Romeine 9:1-5 – 6 Augustus

Tiende Sondag in Koninkrykstyd

Herinner almal aan Paulus se lewensverhaal.  Hy was ’n ywerige Jood wat aanvanklik die Christene vervolg het.  Toe gryp Jesus in en verander sy lewe! (Vertel die verhaal van Paulus se bekering.) Gesels oor mense wat nie vir Jesus dien nie.  Wees egter baie versigtig – onthou, kinders dink baie letterlik!  Gesels met hulle daaroor dat Jesus enige iemand kan verander.  Bevestig dat ’n mens kan bid vir mense.  Begelei kinders om vir spesifieke groepe of mense in gebed in te tree.

Ons teks vir die preekriglyn, Romeine 9:1-5 vorm die inleiding tot die drie hoofstukke (9–11). Opsommend kan ons sê die gedeelte handel oor die intense droefheid wat Paulus ervaar oor die feit dat die meeste van sy volksgenote nie in Jesus Christus glo nie, ten spyte van die bevoorregte posisie wat hulle in God se geskiedenis met mense beklee. Die dilemma is dat die Jode strykdeur die voorrang geniet het in die verlossingsgeskiedenis waarop die evangelie gegrond is. Die oorgrote meerderheid Jode het hul rug op Jesus gekeer. En vir Paulus stel dit die hele evangelie wat hy verkondig in gevaar. Mense sou daaruit die gevolgtrekking kon maak: God se woord, God se beloftes het gefaal. Dit wat God belowe het, word nie ‘n werklikheid nie. Dit sou immers beteken: As God se beloftes aan Israel nie waar geword het nie, kan ‘n mens ook nie al God se ander beloftes vertrou nie. Die hele betoog in Romeine 9–11 stuur af op die konklusie dat God steeds getrou bly aan sy beloftes. God faal nooit om te doen wat God belowe het nie. Ook teenoor Israel. God bly selfs genadig teenoor diegene wat sy genade verwerp. Sy gawes is onherroeplik.

Ons word geroep om ook so passievol te wees. God se medewerkers deel God se passie vir weerbarstige mense wat op baie maniere deel gehad het aan God se goedheid en genade en dit eenvoudig nie wil erken nie. God gee nie op as sy eie mense hul rug vir Hom draai nie, en sy medewerkers moet God daarin navolg.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui