Handelinge 1:6-14 – 21 Mei
Sewende Sondag van Pase
Sluit in Familietyd aan by John Stevens wat ‘n gloeiende unicorn kroon dra en gesels oor die konsep van getuies wees. As jy nie ‘n gloeiende unicorn kroon wil dra nie, sit iets wonderlik in ‘n skoendoos of ander kleinerige boks – verkieslik iets wat gloei in die donker. Nooi kinders om te kom loer wat dit is. Laat hulle dan vir die grootmense vertel wat hulle gesien het. Verduidelik wat dit beteken om ‘n getuie te wees: wanneer jy iets wonderlik sien en vir ander vertel wat jy gesien het. Afhangende van die kinders se ouderdomme en die gemeente se spraaksamigheid, kan julle dan gesels oor die dinge van Jesus waarvan julle kan getuig.
Die preekriglyn sluit aan by die intense betekenis van die eerste verse van Handelinge. Dit boek open immers met indringende gesprek oor “tye en spesifieke geleenthede”. In hierdie gesprekke val die klem op:
- God wat in die “tye en spesifieke geleenthede” aktief aan die werk is – onder andere deur Jesus liggaamlik in ‘n nuwe lewe op te wek.
- Die verantwoordelikheid van Jesus se dissipels in die tyd tot hulle beskikking, met die Gawe wat God hulle gee, en
- Jesus wat opvaar na die hemel, met die belofte: Hy “… sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het”.
Met Jesus se hemelvaart, sê ons teks, is Jesus se dissipels se gesigte gedraai na die toekoms toe. Jesus sal weer kom. Dit is ons verwagting. Hierdie tyd van afwagting is egter nie leë tyd nie. Dis nie tyd om op jou hande te sit, jou bene te swaai, jou oë toe te druk en te sug nie. Die tyd van afwagting is gevul met aksie en betekenis. Die ” tye en spesifieke geleenthede” wat die Vader aan Jesus se dissipels gee, is ‘n tyd om die goeie nuus van Jesus se koningskap deur getuienis te deel. Hierdie aksie geskied in vennootskap met God self, wat die dissipels krag gee deur die Heilige Gees oor hulle uit te giet. Dit beteken Jesus se dissipels werk aktief in alle tye en op alle plekke in diens van God se koningskap, in afwagting op Jesus op die koningskap van God by sy terugkeer ‘n volle werklikheid te maak. Die angel is uit die toekoms gehaal. Die toekoms is nie iets wat ons moet vrees nie. Ons oë is na die toekoms gedraai. Ons verwag Jesus. Jesus sal weer terugkom net soos Hy gegaan het. Die toekoms is in Jesus se hande, en ons ontvang dit uit sy hand. Diegene wat hulle oë op hierdie Jesus hou, en met hulle gesigte na die toekoms leef terwyl hulle God dien en van Jesus getuig, is die mense met ‘n betekenisvolle, gevulde lewe en toekomsverwagting.