Eksodus 32:1-14 – 11 Oktober

Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel die verhaal van die goue kalf op dramatiese manier. Maak ’n goue kalf van klei met die kinders. Gebruik gekoopte klei of maak klei met die ingeslote resep. Daar is ook grafika beskikbaar. Die preekriglyn werk met die invalshoek van “gevulde stilte.” In teenstelling met die geraas en rumoer van die lewe, is daar ‘n soort stilte wat welkom en aangenaam is. Dit is ‘n gevulde stilte wat kos vir ‘n mens se siel is. Dit is die soort stilte wat soms tussen mense kom lê wat mekaar jare reeds ken, ‘n stilte gevul met teenwoordigheid, aanvaarding en begrip. Die teenwoordigheid van God, bring ook hierdie soort stilte in ‘n mens tot stand. Teenoor hierdie stilte in die teenwoordigheid van God, is daar ‘n ander soort stilte … ‘n “wostyn stilte.” Wanneer God skynbaar afwesig is en sy Woord “skaars”. Dan ontstaan daar ‘n stilte wat later onuithoudbaar word. Hier in Eksodus 32 lees ons hoe Moses vir die volk “verdwyn” het. Die woestynstilte begin algaande om die volk te versmoor. Daarom maak hulle self ‘n plan om die woestynstilte te verdryf, om die leegte wat Moses se weggaan gelaat het, te vul. Hulle beplan ‘n fees! Hulle wil hulle vrees met ‘n godsdienstige fees verdryf. As deel van die feestelike spel, het die volk ook die berugte goue kalf gemaak. “Maak vir ons ‘n god dat hy ons kan lei,” sê hulle vir Aäron …

Laai af: Word – PowerPoint

Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20 – 4 Oktober

Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Hier is oulike prentjies waarmee jy die Tien Gebooie grafies kan uitbeeld en vir kinders verduidelik. Daar is groter kleur weergawes en ook kleiner weergawes wat kinders tydens die preek sou kon inkleur. Algoa Gemeenskapskerk het ‘n video wat vir jou verduidelik hoe jy die gebooie met handgebare kan memoriseer – ‘n prettige, deelnemende manier om die Skriflesing te benader! Of loer na hierdie emoji-speletjie, ook van Algoa Gemeenskapskerk. Eksodus 20 staan in die hart van ons verstaan oor wie God is en wie ons is. Hierdie hoofstuk is nie net verre geskiedenis of die notule van ‘n antieke vergadering nie. Mens kan sê dit is ons geskiedenis, die verhaal nooi ons in om te kom deelneem aan hierdie groot moment in God se vorming van God se mense. Ons kan as’t ware in die verhaal inklim as deelnemers. Dit is ons wat daar by Sinaiberg staan en na God se woorde luister. Ons is karakters in die verhaal. Dit is ons wat God in hierdie gebeure beter leer ken. Dit is ons wat beter leer verstaan wie ons is. Dit is nie net God en Moses wat hier in gesprek is nie. Dit is God en elke dissipel van Jesus. Ons leer in hierdie gedeelte: Wie God is,  Hoe God optree, Wie ons is, en Hoe ons geroep is om op te tree.

Laai af: Word – PowerPoint

Eksodus 17:1-7 – 27 September

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik meegaande kunswerk as visuele medium en vertel gewoon die storie van Moses wat die rots slaan dramaties vir die kinders. Probeer om by kinders te hoor om emosies raak te sien in die gesigte van die mense rondom Moses- gegewe dat die volk Moses (en God) verwyt het vir hulle situasie in die woestyn. Watter emoji’s pas by die mense? Die preekriglyn val weg met die vraag of die Here by ons is of nie? Miskien het almal van ons al dié vraag in een of ander vorm in ons lewe gevra. Israel vra die vraag omdat alles wat hulle op hierdie moment ervaar, op die teendeel dui: mans, vroue, kinders en diere in die skroeiende woestynson, met geen water in sig nie. Hulle is in dié situasie omdat Moses hulle oortuig het dat Jahwe, die God van Abraham, Isak en Jakob vir hulle omgee en ‘n nuwe toekoms wil bied. Nou begin hulle daaraan twyfel, want nie eers die mees basiese van hulle lewe, water, is beskikbaar nie. Hierdie kort verhaal belig God se leierskap, die aanhoudende menslike gekla, en die onvergelyklike meelewing van God wat die onderhoudende elemente van die skepping vir Israel ontsluit.

Laai af: Word – PowerPoint