Jeremia 28:5-9 – 2 Julie
Vyfde Sondag in Koninkrykstyd
John Stevens werk met die evangelie-teks en gesels oor hoe ons mense laat welkom voel – en hulle in Jesus se naam verwelkom. Gebruik ‘n “welkom”-matjie, of ‘n banier waarop “welkom” staan. Laat almal gesels oor dinge wat hulle laat welkom voel wanneer hulle op ‘n vreemde plek is. Verbind dit aan die evangelie-teks. In ons teks, Jeremia 28 (ons werk met die hele hoofstuk), is daar spanning tussen twee profete: Gananja en Jeremia. Die een verkondig ‘n positiewe boodskap wat die volk wil hoor, die ander een – Jeremia – ‘n moeilike boodskap van oordeel en lang swaarkry. Twee absoluut teenoorgestelde boodskappe wat vir ons wys dat die stryd tussen die twee profete ten diepste ‘n stryd tussen waarheid en valsheid is. En ons weet met die voordeel van tydsverloop dat Jeremia die waarheid gepraat het. Dit is egter maklik om vandag terug te kyk en te identifiseer wie ware en wie vals profete was. Ons het nie hierdie luukse om te onderskei wanneer ons na profete van ons tyd luister nie. Ons moet elke woord beoordeel en weeg. Uiteindelik gaan dit oor een belangrike beginsel: Roep hierdie boodskap mense op tot die nodige lewensverandering wat in hierdie situasie vereis word of nie? Ons moet in gedagte hou dat die oordeel en genade van God twee kante van dieselfde saak is. Oordeel is genade en genade kom tot uitdrukking in die oordeel: dit roep ons betyds op om te verander. Ons teks is dus ‘n oproep om aan die Here getrou te wees en nie die guns van mense te soek nie. Die uitkoms sal die waarheid van ons oortuiging bewys, al vat dit hoe lank.