Die projek Preekriglyne het tot ‘n einde gekom

Dit was ‘n voorreg om vir amper 15 jaar riglyne te publiseer wat deur baie leraars en ouderlinge in gemeentes vir hulle eredienste gebruik is.

‘n Bietjie statistiek:

  • Elke maand hierdie jaar was daar gemiddeld 3 613 unieke besoekers, 5 716 besoeke, en ongeveer 22 342 bladsysigte van ons gebruikers.
  • Daar is reeds hierdie jaar 96 982 downloads gemaak van die hulpmiddels wat ons beskikbaar stel. Dit is 294 per dag!

Dankie vir B-Media wat dit moontlik gemaak het, en vir die span wat saam met my gewerk het:

  • Danie Mouton
  • Wicus Wait
  • Rethie van Niekerk

Groete en geseënde Kersfees

Chris van Wyk

Matteus 25:31-46 – 26 November

Ses en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Sondag in Christus

Gee ’n oorsig oor die Kerkjaar en verduidelik dat vandag Sondag van Christus die Koning is. (Koop ’n plastiek speel-kroon of tiara en sit dit op – sommer vir die pret.)  Hoor by die kinders hoe  hulle dink oor konings: wat doen ’n koning, hulle dink hulle moet ’n koning optree?  As ons sê Jesus is Koning, wat beteken dit?  Jesus wys sy koningskap deur te dien (noem voorbeelde). Die wat Jesus dien, doen dit deur soos Jesus op te tree en ander te dien:  mense wat alleen is, mense wat arm is, mense wat swaarkry.  Ons volg ons Koning deur soos hy op te tree:  noem praktiese voorbeelde van hoe kinders ander kan dien.

Hier in die aanloop tot Kersfees en al die welwillendheid wat daarmee gepaard gaan, het ons teks ‘n kragtige boodskap wat direk bou op die teenwoordigheid van Christus in ons lewens. Die sterk verbintenis tussen die oordeel en dade van welwillendheid benadruk juis die belangrikheid van ‘n geloofsverhouding met Christus wat in en deur dade van goedheid en omgee uitgebeeld en lewendig gedemonstreer word. Martin Luther het by geleentheid gesê: Die wêreld is vol van God. In alle stegies, voor jou deur, vind jy vir Christus. Moenie na die hemel gaan en sê: “Ag, as ek onse Here en God tog net kon sién, hoe sou ek Hom alle moontlike dienste bewys nie?” “As jy My wil dien,” sê die Here, “moenie onder die engele na My soek nie. Ek sal in jou huis kom, jy sal my honger en behoeftig sien, maak net jou oë oop. As jy My wil liefhê, betoon liefde aan jou naaste.” Ja, ons soek Hom waar Hy nie te vinde is nie. Hy het uit die hemel neergedaal, maar ons wil daarheen opstyg! Jesus kom elke dag na ons toe. Hy kom in soveel gedaantes en gestaltes, op ongeleë tye.  Die vraag is of ons Hom sal herken in die gedaante van die geringstes en gereed sal wees. Dit is die skarnier waarop die oordeel van God draai. Om Jesus te verwag en te herken, om Hom met alles in ons te dien, nie net privaat in ons binnekamer of in ons persoonlike lewe nie, maar na buite in die diens wat ons vir ander mense lewer, daartoe word ons in die profetiese rede opgeroep. Die rede hiervoor is dat Jesus kom om te oordeel. Sy oordeel sal vryheid en geregtigheid vir sommige beteken, dié wat met die verwagting van sy koms geleef en daarvoor gereed is. Vir ander sal dit veroordeling beteken, omdat hulle op die verkeerde golflengte ingeskakel was, nie ingestel op dit wat werklik saak maak nie, nie in diens aan God en hulle naaste gelewe het nie.

Laai af: WordPowerPoint

Matteus 25:14-30 – 19 November

Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Met Familietyd vertel gewoon die verhaal! Jy kan hierdie prente gebruik.  Hier is ‘n video wat ipv muntstukke sade gebruik. Jy kan ook hierdie craft gebruik om te gesels oor die gawes wat ons elkeen het. Laat kinders dan tydens die preek hul eie “sakkies” maak.

Die preekriglyn begin met die breër verband waarin die gelykenis voorkom om dit goed te verstaan. In Matteus 24–25 is Jesus se laaste groot toespraak opgeteken. Hierin praat Hy oor die tekens van die tye en sy tweede koms. Terwyl Hy oor sy tweede koms praat, gee Hy ook aandag aan die vraag oor wat in die tyd voor sy tweede koms moet gebeur. Die gelykenis oor die tien meisies in Matteus 25:1-13 wil byvoorbeeld hierdie vraag beantwoord. Dié gelykenis sluit in vers 13 af met die woorde: “Waak dan!” Wat beteken dit om te waak? Hoe moet daar gewaak word? Die gelykenis oor die goue muntstukke of talente, soos dit vroeër in Matteus 25:14-30 bekendgestaan het, wil hierop ‘n antwoord gee. Die antwoord is: Ons moet woeker met ons talente. Wat beteken dit? Wie is die ons waarop gesinspeel word? Wat is ‘n talent? Wat beteken dit om met ‘n talent te woeker?

Die punt van die gelykenis is in die eerste plek dat die dissipels wat hulle verantwoordelikhede nakom – die talente dui natuurlik ook op gawes – die Here se guns sal geniet en dié wat dit nie doen nie, sy gramskap sal ontvang. Tweedens beklemtoon Jesus betroubaarheid met die gelykenis van die talente. Die betroubares woeker met die “belegging” wat Hy in hulle gemaak het “volgens hulle vermoë”. Dié onbetroubares wat sy bedoeling met die belegging ontkrag het, sal dit egter ontgeld. Die gelykenis beklemtoon hoe belangrik dissipels se optrede en dade is. ‘n Dissipel het die regte oortuigings en glo in die Here. Maar ‘n dissipel leef ook hierdie verhouding uit deur te woeker met wat die Heer vir hom of haar gegee het. Dag vir dag. So kom die Here se koninkryk óók deur ons getrouheid.

Laai af: WordPowerPoint