Romeine 5:1-11 – 12 Maart
Derde Sondag van Lydenstyd
Met Familietyd pak stoele om ‘n tafel in die liturgiese ruimte. Sit water op die tafel neer. Nooi ‘n paar kinders om by die tafel te kom sit, maar los ‘n paar stoele oop. Skink vir die kinders water. Vra vir die kinders:
- Is almal wat hier moet wees aan tafel?
- Is die tafel so vol soos dit kan wees?
- Hoe voel julle wat nie by die tafel kom sit het nie?
Lank het mense gedink net sommige mense is welkom by Jesus. Ons sien selfs vandag nog hoe mense maak asof party mense welkom is en nie ander nie. Maar God wil almal hier hê. Daar is genoeg plek vir almal by God. Dit is nie ons taak om te besluit wie welkom is en wie nie. Almal kan van Jesus se lewende water drink. Dit is nie regte water nie, maar die regte water wat ons drink, herinner ons dat Jesus vir almal is. Laat al die kinders nou op die stoele sit, al moet hulle stoele deel of op mekaar se skote sit. Beklemtoon dat almal by God welkom is en dit vra dat ons vir ander mense plek sal maak.
Die preekriglyn sluit aan by die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Die hartseer en woede waarmee hierdie stryd beskou word, bied ‘n eietydse beeld om Romeine 5:1-11 te belig. In die stryd tussen lande het ons tipies met vyandigheid tussen min of meer gelykes te doen. Die swaarkry, lyding en gevolge van die stryd is ‘n direkte resultaat van die vyandigheid tussen die partye. Hoeveel in ons eie kring kan nie getuig oor die vyandigheid tussen familie en vriende nie en die verskriklike gevolge daarvan? Die vyandigheid veroorsaak ook dat die toekoms donker en onseker word. Wie dink immers aan more as jy vandag moet oorleef? Waar daar vyandigheid is, is die hoop maar dun gesaai. Daar is eerder wanhoop en troosteloosheid. Hierdie is universeel van aard. Jy hoef maar net nuus te kyk waar die lot van vlugtelinge of oorlogslagoffers uitgebeeld word. Mense wat besorg is oor vandag dink nie verder nie; hulle kan nie! Die Romeinebrief verwys ook na die vroeëre vyandigheid tussen Skepper en skepsel, vanweë die sonde. Maar soos die evangelie in die brief ontvou, blyk dat daar nou vrede gekom het. Hierdie vrede het baie groot gevolge vir ons lewe as gelowiges wat danksy Christus se verlossingswerk met God versoen is. Dit gee ook vir ons ‘n vaste en seker toekoms.