Josua 3:7-17 – 1 November

Twee en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Daar is ‘n oulike Kinderbybel-video van vandag se Skriflesing ingesluit. Jy kan die Skrifgedeelte ook opvoer met 12 mans wat groot klippe in die paadjie af dra en voor in die liturgiese ruimte neersit. Dan kan jy gesels oor die dinge wat ons help om te onthou – ons eie stories, ons families se stories, God se stories met ons. Of gesels oor die Ark, miskien met ‘n model om dit visueel uit te beeld. Ingesluit is ‘n eenvoudige patroon wat ook vir die kinders as afdrukke gegee kan word om elk self so ‘n model te maak. Die preekriglyn skop af met hierdie jaar van onsekerheid, 2020. Mens het die aanvoeling dat dinge nie sommer weer gaan wees soos dit was nie. Iets groots het verander. Maar hoe dinge vorentoe gaan lyk, dit weet ons nie verseker nie. In sulke tye is mens meer sensitief en oop vir mense wat voorheen in groot oomblikke van oorgang was. Ons teks is ‘n voorbeeld hiervan. Die Israeliet was slawe in Egipte. Die Here het hulle onder Moses bevry en hulle in die woestyn tot sy volk gevorm. Nou is Moses weg en moet hulle die beloofde land, ‘n nuwe toekoms , onder nuwe, onbekende leierskap binnegaan. In Josua 3 moet God se volk die grens oorsteek na ‘n nuwe toekoms. Die ou sekerhede val weg, want daar is ‘n nuwe, onsekere leierskap. Daar is egter ‘n nuwe sekerheid, die brose, onmagtige teken van die Here se magtige leiding.

Laai af: Word – Powerpoint

1 Tessalonisense 2:1-8 – 25 Oktober

Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Lees uit Matteus 22 die opsomming van die Wet uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Om te wys hoe slim Jesus geantwoord het toe die wetskenner Hom probeer uitvang het, maak gebruik van die Tien Gebooie. Druk elke gebod op ’n A4-bladsy uit en gebruik twee groot skerms/blaaiborde/mure met die opskrifte: “Liefde vir God” op die een en “Liefde vir mense” op die ander. Vra die kinders om jou te help om die Tien Gebooie te sorteer volgens hierdie twee opskrifte sodat hulle (en die gemeente) kan sien dat Jesus se Groot Gebod nie ’n nuwe idee in die Nuwe Testament was nie, maar van die begin af God se plan vir die mensdom en ons verhouding met God was. Paulus skryf 1 Tessalonisense na aanleiding van ‘n verslag wat hy oor die gemeente in Tessalonika ontvang het. Daar is rede om te glo dat dit die heel oudste Christengeskrif is waaroor ons vandag beskik. Met die skryf van die brief teen die einde van 50 nC, vestig Paulus ‘n patroon vir die uitdra van die evangelie wat vir hom algemeen word. Hy besoek ‘n strategies geleë dorp of stad met sy metgeselle, en vestig daar ‘n geloofsgemeenskap met wie hy dan deur gesante en briewe kontak hou. Die verslag wat hy wat Timoteus na sy besoek aan Tessalonika ontvang het, het daarop gedui dat die gelowiges in Tessalonika uiters swaar gekry het. Een van die redes hiervoor was dat Paulus as hulle stigter deur hulle teenstanders daarvan beskuldig is dat wat hy hulle geleer het, vals was, dat hy onbetroubaar was en dat hy bloot vanweë sy eie gierigheid opgetree het. Die feit dat hy en Silas so vinnig uit Tessalonika moes vlug, het hulle uiters kwesbaar gemaak vir die beskuldiging dat hulle iets gehad het om weg te steek. Daarom beklemtoon Paulus sowel hulle eie persoonlike integriteit as die betroubaarheid van hulle boodskap in 2:1-12. In die antieke wêreld was daar allerlei rondreisende filosowe en predikers wat vir suiwer geldelike gewin nuwe godsdienste of idees verkondig het. Paulus wil dit duidelik maak dat sy bediening nie soos hulle s’n was nie.  In 1:5 het Paulus reeds na “ons evangelie” verwys, om daardeur dit duidelik te maak dat die evangelie nie iets was wat vir hulle net van teoretiese belang was nie. Dit het hulle persoonlik geraak. Daarom probeer hulle nie die guns van mense bekom nie, maar eerder in gehoorsaamheid aan God optree (2:4). Ons moet dus oor onsself vra of ons self gevorm is deur die boodskap wat ons verkondig, en of ons leef vanuit die wete dat God ons harte deurgaans deursoek.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Tessalonisense 1:1-10 – 18 Oktober

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Die familie-oomblik kan baie lekker by die inleiding van die preek aansluit. Laat kinders vertel wie hulle bewonder, wat hulle in daardie persoon bewonder en wat hulle wil “namaak” – op watter maniere hulle soos daardie mens wil wees. Iewers tussendeur – of dalk die hele tyd terwyl julle gesels – kan julle jul eie weergawe van “Simon Says” speel.  Simon Says werk so:  die voorganger sê “Simon Says” en sê ‘n aksie en voer dit terselfdertyd uit.  Al die ander moet dit dan ook doen.  Iewers langs die pad sê die voorganger nie “Simon Says” nie, maar gee bloot ‘n opdrag van ‘n aksie en voer dit uit, bv:  “vat aan jou kop”.  Die truuk is dat jy net die opdrag moet volg as daar eers gesê is “Simon says”. As daar nie “Simon says” gesê is nie, en jy voer steeds die opdrag uit, is jy uitgevang! Verbind dit aan die gedagte van voorbeelde en wie se voorbeelde ons volg – dikwels sonder om te dink. Die preekriglyn sluit by die verandering wat Sosiale media aan ons wêreld gebring het. Aangesien hierdie platforms mense aan mekaar verbind, is dit ook maklik om te sien wie het die meeste volgelinge. Veral ‘n platform soos Twitter, wat onbeperkte direkte toegang tot profiele gee, het megasterre geskep. Die krag van hierdie persoonlikhede en profiele lê daarin dat mense met hulle identifisieer en die lewe waarskynlik soos hulle sien. Mense is wesens wat naboots. Mens sien op sosiale media hoe groot die krag van nabootsing is. Die invloed wat voorbeelde op persone kan hê, speel vandag steeds ‘n belangrike rol, ook in die vorming van gelowiges se denke. Die tekens van hierdie sosiale druk en onderdrukking is verrassend genoeg ook duidelik in 1 Tessalonisense te bespeur wanneer Paulus skryf: “In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom” (1:6). Ons lees in Handelinge 17 hoe Paulus die evangelie die eerste keer in Tessalonika verkondig het. ‘n Betoging het ontstaan en die hele stad het in verset teen Paulus en Silas in beroering gekom. Dit lei daartoe dat die gelowiges Paulus en Silas in die nagdonker liewer uit Tessalonika wegstuur. So, waarom het die Tessalonisense weggedraai van vals afgode en begin om die ware God te dien (9)? Dit is waaroor hierdie teks dan gaan om ons op te roep om sterk te staan vir die evangelie en ‘n voorbeeld vir ander te word.

Laai af: Word – PowerPoint