Genesis 9:8-17 – 21 Februarie

Eerste Sondag in Lydenstyd

Dit is baie belangrik dat kinders die Bybel leer ken. Vertel gewoon vir hulle die verhaal van Noag en die reënboog! Jy kan ook ‘n reënboog maak met ‘n glas water en wit papier (skakel ingesluit). Verduidelik vir die kinders dat die reënboog ons herinner aan God se beloftes – dat Hy ons God is en lief is vir ons. Jy kan ‘n pragtige inkleurprent met ‘n reënboog aflaai. Die preekriglyn begin met die verhaal van die vloed in Laingsurg op 25 Januarie 1981. Dit het gebeur in dié Karoo dorp se eeufeesjaar. ‘n Groot deel van die dorp is binne minute deur ‘n verwoestende fratsvloed weggespoel. Ons het pas in Januarie 2021 die veertigste herdenking van die vloed beleef. Uiteindelik het 104 lewens in die slag gebly. Benewens hierdie onbeskryflike verlies aan geliefdes, het die vloed ook 185 huise, die tuiste vir bejaardes en 23 kantore verwoes. Ander geboue is erg beskadig. Slegs 21 huise en die NG kerkgebou het ongeskonde staande gebly. Ons teks roep ‘n kosmiese vloed in herinnering toe alle vlees verwoes is, uitgesonderd die lewens van mens en dier wat deur die ark heen gered is. Hierdie wêreldwye vloed het gevolg op God se droefheid oor die wêreld se sonde en onreg. God het besluit dit is verby met die wêreld. God het egter vir Noag en sy mense genade gehad. Noag, sy gevolg en diere word gered sodat God met hulle ‘n nuwe begin kan maak. Daarom is daar ‘n ondertoon van blydskap en dankbaarheid in ons teks. Na alles verby is, kom God op eie inisiatief na Noag en sê dat Hy steeds trou aan die aarde bly. God sê: Nooit weer nie. Dit is sy verbond met ons. Hierdie belofte en verbond herinner ons daaraan dat geen katastrofe ons uit God se hand kan ruk, of die oorhand in die wêreld kan kry nie. Soveel méér nog as ons in Lydenstyd daaraan dink dat die belofte, die verbond, in die lewe en kruisdood van Christus waar gemaak is. Juis omdat Christus geleef en vir ons gesterf het, is die angel uit elke katastrofe gehaal.

Laai af: Word – PowerPoint

2 Korintiërs 4:3-6 – 14 Februarie

Sondag van die Verheerliking-feesdiens

Dis Valentynsdag – en Sondag van die Verheerliking. Die fokusteks praat van die lig wat ons harte “verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal”. Vir kinders kan dit gewoon beteken dat God sy geliefde Seun gestuur het, om vir ons te sê dat Hy lief is vir ons. Gesels met die kinders oor Valentynsdagkaartjies. Dalk het van die kinders vir hul ouers Valentynsdagkaartjies gemaak, waarmee hulle vir Mamma of Pappa sê dat hulle lief is vir hulle. God het vir Jesus gestuur om te sê hy is lief vir ons. Nou is elkeen van ons soos ‘n Valentynsdagkaartjie, wat God die wêreld in stuur om vir die wêreld te vertel dat hy lief is vir hulle. As jy wil fokus op die gedagte dat elkeen van ons soos ‘n Valentynsdagkaartjie is, kan jy hartjie-stickers koop en (van ‘n veilige afstand af) op kinders se voorkoppe plak. Laat kinders tydens die preek Valentynsdagkaartjies maak, dalk vir diegene wat nog nie eredienste kan bywoon nie – kaartjies wat hulle herinner dat God (en die gemeente!) lief is vir hulle. As hulle lekker kreatief is, kan hulle gewoon ‘n skoon A4 vel vou en kaartjies teken en skryf. Ons sluit ‘n templaat in. Dit verskaf ‘n lekker aanknopingspunt vir die preek oor een van die aangrypendste briewe van Paulus. Hy ontbloot homself as mens soos nêrens in sy ander briewe nie. Ons kry ‘n baie eerlike prentjie oor hom en sy uitdagings. Hy was ook maar net ‘n gewone mens van vlees en bloed, maar een met ‘n besondere roeping – soos alle gelowiges vandag. Paulus beklemtoon daarom hier dat sy apostelskap nie in sy eie krag of mag gesetel is nie, maar in die bediening wat hy van die Here ontvang het. Daarom kan hy nie anders nie as om Jesus Christus as die Here te verkondig. Gelowiges se leefstyl moet ook die nuwe lewe reflekteer wat hulle in Jesus Christus ontvang het. Die boodskap wat Paulus verkondig, het te doen met die lig waaroor hy in vers 6 skryf: “God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis,’ het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.” Uit Christus straal die lig van heerlikheid. Ons weerkaats hierdie lig wat tot binne ons diepste wese skyn. Deur die lig wat uit Jesus skyn, kan gelowiges met nuwe, ander oë na God se skepping en mense kyk. God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening van die lig aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ‘n eerlike gewete het. Hoe goddelik sal dit nie wees as die skoliere, studente, mans, vroue, sake- en ambagslui, dokters, landdroste en politici almal in elke geloofsgemeenskap hierdie woorde hoor en dit kreatief begin uitleef nie! Op hierdie manier leef ons uit die heerlikheid van Christus.

Laai af: Word – PowerPoint

Markus 1:29-39 – 7 Februarie

Vyfde Sondag ná Epifanie

Hier is twee voorstelle vir Familietyd. Gesels oor superheros. Wat maak iemand ‘n superhero? Net sy of haar spesiale krag? Het die supervillains ook spesiale vermoëns? Wys prente van superheroes en hulle teenstanders, die villains. Lei die gesprek tot by superheroes wat omgee vir mense en hulle wil help, teenoor die villains wat net alles vir hulleself wil hê. Jesus is sterker as enige hero of villain, maar wat Jesus nog meer besonders maak, is dat Hy innig lief is vir mense. Hy sien mense raak. Hy weet wanneer hulle hulp nodig het, en Jesus gebruik sy mag om mense gesond te maak. Of, vertel die verhaaltjie van die twee houtkappers wat twee heeltemal verskillende werkswyses gehad het. Die eerste houtkapper was bekend as ‘n baie effektiewe werker en het uitgegaan met die beste tegnieke, implemente en werkskedules. Die tweede houtkapper was nie baie groot of sterk nie, maar hy het ‘n leuse gehad waarvolgens hy geleef en gewerk het: Begin met die einde in gedagte. Met ‘n kompetisie het die eerste houtkapper wel meer bome afgekap as die tweede. Maar, die wenner was die tweede houtkapper. Hoekom? Die eerste houtkapper het inderdaad die meeste bome afgekap, maar uit die verkeerde plantasie! Die tweede houtkapper het eers in die hoogste boom geklim en besef: “Verkeerde plantasie! Ek moet daar anderkant gaan kap!

 In ons teks doen Jesus wonders op die Sabbat. Hy genees ook Petrus se skoonma. Só demonstreer Jesus dat Hy gesag het, nie net oor die bose soos in die vorige verhaal nie, maar ook oor siekte. Hierna bedien Petrus se skoonma die gaste met haar gasvryheid. Genesing is daarom ‘n teken dat God se koninkryk ‘n werklikheid geword het. ‘n Mens sien hier hoe Jesus aan die een kant amper voor die voet genees en bevry. Dit getuig van sy gesag oor die lewe en die dood. Aan die ander kant sien ‘n mens dat Jesus probeer keer dat Hy net as ‘n wonderwerker bekend staan. Daarom beperk Hy die sensasie wat amper onvermydelik die nuus oor sy wonderwerke sou vergesel. Hy wil hê dat sy wonders sy woorde sal onderstreep, want dit is uiteindelik sy woorde wat ons harte en lewens verander. En ‘n heel hart is belangriker as ‘n heel liggaam. Ons leer meer daaroor in die ontstellende verhaal van die man wat by die poel van Betsata genees is. Hoor net Jesus se waarskuwing aan hom toe hulle later in die tempel ontmoet: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat iets slegters nie met jou gebeur nie.” (Joh 5:14; vgl ook Joh 8). Ten spyte van hierdie waarskuwing verklap die man egter Jesus aan die Jode wat aanleiding gee daartoe dat hulle Jesus oor die genesing vervolg het, omdat dit op ‘n Sabbatdag gebeur het (Joh 5:15-16). Dit wil dus lyk asof die man sy Geneser verraai. Dat sy liggaam genees is, maar dat sy hart onaangeraak gebly het deur Jesus.

Ons moet dus genuanseerd kyk na genesing. God genees. Vandag nog. En Hy doen dit baie keer onmiddellik en sonder verwyt. Soos in die evangelies. Maar, die genesing van die hart is steeds die eintlike ding wat moet gebeur. En soms in sy wysheid sluit dit genesing van die liggaam uit. Jy kan die kosbare verhaal van Joni Eareckson Tada (A Place of healing: wrestling with the mysteries of suffering) as moderne voorbeeld gebruik. Sy is ‘n kwadrupleeg ná ‘n duikongeluk. Sy het ‘n wêreldwye bediening, maar steeds vanuit ‘n rolstoel. Joni glo in genesing, maar bely dat die Here dit in haar geval nog nie gedoen het nie. Trouens, sy sukkel die afgelope tyd met toenemende pyn in haar verlamde ledemate en is onlangs weens kanker gehospitaliseer. Sy soek egter: God’s redemption in her pain. Hierdie  teks is van besondere belang in die Covid-tyd. Baie gelowiges getuig dat God hulle in die koors aangeraak en genees het. Ander vertel met die diepste hartseer van geliefdes wat aan die dood afgestaan is. Waarom Jesus hulle nie – soos Petrus se skoonmoeder – opgewek het uit ‘n siekbed nie, is nie aan ons bekend nie. Wat ons wel weet, is dat gelowiges leef onder die belofte van opwekking uit die dood, indien nie hierdie kant van die graf nie, wel verseker aan die ander kant daarvan. Jesus se opwekking is die bewys en belofte daarvan. Daarmee kan ons mekaar troos.

Laai af: Word – PowerPoint