Eksodus 19:1-8 – 18 Junie
Derde Sondag in Koninkrykstyd
Hoor met Familietyd by die kinders wie al die ou fliek “Toy Story” gesien het. (As hulle dit nog nie gesien het nie, vertel inleidend die storie van Toy Story en stel die karakters bekend.) Wys hierdie uittreksel, waar die speelgoed sien dat hulle aan Andy behoort, omdat Andy sy naam onder hul voete geskryf het – met permanente ink, nogal! Laat almal vir mekaar vertel wie s’n hulle is. Herinner hulle dat ons mekaar s’n is, maar dat ons ook God s’n is. (Dit sluit aan by die verbond-gedagte in die teks.) Verwys weer na die doop. Soos Andy se naam onder Woody en Buzz se voete geskryf is, het God sy Naam op ons elkeen geskryf. Met die doop sê hy van ons elkeen: “Myne!”.
Die preekriglyn hak aan by die situasie van die volk drie maande na die Uittog uit Egipte. Die Israeliete het uiteindelik by die berg van God kom kamp opslaan, die plek waar hulle die volgende jaar sou deurbring om die wil van God vir die lewe uit sy hand te ontvang. Om die volk gereed te maak vir hierdie lewensveranderende ervaring by die berg Sinai bly Moses in konstante en direkte gesprek met die Here, soos hoofstuk 19 vir ons vertel. Let op hoe die doel van God se verlossing uit Egipte en voorsiening in die woestyn, self sy verdelging van die Amalekiete, in die uitnodiging tot ‘n intieme en gehoorsame verhouding met God bereik word: “As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’”
Petrus skryf eeue later oor die wyse waarop hierdie doel van God in die geslag gelowiges van die Nuwe Testament op ‘n uitnemende manier verwesenlik word:
Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. (1 Pet. 2:9-10).
Trouens, ons roeping is om seker te maak ons word as lewende stene in dié geestelike huis van God ingemessel, sê Petrus, sodat ons: “‘n heilige priesterdom kan wees wat geestelike offers bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” (1 Pet. 2:5).
Die beginpunt van hierdie Nuwe Testamentiese droom lê dus diep veranker in die verhaal van Sinai waar die Godsvolk die eerste genade van God se roeping ervaar het. Ons teks in Eksodus 19 help ons om weer die essensiële aspekte van ons bestaan as geloofsgemeenskap onder oë te neem. Behandel daarom die teks in konteks met die klem op wat God gedoen het om ons sy volk te maak. Met ander woorde, wat ons is, wat ons in God se oë is en wat die implikasies is vir ons lewe as enkelinge en as geloofsgemeenskap: Om gestalte te gee aan dit wat God ons gemaak het.