Matteus 5:1-12 – 29 Januarie
Vierde Sondag na Epifanie
The catawampus cat is ‘n boek deur Jason Carter Eaton en vertel die storie van ‘n kat wat na die een kant toe geleun en só geloop het, en hoe dit die hele dorp gehelp het om anders na die lewe te kyk. Hanna Shock vra aan die begin van haar webjoernaal (blog): “Is Christ catawampus?” Kry dit by hierdie skakel. Dit sluit mooi aan by Matteus 5 en 1 Korintiërs 1.
Die saligsprekinge is die inleiding tot Jesus se Bergrede (Matt 5–7). Dit is ‘n teks wat uitnooi en afstoot, inspireer en repudieer, troos en vermaan. Bo alles laat die Bergrede die vlam van hoop vir nuwe mense in ‘n nuwe wêreld brand. Reg aan die begin van sy preek maak Jesus dit duidelik dat geloof sonder navolging, vroomheid sonder dissipelskap nutteloos is. Die eintlike dinamiet van die saligsprekinge lê in die vreemde geluk wat belowe word aan mense wat ons nie juis as gelukkig beskou nie. Die armes, treurendes, sagmoediges, vredemakers, mense wat terwille van Christus vervolg en beledig word; ja, diegene wat in die hoek sit waar die klappe uitgedeel word. Hulle is volgens Jesus die werklik gelukkiges, die geseëndes. Die onuitspreeklike troos is dat Christus, wat deur sy Gees in ons woon, hierdie radikale gehoorsaamheid van ons vra. Die saligsprekinge is nie “the seven habits of highly successful people” nie. Dit is eerder beloftes aan mense wat in ons oë juis nie suksesvol is nie, wat sukkel om reg te kom in die lewe en daarom hul lewe en geluk by die Here soek. Dit is beloftes van ons hemelse Vader wat in Matteus 6:33 sê: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God en Hy sal julle al die ander dinge gee.”
Laai af: Word – PowerPoint