Matteus 17:1-9 – 19 Februarie
Sewende Sondag na Epifanie (Sondag van Verheerliking)
Carolyn Brown stel voor dat verskillende skilderye van Jesus se verheerliking gewys word en dat daar op die dissipels se gesigsuitdrukking van verbasing en verwondering gefokus word. Jon Stevens het ‘n paar voorstelle vir voorwerplesse: Gebruik ‘n sonkrag gedrewe tuinlig – die tipe wat jy in die grond in druk. Stevens verbind die sonkrag aan die krag/lig wat van bo kom. Sy ander voorstel sluit aan by die berg waarop vandag se verhaal afspeel. Hy gebruik bergklim-toerusting en die gedagte dat ons dink ons kan God net op die berge sien. Maar Jesus was die hele tyd by hulle. In dieselfde video gebruik hy die voorbeeld van Transformers. Die beste opsie is steeds om gewoon die verhaal van die Skrifgedeelte op ‘n kinder-vriendelike manier te vertel, hetsy uit ‘n kinderbybel of met ‘n poppekas of mbv ‘n video. Jy kan hierdie een vanaf 37 sekondes gebruik. ‘n Goeie opsie is om die video te wys terwyl jy die Skriflesing doen – oefen vooraf om seker te maak jy kry die tydberekening reg.
‘n Bekende teoloog skryf: Die Matteus-evangelie is ‘n kerk-evangelie. Meer as enige van die ander Evangelies handel dit oor die kerk en vir die kerk. ‘n Evangelie oor die aard en roeping en alledaagse lewe en ervarings van die kerk. Inderdaad. Matteus is die enigste van die vier Evangelies wat die Griekse woord wat ons as “kerk” ken, ekklesia (16:18 en 18:17), gebruik om die wyse waarop Jesus die kerk vorm te beskryf. Daarom val die kollig van ons teks
- allereers op Jesus die Verheerlikte, die Hoof van die kerk, maar
- tweedens ook op die kerk, op die verdwaasde dissipels saam met Jesus, op hulle wat die opdrag van die kerk op hul skouers sal dra.