Romeine 4:1-5, 13-17 – 5 Maart

Tweede Sondag van Lydenstyd

Sing met Familietyd die liedjie “Vader Abraham het baie seuns” – of die Engelse weergawe, met bewegings en al. Carolyn Brown het ‘n pragtige voorstel. Sy suggereer dat jy almal herinner dat God Abraham nie liefhet omdat hy gehoorsaam was nie. God het hom lief gehad nog lank voordat hy gehoorsaam was. Dan stel jy voor dat jy hartjie-plakkers op almal se hande plak om hulle te herinner dat God hulle liefhet. Net soos Abraham gehoorsaam ons nie vir God sodat God ons sal liefhê nie. Ons gehoorsaam vir God omdat ons vir God lief is. Lees gerus haar gedagtes! Met die prediking self kan steeds aangesluit word by die Familietyd liedjie. Die meeste van ons ken hierdie liedjie baie goed. Dit is die waarheid en oproep wat Paulus by die eerste lesers van sy Romeinebrief wil tuisbring. Onthou, dit was nie vir die gelowiges aan wie Paulus skryf maklik om gehoor te gee aan die oproep om (sáám) die Heer te loof nie, want die waarheid dat hulle álmal kinders van Abraham is, het nog nie behoorlik by hulle tuisgekom nie. In Paulus se tyd (soos vandag) was eenheid tussen gelowiges ‘n groot uitdaging. Daarom het Paulus nodig om in hoofstukke 12–16 die gelowiges te vermaan om:

  • dié te vermy wat tweedrag en aanstoot veroorsaak (16:17), mekaar te aanvaar, soos Christus hulle ook aanvaar het, tot eer van God (15:7), sonder om met mekaar te stry (14:1) of mekaar te veroordeel oor verskillende opvattings (14:13);
  • hulle eerder te beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (14:19);
  • aan die naaste te dink; aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou (15:2), en veral hoe almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus (15:6) as ‘n geloofsgemeenskap wat eensgesind onder mekaar is soos Christus Jesus dit wil hê (15:5).

Hierdie dinge gebeur wanneer mens jou lewe volledig aan God oorgee en vanuit Christus te leer dink.

Die oorgawe van 12:1 (om ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer te wees) en die transformasie van 12:2 (om nie aan hierdie wêreld gelykvormig te wees nie, maar te verander en vernuwe te word ooreenkomstig die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God) realiseer sodoende in die lesers se lewe. Dan slaag Paulus in die doel van sy skrywe (15:15) sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees (15:16).

Daarvoor het God vir Abraham “… die vader van baie nasies gemaak. Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord” (Rom. 4:17, 1983/1992-vertaling).

Laai af: WordPowerPoint

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

%d