Efesiërs 2:1-10 – 14 Maart

Vierde Sondag in Lydenstyd

As jy ‘n storie wil vertel, kan jy gerus kyk na The Dot deur Peter H Reynolds. In The Dot beleef Vashti genade wanneer sy haarself deur haar onderwyseres se oë sien. Ons plaas ook weer van ons vorige voorstelle vir Familietyd. Die preekriglyn begin met ‘n beskrywing van ‘n scrap yard. Dws ‘n rommelhoop van beskadigde, vernietigde, verskeurde metaal.  ‘n Motorbegraafplaas.  Die einde van die pad (letterlik!) vir motorkarre.  Die einde van die pad vir elke motor. Vir mense is die ekwivalent van ‘n scrap yard ongeveer ‘n lykshuis en ‘n begraafplaas.  Die einde van die pad hier op aarde. In Efesiërs 2 het Paulus ‘n geestelike, menslike scrap yard of lykshuis in gedagte.  Hier gaan dit nie om die dood as die einde van die pad nie.  Hier gaan dit oor ‘n geestelike dood.  Dit gaan oor ‘n lewensstyl wat die ekwivalent van ‘n scrap yard, ‘n lykshuis, ‘n begraafplaas is. Anders as sommige paaipredikers wat oor sonde praat asof dit maar ligte foutjies is wat maklik reggestel kan word, draai Paulus geen doekies om oor die werklike geestelike toestand waarin hierdie mense voor hulle ontmoeting met Christus was nie.  Hulle verhouding met die Here is verbreek.  Immers, dit het nie bestaan nie.  Hulle het nie maar net foute gemaak/negatiewe dinge gedoen nie.  Nee, hulle verbinding met God as lewensbron is verbreek. Met ‘n verrassende “maar” beskryf Paulus dan die karakter van die God van die Bybel.  Dié Here wat geen plek het vir die sonde nie, is die God wat “ryk is in barmhartigheid en ons innig lief het” (2:4).  Dit bewys Hy aan ons nie omdat ons self sulke deugdelike mense is nie – inherent goed en gaaf nie. Nee, God deurbreek juis ons wanhoopsituasie.  Hy bewys aan ons sy liefde en sluit ons by sy genadewerk in Christus in terwyl ons nog “dood was as gevolg van ons oortredings”.  Terwyl ons nie kon of wou reageer nie, het God ons “saam met Christus lewend gemaak” (2:5; Rom 5:6-8).  Dit laat Paulus uitroep: “Uit genade is julle gered!” (2:5).  In sowel 2:5 as 2:8 word die woord vir “redding” gebruik wat verwys na ‘n handeling van God in die verlede wat ‘n blywende gevolg het.  Ons word deur die geloof ingesluit in ‘n voltooide daad van God! ‘n Totaal nuwe lewe het tot stand gekom.  Ons bestaan is “in Christus” en voortaan geld van ons hele lewe dat ons “saam met Christus Jesus” opgewek is uit die dood en saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee is (2:6).  Los van Christus Jesus verval alles.  Hy omsluit/omvou ons met God se goedheid en liefde. In Christus is ons ‘n nuwe skepping om ons lewe te wy aan goeie dade/werke.  Daarvoor het God die gelowiges in Christus bestem (10; 2  Kor 5:17).  Wie God se genade in Christus Jesus gelowig aangeneem het, leef deur die Gees op ‘n nuwe manier en is volledig in diens van God se heil op alle terreine van die lewe.  Wie glo, lewe!

Laai af: Word – PowerPoint

1 Korintiërs 1:18-25 – 7 Maart

Derde Sondag in Lydenstyd

Die fokusteks bied ‘n goeie geleentheid om ‘n doopherinnering te doen, wat ook tydens die Familie-oomblik kan plaasvind. Dit kan ingelei word deur ‘n besprekingsvraag waartydens gemeentelede vir mekaar kan vertel wat hulle weet van hulle eie doop ofonthou van hulle kinders se doop. Roep dan die kinders vorentoe en vra hulle uit oor wat hulle van die doop weet. Wys vir hulle die doopvont en die water. Vra wat ons alles elke dag met water doen. Wanneer hulle sê ons bad of stort, verduidelik: Net soos die water al die vuil van ons afwas wanneer ons bad, is die water van ons doop ‘n teken dat alle sonde van ons afgewas is. Noem ook dat ons die meeste van die tyd babas doop wat nog nie verstaan of gesondig het nie, juis omdat ons niks kan doen om God se liefde en vergifnis te verdien nie, soos vandag se fokusteks beklemtoon. Paulus beskryf in sy brief die kontras tussen menslike wysheid en die wysheid van God. Goddelike wysheid mag en kan nie deur menslike insig en intelligensie gemeet word nie. Kennis wat mense vanuit menslike bronne ontwikkel, kan nie die finale en grootste vrae antwoord nie. Ons het openbaring, kennis wat God gee, nodig. Wysheid, goddelike kennis en openbaring is: Christus wat gekruisig is, is die Messias, die Verlosser, die Een wat versoening tussen mens en God bewerk het. Daar is geen ander wysheid nie. Daar is geen ander manier waarop Jood of Griek wie ook al by God kan uitkom nie – nóg Joodse wette, nóg die Grieke se wysheid kan dit bewerkstellig. Die “woord van die kruis” bring verandering in die bestaanswyse van die hoorders. Hulle gaan óf verlore óf word gered. Terwyl die hoorders die kruisboodskap opweeg en dit óf as dwaasheid óf as wysheid beoordeel, is dit dieselfde woord van die kruis wat hulle as verlorenes of gereddes bestempel.

Laai af: Word – PowerPoint

Genesis 17:1-7, 15-16 – 28 Februarie

Tweede Sondag in Lydenstyd

Sluit aan by Carolyn Brown se gedagtes en gesels oor die hoeveelheid sterre daar in die hemel is. Min kinders sal vandag ‘n konsep hiervan hê, weens die hoeveelheid ligbesoedeling waarmee ons saamleef. Jy kan dalk vra wie al op ‘n helder aand iewers was waar daar vir kilometers geen elektrisiteit was nie – en hoe die sterre toe gelyk het. Skakels na bruikbare video’s ingesluit. Plak dan, soos Brown voorstel, vir elke kind ‘n sterretjie op die hand om hulle te herinner dat hulle deel van Abraham en Sarah se nageslag – en God se belofte – is.  Ons het verlede week gefokus op die verbond wat God met Noag en die hele skepping gesluit het. Vandeesweek kry ons te doen met die verhaal van nog ‘n verbond. Dit is ‘n verbond wat God met Abram (en Sarai) sluit toe hulle al op ‘n hoë ouderdom was. Dit is nie die eerste keer dat God ‘n belofte aan Abram maak nie. Hier herhaal God sy belofte nadat Abram sake in sy eie hande geneem het en ‘n kind by Hagar gehad het. God herhaal sy verbond en belofte aan Abram en bevestig dat Abram se eie seun sy erfgenaam sal wees. Ons moet kliek dat daar baie verhale in die wêreld is wat ons probeer vorm, ons identiteit en roeping probeer stempel. Hierdie kompeterende verhale trek ons aandag af en fokus ons roeping op die verkeerde prioriteite. Leef uit jou identiteit as God se gemerkte mens, God se eiendom, en leef bedagsaam en toegewyd aan God.

Laai af: Word – PowerPoint