Psalm 100 – 22 November
Vyf en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Christus die Koning
Hoe roep julle ma of pa julle? Kan julle hulle stemme herken? Hoe weet julle? Kan julle hoor of hulle opgewonde is? Of kwaad? Watter troeteldiere het julle? Hoor julle honde as julle roep? Kom hulle na julle toe? En katte? En kanaries? Ons hoor ons ma en pa as ons hulle ken. Hoe beter ons hulle ken, hoe beter luister ons na hulle. Dieselfde met ons troeteldiere. Hoe beter hulle ons ken, hoe beter luister hulle na ons. Dit werk so met skape ook. As jy hulle roep, sal hulle nie na jou toe kom nie. Maar as die skaapwagter, die herder hulle roep, kom hulle dadelik. Want die skape ken die skaapwagter se stem. Dit is ook so met die Here Jesus. Hoe beter ons Hom ken uit sy Woord, hoe beter verstaan ons wat Hy sê. Daarvoor moet ons tyd deurbring met die Bybel. Moet ons lees en bid. Psalm 100 is seker een van die bekendste lofpsalms wat steeds gesing word in ons kerke. Die titel van die Psalm is nie verniet nie: “‘n Psalm. Vir lofprysing.” (2020 vertaling) en “‘n Dankpsalm” (1983 vertaling). Albei titels is verantwoorde vertalings van die oorspronklike, omdat die woord tôdâ vir baie betekenisse gebruik kan word: lofprysing, danklied, verklaring, en selfs vir belydenis (vgl. bv. Jos. 7:19; Esra 10:11). Dit is ‘n kort Psalm en daarom wil ek gesels ons oor die inhoud van die psalm in terme van drie perspektiewe:
- Hoe God geteken word,
- Wie Hom moet loof, en
- Hoe ons Hom moet prys en dank.