Psalm 93 – 18 Mei

Hemelvaart Feesdiens

Lees die beskrywing van die hemelvaart soos in die NT vir kinders. Gebruik die onderstaande metafoor van bekendstelling…

Aan die begin van die jaar, wat saamval met die begin van die skoolkwartaal, het ‘n nuwe onderwyser by ’n skool aangesluit. Die skoolhoof het ruim tyd afgestaan om die nuwe personeellid te verwelkom. Hoe meer die skoolhoof oor die personeellid se goeie opleiding uitgewei het, sy besondere leierseienskappe, die vorige prestasies wat hy behaal het en ook oor sy drome vir die nuwe skool, hoe méér opgewondenheid was daar by die ander personeellede, die ouers en veral die kinders. Die personeel was dankbaar vir so ’n talentvolle kollega wat by hulle aangesluit het. Die ouers het ’n gerusstelling beleef dat hulle kinders deur ’n goeie onderwyser onderrig gaan word. Hulle kon nie wag om by die nuwe onderwyser in die klas te kom nie. Ander het uitgesien na sy sportafrigting, want hulle wou graag op sportveld presteer. Toe een van die leerlinge geleentheid kry om ’n welkomswoord namens die kinders oor te dra, het sy afgesluit met: “… ons skool is bevoorreg om een van die ‘coolste’ onderwysers te hê”. Die opgewondenheid het nog verder oorgespoel in die sing van ’n pragtige welkomslied vir die nuwe onderwyser. Hierdie onderwyser is besonder goed voorgestel aan almal met wie hy moes saamwerk. Ons skriflesing vandag kom uit Psalm 93. Dié skrifgedeelte stel die Koning van alle konings aan ons bekend. Die Here is Koning! Dié soort bekendstelling van die Here as die Koning gebeur ook in verskeie ander tekste in die Ou Testament. Die Nuwe Testament stel Jesus aan ons voor as Verlosser en lewende, opgestane Here, as die Een wat ook Koning van ons lewe wil wees. Jesus gee vóór sy hemelvaart verskeie opdragte aan sy dissipels. Hy verseker hulle dat Hy in die toekoms op ‘n spesiale manier by hulle teenwoordig sal wees. Dié boodskap gee aan hulle rede om baie opgewonde fees te vier. Die dissipels – en ons – moet sáám met Jesus die belangrike werk wat Hy hier op aarde begin het voortsit.

Vir die preekriglyn sluit ons uiteraard ook aan by Hemelvaart. Die Nuwe Testament beskryf Hemelvaart as die geleentheid waar die Here Jesus Christus aan die regterhand van die Vader gaan sit het om te heers oor hemel en aarde, hoog verhewe bo al die magte en kragte. Binne die Gereformeerde geloofstradisie, waarvan ons deel is, word Christus se hele bediening as’t ware terugskouend vanuit sy Hemelvaart verstaan. Die Seun van God, wat mens geword het, geleer, gelei en gesterwe het, en uit die dood opgewek is, het deur alles gegaan ter wille van ons, en sit hierdie bediening voort aan die regterhand van die Vader, vanwaar Hy sal kom om alles deur sy oordeel reg te stel. Hemelvaart lê aan die hart van ons geloof en in die sentrum van ons toekomsverwagting. Deur die leë hande van geloof en deur navolging kry ons deel aan die heil wat die Koning, Jesus Christus bring. Christus op die troon hou ons toekoms in sy hande. Dit is gepas om op ‘n dag soos vandag Psalm 93 te lees en te oordink.

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui