Jeremia 31:1-6 – 9 April

Paassondag Feesdiens

Ons vier die opstanding van die Here… Lees die teks uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Voltooi die leidrade (uit hierdie teks) van bo na onder om die sleutelwoord te identifiseer wat met die opstanding van Jesus gebeur het.

Ons teks uit Jeremia 31 openbaar God se karakter. God is dié Een wat nuwe dinge doen. Juda, die suidelike twee stamme van Israel,  is op hierdie stadium in ballingskap. Die noordelike tien stamme is reeds lank tevore in ballingskap weggevoer. Dit is weens God se oordele oor hulle volhardende sonde. Die boek Jeremia is vol oordeelsprofesieë. Tog ontmoet ons hier in hoofstukke 30 en 31 hoopvolle aankondigings van God se genade. God sal weer ‘n nuwe begin met die volk maak. Waarom begin die Here nuut met hulle? Slegs vanweë God se ewige liefde vir die volk en God se trou aan die volk.

Al die beloftes en bedoelinge van God waarvan die Ou Testament getuig, word in Jesus van Nasaret waar. Die Seun van God word mens omdat God se ewige liefde vir Israel nie geblus kan word nie. Hierdie ewige liefde spoel in Jesus wyer as net die etniese volk Israel. Dit is vir die hele wêreld bedoel, ‘n uitnodiging tot geloof.

Die nuwe begin wat God in Jeremia 31 beloof word in Jesus volkome waar. Dit word spesifiek op Paassondag volkome waar. Dit word waar wanneer die graf oopgaan en God uit die gebroke liggaam van Jesus nuwe lewe skep – anderkant die graf en anderkant die mag van sonde.

Dit is vir ons. Deur geloof in Jesus deel ons in hierdie nuwe begin wat God maak. Dit is ‘n duur begin. Dit kos die kruis. Dit is ook ‘n gratis begin, ons ontvang dit deur die leë hande van geloof. Deur geloof word ons nuutgemaak. Nou reeds. Terwyl ons steeds uitsien na die einde van die tye wanneer die nuwe begin in Jesus alles nuut sal maak, en God alles in almal sal wees.

Met Paassondag kom ons inderdaad by die feitelike hart van ons geloof staan. Die historiese feit van die leë graf, deur soveel getuies bevestig, werp lig op die hele Bybel en op al die dade van God. Alles maak sin vanuit die lig wat van die opgestane Jesus uitstraal.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui