Jesaja 40:1-11 – 6 Desember
Tweede Sondag van Advent
![](https://preekriglyne.co.za/wp-content/uploads/2020/11/Jesaja40_1-11b-300x225.jpg)
Op die tweede Sondag in Advent word die tweede Adventskers aangesteek. Dit simboliseer vrede. Hiermee bely ons dat Christus se koms vrede bewerkstellig. Tussen mense hier op aarde, maar ook tussen ons en God. In die eerste vers van Jesaja 40 kom God met ‘n opdrag dat sy volk wat in ballingskap is, getroos moet word (Engelse vertaling: “Comfort, comfort my people”). Hierdie woorde is bedoel vir die volk wat getwyfel het of God hulle nog wil en inderdaad kan red. God kom egter met die goeie nuus dat daar sagkens met sy volk gepraat word. Dat die pad reguit gemaak word. Nie bloot vir die ballinge om by die huis te kom nie, maar ook vir God om terug te keer Jerusalem toe. Hulle hoor dus dat God kan en wil red. Hierdie woord “troos” het egter nie bloot die betekenis van iemand wat jou optel en jou trane afvee nie. Dit beteken eerder om te bemoedig en te versterk. Ons kan dit aflei van die lettergreep “fort” in die Engelse “comfort” (Latyn: comfortare). Dit beskryf die krag om ‘n situasie te kan hanteer. Jesaja se boodskap van troos gaan dus om die bemoediging en sekerheid van God se hulp en krag. Dit word pragtig saamgevat in Jesaja se twee metafore vir God se betrokkenheid by die volk. Hy is die Kryger-Herder. En Hy is die magtig-deernisvolle Koning-Kind. Dit is twee metafore wat amper paradoksaal is. God kom as magtige kryger wie se mag die vertroue en sekerheid inboesem waarna die ballinge verlang het. Hy is sterker as die Babiloniese gode. Maar Hy kom ook as die Herder. Die een wat vertroos en beskerm en sagkens werk. Dit is waarin die boodskap ook vir ons lê in die voortslepende trauma van hierdie jaar. Ons wonder ook soms of God nog kán en wíl red. Ons voel immers oorweldig deur die nood en geweld in ons wêreld. Dit is waarom hierdie boodskap ook vir ons troos en versterk. Kyk, hier is jou God! Hy bring die vrede waarna jy met jou hele wese smag!