Romeine 11:1-2a, 29-32 – 20 Augustus
Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd
Sluit met Familietyd aan by die gedagte van God se genade teenoor ongehoorsame mense. As jy die boek betyds in die hande kan kry, lees David Shannon se “No, David, No!” of wys die video daarvan: https://www.youtube.com/watch?v=2QV1X3u1o3c Dit is ’n reeks prente van ’n seuntjie wat stoute goed doen en sy ma wat die hele tyd met hom raas. Maar in die twee laaste bladsye sê die ma: “Yes David. I love you.” God ontferm hom oor ongehoorsame mense. Wanneer ’n mens die hele Romeine 11 lees, leer ons dat ons nie ons verlossing kan verdien nie – dit is ’n geskenk van God. David moet die hele tyd “nee” hoor, maar uiteindelik het hy berou en hardloop in sy ma se arms in, waar sy hom met liefde ontvang.
In sy bediening het Jesus alle mense opgesoek, Jode en ook heidene. In Markus 7: 25-29 lees ons van Jesus se reis na heidense gebied, in die omstreke van die stad Tirus. Hy wou nie hê die mense moet weet Hy is daar nie. Tog kom ‘n Griekse vrou, gebore in Siro-Fenisië (heidense gebied, ‘n nie-Jood) na Hom toe, kniel en vra dat Hy haar dogtertjie van ‘n bose gees bevry. Die vrou gaan in debat met Jesus… en dan betoon Jesus aan haar genade. Haar dogter word summier bevry.
Hierdie verhaal in heidense gebied getuig dat Jesus se bediening aan Israel, en God se betrokkenheid sedert Abraham by hierdie volk wat uit Abraham voortkom, uiteindelik die hele wêreld sou omsluit. Paulus se worsteling met die ongehoorsaamheid van die Jode in Romeine 9 tot 11 is daarom ook vir ons belangrik. Want hy toon aan hoe God dit gebruik het om genade te betoon – aan Jood sowel as heiden, aan Jood, sowel as Afrikaners, Engelse, Russe, Arabiere – noem maar op.