Sleuteltekste 2020-21

Hier is die Sleuteltekste vir die kerkjaar 2020-21. Dit vorm die basis vir die 24ste uitgawe van Woord en Fees (voorheen bekend as Preekstudies met liturgiese riglyne). Dit kom ook vanjaar in ’n nuwe formaat. Bybel-Media stel dit elektronies beskikbaar. Jy sal dit vind by Missio.org.za.

Op plekke is die Revised Common Lectionary opsy geskuif om plek te maak vir wat die opstellers meen toepaslike temas en tekste vir hierdie tyd van Covid-19 is. Die uitgangspunt is steeds om sover moontlik aan die hand van die tekste van die Revised Common Lectionary en die ritme van die seisoene van die kerklike jaar kreatiewe voorstelle vir prediking én liturgie aan te bied.

Laai af: WordExcel

Josua 3:7-17 – 1 November

Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Daar is ‘n oulike Kinderbybel-video van vandag se Skriflesing ingesluit. Jy kan die Skrifgedeelte ook opvoer met 12 mans wat groot klippe in die paadjie af dra en voor in die liturgiese ruimte neersit. Dan kan jy gesels oor die dinge wat ons help om te onthou – ons eie stories, ons families se stories, God se stories met ons. Of gesels oor die Ark, miskien met ‘n model om dit visueel uit te beeld. Ingesluit is ‘n eenvoudige patroon wat ook vir die kinders as afdrukke gegee kan word om elk self so ‘n model te maak. Die preekriglyn skop af met hierdie jaar van onsekerheid, 2020. Mens het die aanvoeling dat dinge nie sommer weer gaan wees soos dit was nie. Iets groots het verander. Maar hoe dinge vorentoe gaan lyk, dit weet ons nie verseker nie. In sulke tye is mens meer sensitief en oop vir mense wat voorheen in groot oomblikke van oorgang was. Ons teks is ‘n voorbeeld hiervan. Die Israeliet was slawe in Egipte. Die Here het hulle onder Moses bevry en hulle in die woestyn tot sy volk gevorm. Nou is Moses weg en moet hulle die beloofde land, ‘n nuwe toekoms , onder nuwe, onbekende leierskap binnegaan. In Josua 3 moet God se volk die grens oorsteek na ‘n nuwe toekoms. Die ou sekerhede val weg, want daar is ‘n nuwe, onsekere leierskap. Daar is egter ‘n nuwe sekerheid, die brose, onmagtige teken van die Here se magtige leiding.

Laai af: WordPowerpoint

1 Tessalonisense 2:1-8 – 25 Oktober

Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Lees uit Matteus 22 die opsomming van die Wet uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Om te wys hoe slim Jesus geantwoord het toe die wetskenner Hom probeer uitvang het, maak gebruik van die Tien Gebooie. Druk elke gebod op ’n A4-bladsy uit en gebruik twee groot skerms/blaaiborde/mure met die opskrifte: “Liefde vir God” op die een en “Liefde vir mense” op die ander. Vra die kinders om jou te help om die Tien Gebooie te sorteer volgens hierdie twee opskrifte sodat hulle (en die gemeente) kan sien dat Jesus se Groot Gebod nie ’n nuwe idee in die Nuwe Testament was nie, maar van die begin af God se plan vir die mensdom en ons verhouding met God was. Paulus skryf 1 Tessalonisense na aanleiding van ‘n verslag wat hy oor die gemeente in Tessalonika ontvang het. Daar is rede om te glo dat dit die heel oudste Christengeskrif is waaroor ons vandag beskik. Met die skryf van die brief teen die einde van 50 nC, vestig Paulus ‘n patroon vir die uitdra van die evangelie wat vir hom algemeen word. Hy besoek ‘n strategies geleë dorp of stad met sy metgeselle, en vestig daar ‘n geloofsgemeenskap met wie hy dan deur gesante en briewe kontak hou. Die verslag wat hy wat Timoteus na sy besoek aan Tessalonika ontvang het, het daarop gedui dat die gelowiges in Tessalonika uiters swaar gekry het. Een van die redes hiervoor was dat Paulus as hulle stigter deur hulle teenstanders daarvan beskuldig is dat wat hy hulle geleer het, vals was, dat hy onbetroubaar was en dat hy bloot vanweë sy eie gierigheid opgetree het. Die feit dat hy en Silas so vinnig uit Tessalonika moes vlug, het hulle uiters kwesbaar gemaak vir die beskuldiging dat hulle iets gehad het om weg te steek. Daarom beklemtoon Paulus sowel hulle eie persoonlike integriteit as die betroubaarheid van hulle boodskap in 2:1-12. In die antieke wêreld was daar allerlei rondreisende filosowe en predikers wat vir suiwer geldelike gewin nuwe godsdienste of idees verkondig het. Paulus wil dit duidelik maak dat sy bediening nie soos hulle s’n was nie.  In 1:5 het Paulus reeds na “ons evangelie” verwys, om daardeur dit duidelik te maak dat die evangelie nie iets was wat vir hulle net van teoretiese belang was nie. Dit het hulle persoonlik geraak. Daarom probeer hulle nie die guns van mense bekom nie, maar eerder in gehoorsaamheid aan God optree (2:4). Ons moet dus oor onsself vra of ons self gevorm is deur die boodskap wat ons verkondig, en of ons leef vanuit die wete dat God ons harte deurgaans deursoek.

Laai af: WordPowerPoint

1 Tessalonisense 1:1-10 – 18 Oktober

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Die familie-oomblik kan baie lekker by die inleiding van die preek aansluit. Laat kinders vertel wie hulle bewonder, wat hulle in daardie persoon bewonder en wat hulle wil “namaak” – op watter maniere hulle soos daardie mens wil wees. Iewers tussendeur – of dalk die hele tyd terwyl julle gesels – kan julle jul eie weergawe van “Simon Says” speel.  Simon Says werk so:  die voorganger sê “Simon Says” en sê ‘n aksie en voer dit terselfdertyd uit.  Al die ander moet dit dan ook doen.  Iewers langs die pad sê die voorganger nie “Simon Says” nie, maar gee bloot ‘n opdrag van ‘n aksie en voer dit uit, bv:  “vat aan jou kop”.  Die truuk is dat jy net die opdrag moet volg as daar eers gesê is “Simon says”. As daar nie “Simon says” gesê is nie, en jy voer steeds die opdrag uit, is jy uitgevang! Verbind dit aan die gedagte van voorbeelde en wie se voorbeelde ons volg – dikwels sonder om te dink. Die preekriglyn sluit by die verandering wat Sosiale media aan ons wêreld gebring het. Aangesien hierdie platforms mense aan mekaar verbind, is dit ook maklik om te sien wie het die meeste volgelinge. Veral ‘n platform soos Twitter, wat onbeperkte direkte toegang tot profiele gee, het megasterre geskep. Die krag van hierdie persoonlikhede en profiele lê daarin dat mense met hulle identifisieer en die lewe waarskynlik soos hulle sien. Mense is wesens wat naboots. Mens sien op sosiale media hoe groot die krag van nabootsing is. Die invloed wat voorbeelde op persone kan hê, speel vandag steeds ‘n belangrike rol, ook in die vorming van gelowiges se denke. Die tekens van hierdie sosiale druk en onderdrukking is verrassend genoeg ook duidelik in 1 Tessalonisense te bespeur wanneer Paulus skryf: “In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom” (1:6). Ons lees in Handelinge 17 hoe Paulus die evangelie die eerste keer in Tessalonika verkondig het. ‘n Betoging het ontstaan en die hele stad het in verset teen Paulus en Silas in beroering gekom. Dit lei daartoe dat die gelowiges Paulus en Silas in die nagdonker liewer uit Tessalonika wegstuur. So, waarom het die Tessalonisense weggedraai van vals afgode en begin om die ware God te dien (9)? Dit is waaroor hierdie teks dan gaan om ons op te roep om sterk te staan vir die evangelie en ‘n voorbeeld vir ander te word.

Laai af: WordPowerPoint

Eksodus 32:1-14 – 11 Oktober

Negentiende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel die verhaal van die goue kalf op dramatiese manier. Maak ’n goue kalf van klei met die kinders. Gebruik gekoopte klei of maak klei met die ingeslote resep. Daar is ook grafika beskikbaar. Die preekriglyn werk met die invalshoek van “gevulde stilte.” In teenstelling met die geraas en rumoer van die lewe, is daar ‘n soort stilte wat welkom en aangenaam is. Dit is ‘n gevulde stilte wat kos vir ‘n mens se siel is. Dit is die soort stilte wat soms tussen mense kom lê wat mekaar jare reeds ken, ‘n stilte gevul met teenwoordigheid, aanvaarding en begrip. Die teenwoordigheid van God, bring ook hierdie soort stilte in ‘n mens tot stand. Teenoor hierdie stilte in die teenwoordigheid van God, is daar ‘n ander soort stilte … ‘n “wostyn stilte.” Wanneer God skynbaar afwesig is en sy Woord “skaars”. Dan ontstaan daar ‘n stilte wat later onuithoudbaar word. Hier in Eksodus 32 lees ons hoe Moses vir die volk “verdwyn” het. Die woestynstilte begin algaande om die volk te versmoor. Daarom maak hulle self ‘n plan om die woestynstilte te verdryf, om die leegte wat Moses se weggaan gelaat het, te vul. Hulle beplan ‘n fees! Hulle wil hulle vrees met ‘n godsdienstige fees verdryf. As deel van die feestelike spel, het die volk ook die berugte goue kalf gemaak. “Maak vir ons ‘n god dat hy ons kan lei,” sê hulle vir Aäron …

Laai af: WordPowerPoint

Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20 – 4 Oktober

Agtiende Sondag in Koninkrykstyd

Hier is oulike prentjies waarmee jy die Tien Gebooie grafies kan uitbeeld en vir kinders verduidelik. Daar is groter kleur weergawes en ook kleiner weergawes wat kinders tydens die preek sou kon inkleur. Algoa Gemeenskapskerk het ‘n video wat vir jou verduidelik hoe jy die gebooie met handgebare kan memoriseer – ‘n prettige, deelnemende manier om die Skriflesing te benader! Of loer na hierdie emoji-speletjie, ook van Algoa Gemeenskapskerk. Eksodus 20 staan in die hart van ons verstaan oor wie God is en wie ons is. Hierdie hoofstuk is nie net verre geskiedenis of die notule van ‘n antieke vergadering nie. Mens kan sê dit is ons geskiedenis, die verhaal nooi ons in om te kom deelneem aan hierdie groot moment in God se vorming van God se mense. Ons kan as’t ware in die verhaal inklim as deelnemers. Dit is ons wat daar by Sinaiberg staan en na God se woorde luister. Ons is karakters in die verhaal. Dit is ons wat God in hierdie gebeure beter leer ken. Dit is ons wat beter leer verstaan wie ons is. Dit is nie net God en Moses wat hier in gesprek is nie. Dit is God en elke dissipel van Jesus. Ons leer in hierdie gedeelte: Wie God is,  Hoe God optree, Wie ons is, en Hoe ons geroep is om op te tree.

Laai af: WordPowerPoint

Eksodus 17:1-7 – 27 September

Sewentiende Sondag in Koninkrykstyd

Gebruik meegaande kunswerk as visuele medium en vertel gewoon die storie van Moses wat die rots slaan dramaties vir die kinders. Probeer om by kinders te hoor om emosies raak te sien in die gesigte van die mense rondom Moses- gegewe dat die volk Moses (en God) verwyt het vir hulle situasie in die woestyn. Watter emoji’s pas by die mense? Die preekriglyn val weg met die vraag of die Here by ons is of nie? Miskien het almal van ons al dié vraag in een of ander vorm in ons lewe gevra. Israel vra die vraag omdat alles wat hulle op hierdie moment ervaar, op die teendeel dui: mans, vroue, kinders en diere in die skroeiende woestynson, met geen water in sig nie. Hulle is in dié situasie omdat Moses hulle oortuig het dat Jahwe, die God van Abraham, Isak en Jakob vir hulle omgee en ‘n nuwe toekoms wil bied. Nou begin hulle daaraan twyfel, want nie eers die mees basiese van hulle lewe, water, is beskikbaar nie. Hierdie kort verhaal belig God se leierskap, die aanhoudende menslike gekla, en die onvergelyklike meelewing van God wat die onderhoudende elemente van die skepping vir Israel ontsluit.

Laai af: WordPowerPoint

Eksodus 16:2-15 – 20 September

Sestiende Sondag in Koninkrykstyd

Vertel dalk die breër verhaal van die manna en kwartels. Ons sluit prente in kleur en swart en wit in waarvan kinders hul eie boekie van die verhaal kan maak. Daar is ook skakels na video’s wat jy kan gebruik. Vir die preekriglyn moet jy oorweeg om verse 1 tot 21 as teksgedeelte te hanteer. Ons is tans in koninkrykstyd, dié periode van die kerkjaar waarin ons spesifiek nadink oor:

  • God se heerskappy en heerlikheid, en
  • Ons reaksie as dissipels van Jesus op God se onderhoudende teenwoordigheid in die lewe van God se volk.

Hierdie temas deursuur ons teksgedeelte. Kom ons stap deur ons teks en let op alles wat gebeur. Dit is ’n boodskap wat ons nodig het in die tyd van stroping wat ons tans beleef. Mag ons daarin die aanmoediging hoor om die Here in alles te vertrou.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 18:21-35 – 13 September

Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Carolyn Brown stel voor dat jy ‘n sak vol munte/ albasters/ voorwerpe aan die eenkant maak, en slegs 1 objek (van dieselfde soort) aan die ander kant. Vertel nou die gelykenis/storie van Jesus. Die 2 persone in die storie se skuld kan vergelyk word met die 2 hoeveelhede wat jy saamgebring het. Die beginsel is dat Jesus ons leer om mense te vergewe wat ons te na kom. Eindig die gesprek met die Onse Vader waar pertinent na die vergewensgesindheid verwys word. ‘n Bekende prediker, Helmut Thielicke, het gesê die gevaarlike van oppervlakkige prediking en moralistiese praatjies oor die geestelike lewe is dat mense sal dink die evangelie wil van redelik ordentlike mense maar net nog ‘n bietjie méér ordentlik maak. Die goeie nuus van die evangelie is baie dieper as dit. Ons moet eerlik wees as ons daarna luister en die boodskap met ‘n oop gemoed ontvang.  Wat sê die gelykenis vir ons? Dat vergewensgesindheid in die aard van God gewortel is. Matteus beskryf verlossing as ‘n daad van genade wat nie op die voorwaarde van goeie werke berus nie. Hierdie verlossing, wanneer dit eg is, produseer medelye en genade. Dit is soos God is: barmhartig. Daarom moet ons ook so wees. Ons moet mekaar van harte vergewe. Die “hart” is daardie plek van waar ons voel en dink en wat ons dade bepaal. Dít is waar diep vergifnis vandaan moet kom, van ‘n plek wat spreek van integriteit, sonder om agter ‘n valse front te skuil en bloot eie belange te dien.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 18:15-20 – 6 September

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

John Stevens by dskidsermons.com sluit aan by Jesus se woorde: “waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Hy praat van die Amerikaanse “smores”. Dit is ‘n tradisionele kampvuur lekkerny. Jy maak ‘n “toebroodjie” van droë beskuitjies, met marshmallows en sjokolade binne-in. Dit word dan warm gemaak, om ‘n “smore” te maak. Stevens sê dat die beskuitjies, marshmallows en sjokolade lekker is, maar wanneer hulle saam is, is hulle beter. Dalk kan ‘n mens aan ‘n plaaslike ekwivalent dink? Stevens stel ook voor dat jy oorpluisies (ear plugs) gebruik – die soort wat klank uit jou ore uithou. As julle persoonlik ontmoet, kan jy vrae vra met pluisies in jou ore. Jy kan hulle nie hoor nie! Liefde is om na mekaar te luister. Carolyn Brown stel voor dat jy Charlotte Zolotow se “The Hating Book” lees. “[It] tells of a little girl whose best friend has suddenly dropped her.  The girl is very angry, but finally at her mother’s repeated urging, she goes to talk with the friend and discovers that there has been a big misunderstanding that is easily reconciled.” Jy kan die hele storie in ongeveer 3 minute lees. Preekriglyn: Konflik in die kerk. Dit klink na ‘n teenstrydigheid. Die kerk is tog ‘n plek waar vrede en harmonie is. Tog is (en was) dit nog nooit die geval nie. Die kerk is ‘n gemeenskap van mense. En mense maak mekaar seer. Indien ons dink daar moet te alle tye net vrede en harmonie in die kerk wees, vee ons maklik konflik onder die mat in. Juis dit benadeel verhoudings en maak dat vrede en harmonie moeilik bereik word. Die konflik waaroor dit in Matteus 18:15-20 gaan, ontstaan wanneer iemand ervaar ‘n medegelowige het iets teen hom of haar verkeerd gedoen. Hierdie persoon word opgeroep om die saak nie onder die mat in te vee nie, maar te gaan praat met die skuldige broer of suster. Indien die skuldige nie wil saamwerk nie, moet daar een of twee lede van die gemeenskap saamgeneem word (vgl Deut 19:15; 2 Kor 13:1; 1 Tim 5:19). As dit nie help nie, moet die saak onder die aandag van die hele gemeenskap gebring word en moet almal — nie net die benadeelde persoon nie — die oortreder “soos ‘n buitestander” hanteer. Maar, Calvyn het oor hierdie gedeelte gesê ons moet baie versigtig te werk gaan. Ons moet onthou waaroor dit gaan …

Laai af: WordPowerPoint