Jesaja 64:1-9 – 29 November
Eerste Sondag van Advent
Met die aanvang van Advent word die Adventskrans kers aangesteek wat hoop simboliseer. Uit die OT hoor ons in Jesaja 64:1-9 die Godsvolk se smeekgebed dat God hulle sal verlos. Dat Hy die berge sal skud in sy verskyning! Dat Hy tot ons redding sal verskyn, soos Psalm 80 dit liries beskrywe. Daardie hoop het in Christus ‘n werklikheid geword. Paulus verklaar aan die Korintiërs dat God in Christus Jesus met sy eerste koms ons reeds in alles ryklik geseën het (1 Kor 1:3-9). Markus verkondig daarby die Wederkoms van die Seun van die mens met groot krag en majesteit (Mrk 13:24-37). Ons weet nie wanneer dit sal wees nie, maar ons wag daarop dat Hy ons nie aan die slaap kry nie.
Vir Familietyd kan jy John Stephens se idee gebruik om met die kinders oor wag te gesels. Bring ‘n kaartjie waarop daar staan: “Moenie oopmaak voor Kersfees nie”. Gesels dan oor hoe ons wag op Kersfees. Verduidelik die simboliek van die Adventskrans sowel as die Adventskalender en moedig families aan om dit by die huis te maak, waarmee die weke en dae tot Kersfees afgetel kan word. Moedig die kinders ook aan om geskenke vir minderbevoorregte kinders te gee.
Met dít as inleiding kan jy dan met die preek aansluit by die afwagting en verlange na God se teenwoordigheid wat die eerste Sondag in Advent tipeer. Dit is die verlange waarvan ons in ons sleutelteks Jesaja 64:1-9 lees. Die profeet herinner daar die Here aan sy magtige dade in die verlede. En bid dat die Here weer met krag sal optree. Die berge sal skud en soos ‘n vuurvlam Homself aan die nasies sal bekend maak. En soos ‘n pottebakker die volk sal hervorm om aan Hom alleen te behoort. Sodat die heilige stad en die pragtige tempel weer as getuies van God se teenwoordigheid op aarde kan optree. “U is ons vader, Here!” Jesaja steek dus in ons die hoop aan dat God ook nou weer in ons eie kontekste Homself sal openbaar. Ons weet God se reddingswerk is reeds voltrek. Maar ons is ook maar té bewus daarvan dat dit nog nie voleindig is nie. Ons verwag God se teenwoordigheid, maar rondom ons sien ons die pandemie, ekonomiese verwoesting, en mense wat geweldig swaarkry. Ons vra: “Kom Here, kyk tog nou ‘n slag van die hemel af! Kom verander ons lot!” Hierdie gebed is nie triomfantelik nie. Dit spreek nie van selfvertroue in die “tussentyd” nie, maar van Godsvertroue. Dit ontken dus nie die noodkreet van ons lewe, ons wêreld en van die kosmos nie. Maar ons onthou wie die Pottebakker is. Ons Vader. Ons teks lei ons dus in 2020 die Adventstyd binne. Dit lei ons uit ‘n jaar van soveel ontnugtering, van Covid-19, van soveel swaarkry en soveel struweling op politieke sowel as kerklike terrein. Na die nuwe hoop wat net ons God kan bring.