Matteus 21:33-46 – 8 Oktober
Negentiende Sondag in Koninkrykstyd
By Missio.org.za is daar ‘n paar oulike idees wat aansluit by Eksodus 20. Vandag se fokusteks is baie moeilik vir kinders. Jy kan daarby aansluit deur te fokus op vergifnis en tweede kanse. John Stevens leer hier vir ‘n mens hoe om ‘n stou te knoop en te knip, sodat dit na die tyd lyk asof die tou weer heel is. Hy gesels oor sonde en knoop die tou vir elke sonde. Dit breek die verhouding – knip die tou. Maar God herstel dit. Jy sal ‘n paar keer moet oefen, maar dis ‘n baie treffende beeld! Jy kan ook die gedagte van tweede kanse tuisbring deur vir ‘n paar vrywilligers ‘n baie moeilike taak te gee, soos bv om ‘n balletjie in ‘n koppie te gooi. Dan gee jy hulle ‘n paar kanse om te probeer. Skuif uiteindelik die beker nader om dit makliker te maak. Terwyl hulle probeer, kan julle gesels oor hoe ons verkeerd doen, maar God vir ons nog kanse gee. Of sluit aan by die hoeksteen. Speel iets soos Jenga en gesels oor hoe belangrik ‘n stewige fondament is. ‘n Mens kry deesdae groot Jenga-stelle, of maak ‘n stel met groot, gelyk houtblokke. Hier is ‘n inkleurprent van ‘n wingerd.
Jesus vertel hierdie gelykenis in die laaste week van sy bediening voor sy kruisiging. Die konflik tussen Hom en die Joodse godsdienstige leiers bereik ‘n hoogtepunt in hierdie week. In hierdie situasie word die gelykenis eintlik ‘n profesie van Jesus se sterwe op aandrang van die Joodse leiers. Matteus 21:33-46 word simbolies soos volg verstaan:
- Die grondbesitter/eienaar van die wingerd is God
- Die wingerd is die nasie Israel
- Die boere/huurders is die mense van Israel
- Die slawe is die profete
- Die seun is Jesus
- Die ander huurders is heel moontlik die kerk.
Matteus beklemtoon nog meer as Lukas en Markus dat die bedreiging van die geloofsgemeenskap nie net van buite af kom nie, maar uiteindelik van binne af – die bedreiging kom van diegene van wie jy dit die minste verwag. Van mense wat leiding neem in die geloofsgemeenskap, maar op verraderlike manier hulle vergryp aan die voordele van die geloofsgemeenskap net vir eie gewin en dié vervolg wat die Here en sy woord ernstig neem – dws wat vrug wil dra en aan die Here self wil offer. Dit is egter ‘n versoeking om te dink die gelykenis gaan net oor ander mense – die leiers van destyds, of gemeenteleiers vandag wat ontrou aan die Here geraak het. Nee, die gelykenis gaan ook oor myself. Die vraag is ook of ek die gesag van die Here erken en leef soos Hy dit wil hê. Dit beklemtoon dat my deelname aan die gemeentelewe dikwels kan gaan oor my eie voordeel in plaas van oor die navolging van die Eienaar. Maar, die gelykenis skets nie net die bedreiginge nie. Dit skets ook die voorsiening van die Here wat die einste klip wat verwerp word, die belangrikste een in die wingerd maak. Die gevare wat leierskap baie keer vir die geloofsgemeenskap inhou, kan nie uiteindelik die krag van die hoeksteen, Jesus, troef nie. Elkeen wat Hom teenstaan, sal vermorsel word in die oordeel van God. En elkeen wat hulle aan Jesus onderwerp, sal vrug dra in sy koninkryk. Ek moet weet dat ek aan hierdie Eienaar behoort. Alles wat ek is en het. Daarom moet ek myself en elke terrein van my lewe, ook elke besitting waaroor ek beskik, konstant teruggee aan die Here en onder sy heerskappy plaas.