Romeine 8:6-11 – 26 Maart
Vyfde Sondag van Lydenstyd
Lees die teks uit ‘n kinder-vriendelike vertaling. Hoor by kinders wie van hulle weet wat “time out” is en hoe dit by hulle huise werk. Dit is wanneer jy stout is en iets verkeerd gedoen het, en jy moet vir ‘n rukkie lank in die hoek gaan staan of op ‘n spesifieke stoel gaan sit. (Jy kan dit selfs demonstreer met ‘n spesiale stoel.) Dit is glad nie lekker nie. Terwyl jy daar sit, moet jy dink aan jou verkeerde keuses en die gevolge daarvan. (Noem ‘n paar voorbeelde.) Vandag se teksgedeelte sê dat die Gees van Jesus ons vrygemaak het van sonde en straf. Dit is soos om vrygelaat te word van “time out”. Omdat ons vrygemaak is, maak ons beter keuses en probeer ons om minder sonde te doen.
Die preekriglyn sluit aan by die vraag “Who wants to live forever?” wat Freddy Mercury en die popgroep Queen in 1986 gevra het. Dié lied, geskryf deur Brian May, ‘n lid van die groep, het ‘n emosionele toneel in die rolprent Highlander begelei. Dit is interessant dat sowel gelowiges as ongelowiges positief op hierdie vraag antwoord. Die soeke na onsterflikheid is so oud soos die mens. Op fisieke vlak is enigiets van preparate tot terapie, meditasie tot lagterapie en modderbaddens op vreemde plekke algemeen vir dié op soek na die geheim van ‘n ewige bestaan op die ondermaanse.
Alhoewel die wêreld se pogings futiel is (die mens is soos die gras, vandag hier en more weg), weet ons as gelowiges dat daar wel ‘n geheim bestaan wat ewige lewe waarborg. Ongelukkig is daar onder gelowiges nie eenstemmigheid oor presies hóé hierdie geheim nagejaag moet word nie. Vir talle gaan dit oor strenger wettisisme terwyl ander ‘n meer vrye en bevryde lewe as geheim voorhou.
Vir mense wat beleef dat God hulle op grond van sy genade vrygemaak en boonop regverdig verklaar het, is daar egter die heerlike nuus van die Heilige Gees wat juis gegee is om gelowiges se oë gevestig te hou op Christus terwyl hulle vernuwe word. Soos daar ‘n skepping aan die begin was, is daar nou herskepping. Hierdie proses geskied buite ons om. Ons lewer nie ‘n bydrae om dit suksesvol te maak nie. Dit is egter ‘n proses wat ons ten diepste betrek. Soos medisyne wat in ‘n navorsingsomgewing buite ons betrokkenheid ontwikkel is, moet ons dit inneem om te baat daarby. ‘n Mediese voorskrif wat in die medisynekassie bly, het immers geen kans om te werk nie.