Handelinge 17:22-31 – 14 Mei
Sesde Sondag van Pase
Met Familietyd vertel die storie “MIETJIE SOEK HAAR MA” deur PD Eastman. Wanneer die voëltjie Mietjie uit haar eier kom, is sy alleen. Sy begin ‘n reis op soek na haar ma – en vra vir alles en almal of hulle haar ma is. Paulus vertel vir die mense in Atene van Jesus. Hy sê God het ons so gemaak, dat ons soos Mietjie wat haar ma soek, altyd vir God soek. Of, gebruik Carolyn Brown se voorstel, met die prentjie van blinde mense wat almal ‘n olifant verskillend beskryf, vanuit hul beperkte perspektief.
Die preekriglyn begin met Paulus wat in Atene is waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus en sy boodskap. Atene was destyds ‘n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ‘n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is. Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd. Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur. Soos Lukas dit hier stel: “Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.” Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. En hy begin in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te praat en later ook met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Nog later ook by die Stoa Poikile, ‘n pilaargang op die Areopagus wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die manne wat kan praat, bymekaargekom het. En die hart van sy boodskap is dit. God: “roep alle mense oral op om hulle te bekeer.” Dit is in ‘n neutedop die boodskap wat die Here ook vandag vir ons het.