1 Korintiërs 1:18-25 – 7 Maart
Derde Sondag in Lydenstyd
Die fokusteks bied ‘n goeie geleentheid om ‘n doopherinnering te doen, wat ook tydens die Familie-oomblik kan plaasvind. Dit kan ingelei word deur ‘n besprekingsvraag waartydens gemeentelede vir mekaar kan vertel wat hulle weet van hulle eie doop ofonthou van hulle kinders se doop. Roep dan die kinders vorentoe en vra hulle uit oor wat hulle van die doop weet. Wys vir hulle die doopvont en die water. Vra wat ons alles elke dag met water doen. Wanneer hulle sê ons bad of stort, verduidelik: Net soos die water al die vuil van ons afwas wanneer ons bad, is die water van ons doop ‘n teken dat alle sonde van ons afgewas is. Noem ook dat ons die meeste van die tyd babas doop wat nog nie verstaan of gesondig het nie, juis omdat ons niks kan doen om God se liefde en vergifnis te verdien nie, soos vandag se fokusteks beklemtoon. Paulus beskryf in sy brief die kontras tussen menslike wysheid en die wysheid van God. Goddelike wysheid mag en kan nie deur menslike insig en intelligensie gemeet word nie. Kennis wat mense vanuit menslike bronne ontwikkel, kan nie die finale en grootste vrae antwoord nie. Ons het openbaring, kennis wat God gee, nodig. Wysheid, goddelike kennis en openbaring is: Christus wat gekruisig is, is die Messias, die Verlosser, die Een wat versoening tussen mens en God bewerk het. Daar is geen ander wysheid nie. Daar is geen ander manier waarop Jood of Griek wie ook al by God kan uitkom nie – nóg Joodse wette, nóg die Grieke se wysheid kan dit bewerkstellig. Die “woord van die kruis” bring verandering in die bestaanswyse van die hoorders. Hulle gaan óf verlore óf word gered. Terwyl die hoorders die kruisboodskap opweeg en dit óf as dwaasheid óf as wysheid beoordeel, is dit dieselfde woord van die kruis wat hulle as verlorenes of gereddes bestempel.