Matteus 25:14-30 – 19 November
Vyf en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd
Met Familietyd vertel gewoon die verhaal! Jy kan hierdie prente gebruik. Hier is ‘n video wat ipv muntstukke sade gebruik. Jy kan ook hierdie craft gebruik om te gesels oor die gawes wat ons elkeen het. Laat kinders dan tydens die preek hul eie “sakkies” maak.
Die preekriglyn begin met die breër verband waarin die gelykenis voorkom om dit goed te verstaan. In Matteus 24–25 is Jesus se laaste groot toespraak opgeteken. Hierin praat Hy oor die tekens van die tye en sy tweede koms. Terwyl Hy oor sy tweede koms praat, gee Hy ook aandag aan die vraag oor wat in die tyd voor sy tweede koms moet gebeur. Die gelykenis oor die tien meisies in Matteus 25:1-13 wil byvoorbeeld hierdie vraag beantwoord. Dié gelykenis sluit in vers 13 af met die woorde: “Waak dan!” Wat beteken dit om te waak? Hoe moet daar gewaak word? Die gelykenis oor die goue muntstukke of talente, soos dit vroeër in Matteus 25:14-30 bekendgestaan het, wil hierop ‘n antwoord gee. Die antwoord is: Ons moet woeker met ons talente. Wat beteken dit? Wie is die ons waarop gesinspeel word? Wat is ‘n talent? Wat beteken dit om met ‘n talent te woeker?
Die punt van die gelykenis is in die eerste plek dat die dissipels wat hulle verantwoordelikhede nakom – die talente dui natuurlik ook op gawes – die Here se guns sal geniet en dié wat dit nie doen nie, sy gramskap sal ontvang. Tweedens beklemtoon Jesus betroubaarheid met die gelykenis van die talente. Die betroubares woeker met die “belegging” wat Hy in hulle gemaak het “volgens hulle vermoë”. Dié onbetroubares wat sy bedoeling met die belegging ontkrag het, sal dit egter ontgeld. Die gelykenis beklemtoon hoe belangrik dissipels se optrede en dade is. ‘n Dissipel het die regte oortuigings en glo in die Here. Maar ‘n dissipel leef ook hierdie verhouding uit deur te woeker met wat die Heer vir hom of haar gegee het. Dag vir dag. So kom die Here se koninkryk óók deur ons getrouheid.