Handelinge 7:55-60 – 7 Mei

Vyfde Sondag van Pase

Vra vir die kinders wie van hulle weet wat ‘n martelaar is? Ja, dit is iemand wat gemartel word omdat hy of sy glo. In die geskiedenis van die kerk was daar baie Christene wat gemartel is net omdat hulle in Jesus glo! Sommige van hulle is in ‘n arena gesit saam met leeus. ‘n Arena is amper iets soos ons rugbystadions. In die middel was daar ‘n oop gedeelte en rondom baie sitplekke vir die toeskouers. Die mense het dus gesit en kyk hoe die leeus die Christene verskeur. Dit is verskriklik wreed, nè?

Dink julle daar is vandag nog mense wat vir hulle geloof in Jesus gemartel word? Mens kan dit amper nie glo nie, maar daar is nog steeds martelare! Een van die plekke waar dit redelik onlangs nog gebeur het, was Soedan, in die noorde van Afrika. Die regering was onder die beheer van Moslems en hulle wou die Christene uitroei. Daar was ‘n lang burgeroorlog tussen die groepe – vir 22 jaar lank (van 1983 tot 2005). Twee en ‘n half miljoen mense is doodgemaak. Helfte van hulle was van die Episkopaalse kerk. Baie kerkleiers is uitgesonder en het ‘n marteldood gesterf. Ten spyte van hierdie wrede vervolging, het die Christendom verstommend gegroei. In 1983 was net 5% van die bevolking in die suide van Soedan Christene. Vandag is meer as 85% van die ses miljoen mense daar Christene.

Dit is waaroor vanoggend se preek ook gaan. Ons gaan bietjie gesels oor die verhaal van nog ‘n martelaar. Sy naam was Stefanus. Hy het in Jesus se voetspore gevolg en daarom is hy gestenig. Hulle het hom met klippe doodgegooi… (Verhaal oor Soedan aangehaal uit Ewald van Rensburg se boek: God seën Afrika, Lux Verbi 2009, bl 67-69.)

Die preekriglyn sluit aan by Paastyd. Ons is besig om na te dink oor die betekenis van Jesus se lewe, sterwe en opstanding uit die dood. Vandag ontmoet ons vir Stefanus, iemand wie se gedrag in die aangesig van die dood radikaal verander is deur die lewende Here Jesus Christus. Wat hoor ons vandag as ons hierdie gedeelte oordink? Die Leesrooster vir lidmate som die boodskap van hierdie gedeelte aangrypend op deur vir momente te onderskei:

Moment 1: Anders kyk

Stefanus sien ‘n ander realiteit raak. Dit is juis hoekom die mense hom wil stenig. Hy konformeer nie met die samelewing se tradisies en idees om beheer deur politici te verseker nie. Hy kies doelbewus om God te volg. Dit is veral duidelik in sy laaste woorde: “Here Jesus, ontvang my gees!” (v 59). Ten spyte van die mense se haat bid Stefanus vir hulle. Hy gebruik ‘n Joodse slaaptydgebed en bid: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (v 60). Dit is ‘n sterk herinnering aan geloof in die ewige lewe. Hy sien die opgestane Heer!

Moment 2: Om vol te wees van die Heilige Gees

Stefanus word beskryf as iemand wat vol is van die Heilige Gees. So vol dat daar nie nog plek is vir iets anders nie. Dink jou dit in! Daar word ‘n parallel getrek met Jesus. Stefanus doen wat van hom verwag is, maar die mense het nie verstaan nie. Net soos met Jesus wou hulle hom dood hê. Hulle sien dat iets anders is, maar die konfrontasie met iemand wat lewe en die waarheid praat, bring die lelikste in hulle uit. Laat die Gees toe om jou te verander en te vorm om meer soos Jesus en minder van die eie ek te wees.

Moment 3: Onverklaarbaar

Die Afrikaanse spreekwoord lui: Die waarheid maak seer. Stefanus se opponente skreeu en bedek hul ore. Hulle is woedend. Hulle toon ‘n rou haat teenoor iemand wat hulle nie ken of verstaan nie. Dit sou sin maak as Stefanus so reageer, want dit is dan hy wat gestenig word, nie hulle nie! Die haat loop oor as hulle ‘n klip optel en hom doodgooi. Om Jesus te volg maak ons nie immuun teen seerkry nie. Om die regte ding te doen is nie sonder gevolge nie, maar ons kan nie anders as om op te tree volgens die Gees nie.

Moment 4: God is vir jou

Die Gees van God is by Stefanus, nie teen hom nie. Dikwels voel dit of God nie regtig aan ons kant is nie. Dinge gebeur wat nie moet nie. In ‘n oomblik waar ons absolute angs en paniek sou verstaan, ervaar Stefanus egter die glorie van God. Hy sien Jesus aan die regterkant van God staan. Die posisie dui die belangrike plek van Jesus aan, maar ook dat God die heerser is oor die heelal. Jesus staan, Hy sit nie, soos ons gewoonlik in die Evangelies lees nie. Dit dui op Jesus se gereedheid om Stefanus te verwelkom en om as sy advokaat op te tree.

Met ‘n teks soos hierdie op ons harte ingegraveer kan ons die lewe aanpak.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui