Psalm 29 – 10 Januarie

Eerste Sondag ná Epifanie

Speel ‘n koningspeletjie. Bring ‘n kroon, ‘n septer of stok en ‘n lang stuk lap vir ‘n mantel saam. Kies een van die kinders om ‘n koning of koningin te wees. Die ander kry ook rolle. Iemand moet die mantel aandra na die koning of koningin en statig deur die kerkgebou stap. Iemand moet die troon afstof en gereed maak. Die koning of koningin gaan sit op die troon. Iemand vra die koning of koningin wat hy of sy wil eet of drink. Almal moet die titel “u Majesteit” gebruik wanneer hulle met die koning of koningin praat. Daar kan selfs ‘n hofnar wees wat die koning of koningin met ‘n grappie laat lag. Vra die kinders ná die speletjie om te verduidelik hoekom ‘n mens vir ‘n koning of koningin “u Majesteit” sê. Vra dan wat dit beteken wanneer ons God se majesteit besing. Psalm 29 is een van die Psalms wat God se teenwoordigheid in die natuur verheerlik. Sy stem is soos die weerlig en die donderslae. God is egter ook daarbo verhewe. Sy stem word in sy hemelse woning gehoor waar almal sy heerlikheid loof. Dawid herinner ons daarmee dat God nie net in beheer is van die natuurkragte nie, nie net bókant al die storms in die hemel teenwoordig is nie, maar dat hierdie ontsagwekkende God sorg vir gelowiges. God gee krag aan sy volk. God seën hulle met vrede.

Laai af: Word – PowerPoint

Jesaja 60:1-6 – 3 Januarie

Epifaniefees

Carolyn Brown stel voor dat jy vir kinders die simboliek van lig in vandag se teks en diens verduidelik. Begin deur simbole te wys wat hulle ken – ‘n landsvlag, ‘n sportspan se embleem. Vra elke keer waarvoor die simbool staan en waaraan dit ons laat dink. Verduidelik dan die simboliek van God as lig. Omdat ons nie ‘n prentjie van lig kan teken nie, gebruik ons simbole soos ‘n ster of ‘n kers. Wys vir hulle ‘n kersboom-ster – die soort wat bo-aan die boom kom. Herinner hulle aan die liggies aan die kersboom wat aangesteek word. Jy kan ook die adventkerse bespreek. Laat hulle saam met jou dink wat die simboliek van lig beteken. Dan kan jy gesels oor hoe ons ons lig laat skyn. Gee vir elke kind ‘n goue ster om hulle te herinner om self ook hul lig te laat skyn. Ingesluit is ‘n inkleurprent van ‘n ster. In Jesaja 60 hoor die verwoeste volk in ballingskap dat die Here vir hulle ‘n heerlike doel het. Daar gaan nuwe lig op vir Juda en Jerusalem. Jerusalem gaan weer na die ballingskap herstel word. Die verstrooide volk van God gaan uit ballingskap teruggebring word na Jerusalem toe. Deur Jerusalem en Juda te herstel en die volk terug te bring na hulle land gaan die Here sy doel met die nasies bereik. Lig en ander seëninge sal oor al die mense van die aarde kom, nie slegs oor Israel nie. Dit beklemtoon God se fokus op alle mense – Jode én heidene! God se lig is in hierdie tyd van swaarkry ons hoop. Jesaja herinner ons dat ons nie die lig is of dat ons wêreld nie die lig het nie. Ons het God se lig nodig. Ons het die verskyning van God se genade nodig. Ons kan onsself nie red nie. Ons het God se redding nodig. Ons buig onder die regering van God en ons leef soos God van ons vra. Op hierdie manier word ons ‘n bron van lig vir mekaar en ons omgewing, ook wanneer Covid, ekonomiese rampspoed en droogte ons wurg.

Laai af: Word – PowerPoint

Jesaja 61:10–62:3 – 27 Desember

Sondag na Kersfees

Vertel die storie van die eende wat kerk bywoon. Skakels ingesluit. Dit gee ’n goeie inleiding om die teks in die lig van die uitdagings van 2020 toe te pas. Ons is ingeperk, moes ons lewensstyl aanpas, en baie van ons het ‘n geliefde, vriend of kennis, naby aan ons weens Covid-19 aan die dood afgestaan. Die ekonomiese verwoesting van Covid-19 het lewens ingrypend verander. Dit is ook nog nie die einde nie. Nie die einde van Covid-19 nie, maar gelukkig ook nie die einde van die Here se genade en sorg nie. Jesaja 61 kondig die “genadejaar” van die Here aan. Die ballingskap en die swaarkry daarvan is verby, en die profeet van die Here kondig ‘n nuwe begin vir die volk aan. Die volk sal weer vreugde beleef en as die geseëndes van die Here bekendstaan. Terwyl die profeet jubel oor die nuwe tyd van oorwinning wat kom, bid hy ook dat dit gebeur. Hy roep ook voorbidders op soos wagte op die mure om te bid dat God se beloftes waar word. Die wagters op die mure word opgeroep om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding.

Laai af: Word – PowerPoint