses maak in die lewe, en dat die keuses gevolge het.  Berei vooraf twee blikkies voor deur die etikette van ‘n blikkie boontjies (of iets waarvan kinders nie sal hou nie) en ‘n blikkie ingelegde vrugte (of iets wat kinders sal geniet) om te ruil.  Nooi twee kinders vorentoe en laat een van hulle kies watter blikkie hulle wil hê.  Wanneer die blikkie oopgemaak word, moet albei eet wat hulle gekry het – hul keuses het gevolge. Vertel dan die verhaal van die teksgedeelte dramaties en wys uit hoe Josua hulle waarsku dat hulle nie maar in die land kan gaan doen wat ander mense doen nie, en dan dink hulle kan steeds God se mense bly nie. In die preekriglyn vertel Annes Nel hoe hy onthou die eerste keer toe hy Namibië binnegekom het. “Na sowat 740 km staan hierdie padteken langs die pad: ‘Windhoek 810 km.’ Dit het my moed gebreek.” Soms bemoedig padtekens mens weer, veral hoe nader jou bestemming kom. Padtekens is baie belangrik. Dit help ons om te weet of ons moet stop of ry, mag verbygaan of nie en hoe ver die volgende bestemming is. Die verhaal van Israel is vol sulke padtekens: Abraham, Isak, Jakob, Josef, Egipte, die uittog, die woestyntyd en die intog. Nou is dit asof die groot bord voor hulle staan: “Bestemming bereik! Julle pad van swerftog het aan ‘n einde gekom.” Dit is egter nie net ‘n bestemming wat bereik is nie. Dit is ‘n uitnodiging om die voetspore van God in hulle reis tot hier, in hul geskiedenis te sien. Dit is om hulle bewus te maak dat hulle ‘n lewende, kragtige en wonderlike God aanbid. Dit het lank geneem — geslagte — maar God het gedoen wat Hy belowe het. Miskien is dit nou ook tyd om te dink oor die voetspore van God in ons lewe. Ons kan die tye onthou toe ons in donker plekke was en God ons opgetel en uitgelig het. Ons kan ‘n siekte onthou en hoe die Here ons genees het. Ons kan sonde onthou wat ons gepleeg het, die pyn wat ons veroorsaak het en hoe die wonderlike boodskap van God se vergifnis ons harte warm gemaak het. Dit is voetstappe van die genadige, liefdevolle God wat omgee.

Laai af: Word – PowerPoint

Sleuteltekste 2020-21

Hier is die Sleuteltekste vir die kerkjaar 2020-21. Dit vorm die basis vir die 24ste uitgawe van Woord en Fees (voorheen bekend as Preekstudies met liturgiese riglyne). Dit kom ook vanjaar in ’n nuwe formaat. Bybel-Media stel dit elektronies beskikbaar. Jy sal dit vind by Missio.org.za.

Op plekke is die Revised Common Lectionary opsy geskuif om plek te maak vir wat die opstellers meen toepaslike temas en tekste vir hierdie tyd van Covid-19 is. Die uitgangspunt is steeds om sover moontlik aan die hand van die tekste van die Revised Common Lectionary en die ritme van die seisoene van die kerklike jaar kreatiewe voorstelle vir prediking én liturgie aan te bied.

Laai af: Word – Excel