Johannes 1:1-14 – 25 Desember

Kersfees

Betrek die kinders by die verwelkoming en/of gebruik hulle met die aansteek van die kerse en die voorlesings. Sally Lloyd Jones se “Song of the Stars” is perfek by vandag se diens.  Daar is ‘n skakel na ‘n video daarvan ingesluit. Met Kerstyd lees ons gewoonlik die verhale oor die baba Jesus, die engele, skaapwagters en wyse manne uit die Ooste. Dit is wonderlike, betowerende verhale. Tydloos. Die Johannesevangelie trek in sy inleiding egter as’t ware die gordyn weg en wys vir ons die geweldige betekenis van hierdie verhale. God is aan die werk. Die Lig kom na die wêreld. Die Skepper bring verlossing, die Herskepper besoek sy skepping. Johannes gaan dus terug agter die “begin” van die skeppingsverhaal. Genesis begin “by”, “met” of “in” die “begin”. Johannes gaan terug na die begin waar slegs God bestaan het. In hierdie begin was die Woord by God, en deur die Woord het alles wat geskep is, ontstaan of begin. Dit is die ware boodskap van Kersfees. In die baba Jesus, die Een wat sou opgroei en ons van God leer, die Een wat vir ons verlossing gebring het en namens ons uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel, is niemand anders as God wat in ons woonbuurt aangekom het nie. Dit is ‘n misterie en ‘n wonder. Niks kan ons van hierdie liefde skei nie. Met Kersfees verander alles. Daar is hoop. Hierin kan ons ons in die Kerstyd verlustig.

Laai af: Word – PowerPoint

2 Samuel 7:1-11, 16 – 20 Desember

Vierde Sondag van Advent

Op die vierde Sondag in Advent verskuif die fokus van vreugde na liefde.  Met kindertyd kan die kinders ‘n teksvers oor die liefde van God memoriseer. Dit sal vir die hele gemeente van waarde wees. Kies ‘n teksvers, dink bewegings vir elke woord van die teksvers uit en leer dit vir die kinders. Om by die teks vir die dag aan te sluit kan jy ook aansluit by die idee van kleiner kinders dat die kerk die huis van God is waar Hy woon. Toe Dawid vir die Here uit liefde ‘n kerk (tempel) wou bou, moes Dawid hoor dat God nie ‘n gebou nodig het nie. Dat Hy inderdaad alomteenwoordig is. God het sy liefde vir Dawid bewys deur vir hom ‘n huis te bou – dws goed te wees vir Hom en sy familie. Dit gee ‘n goeie inleiding vir die preek wat oor God se beloftes gaan. Ons teks beskryf die wonderlike belofte van God se voortdurende liefde vir Dawid, God se verbintenis aan Dawid en Dawid se dankbaarheid daaroor. Hierdie liefde en beloftes is nie net vir Dawid bedoel nie, maar ook vir sy nageslag. Dit is die moeite werd om die kenmerke van hierdie beloftes van God te bespreek. Dit dra ‘n boodskap vir God se gemeente in Adventstyd. God herinner Dawid in aan sy nederige begin as ‘n skaapwagtertjie vanwaar hy verhef is tot die posisie van Israel se koning. Dit sê vir ons dat God omgee vir almal. Die Here herinner Dawid aan die oorwinnings oor sy vyande. Dit bemoedig ons dat Hy ook vir ons in konflik en gevaar sal sorg. God herinner Dawid aan die rusplek wat Hy aan hulle in die land Kanaän gegee het. Dit sê vir ons dat Hy steeds konkreet vir sy mense sorg, ook vir jou. God gaan verder om ‘n nuwe belofte vir Dawid te gee, ‘n ewige koningshuis. In Jesus het ons nou ook deel van hierdie koninkryk geword. Die kern van hierdie nuwe belofte is dat een van Dawid se seuns die Seun van God sal wees. Dit is die vervulling van hierdie belofte in die geboorte van Jesus Christus, die Seun van God, wat ons in Advent vier. Dit is hierdie goeie nuus wat ons die moed gee om aan God te bly vashou midde in die slegte nuus van hierdie krisisjaar. Soos God sy beloftes vir Dawid waargemaak het, maak Hy dit ook in Jesus vir ons waar. Want al die beloftes in die Skrif is in Christus ook op ons van toepassing.

Laai af: Word – PowerPoint

Jesaja 61:1-4, 8-11 – 13 Desember

Derde Sondag van Advent

Op die derde Sondag in Advent word die derde Adventskrans, wat vreugde simboliseer, aangesteek.  Vir Familietyd kan jy die metafoor gebruik van ‘n potplant waarvan die blare hang. Wanneer ‘n mens water daaroor gooi, is dit sommer gou weer regop en mooi en lewendig. Op dieselfde manier gee die Gees van die Here vir ons nuwe krag en moed. Vers 3 van Jesaja 61 se simboliek sluit hierby aan. Die Here verander die verslae volk in: “Terebinte van Geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik.” Baie engelse vertalings vertaal mooi: “a crown of beauty instead of ashes.” ‘n Mens kan lekker daarby aansluit. Dit gee ‘n goeie oorgang na die preek. Goeie nuus in ons tyd is nogal skaars. En dié wat daar is, hou gewoonlik nie lank nie. Dit waai gou oor en al die slegte nuus oorspoel ons weer. Israel het ín die ballingskap na goeie nuus gesmag. Hulle was platgeslaan deur aanhoudende slegte nuus. Maar dan klink hierdie verrassende lied in Jesaja 61 op. Dit is goeie nuus wat van God self af kom. Dit is ‘n woord vir gebrokenes van hart. God sien die gebrokenes raak. Hy verstaan hulle. Hy bring vrylating vir die gevangenes. Hulle ontvang selfs ‘n nuwe naam: bome van redding. Dis ‘n beeld vir stabiliteit, vitaliteit en betroubaarheid. Gelowiges is die Here se dienaars wat bouend, helend en genesend in die samelewing moet werk. God se nuwe wêreld moet in nuwe mense, nuwe verhoudings en nuwe strukture sigbaar word. As ons dié goeie nuus gehoor het – góéd gehoor en ons eie gemaak het – het ons alles wat nodig is om getroos te lewe en te sterwe. Dan het ons ‘n geseënde Kersfees gehad!

Laai af: Word – PowerPoint