Efesiërs 2:1-10 – 14 Maart

Vierde Sondag in Lydenstyd

As jy ‘n storie wil vertel, kan jy gerus kyk na The Dot deur Peter H Reynolds. In The Dot beleef Vashti genade wanneer sy haarself deur haar onderwyseres se oë sien. Ons plaas ook weer van ons vorige voorstelle vir Familietyd. Die preekriglyn begin met ‘n beskrywing van ‘n scrap yard. Dws ‘n rommelhoop van beskadigde, vernietigde, verskeurde metaal.  ‘n Motorbegraafplaas.  Die einde van die pad (letterlik!) vir motorkarre.  Die einde van die pad vir elke motor. Vir mense is die ekwivalent van ‘n scrap yard ongeveer ‘n lykshuis en ‘n begraafplaas.  Die einde van die pad hier op aarde. In Efesiërs 2 het Paulus ‘n geestelike, menslike scrap yard of lykshuis in gedagte.  Hier gaan dit nie om die dood as die einde van die pad nie.  Hier gaan dit oor ‘n geestelike dood.  Dit gaan oor ‘n lewensstyl wat die ekwivalent van ‘n scrap yard, ‘n lykshuis, ‘n begraafplaas is. Anders as sommige paaipredikers wat oor sonde praat asof dit maar ligte foutjies is wat maklik reggestel kan word, draai Paulus geen doekies om oor die werklike geestelike toestand waarin hierdie mense voor hulle ontmoeting met Christus was nie.  Hulle verhouding met die Here is verbreek.  Immers, dit het nie bestaan nie.  Hulle het nie maar net foute gemaak/negatiewe dinge gedoen nie.  Nee, hulle verbinding met God as lewensbron is verbreek. Met ‘n verrassende “maar” beskryf Paulus dan die karakter van die God van die Bybel.  Dié Here wat geen plek het vir die sonde nie, is die God wat “ryk is in barmhartigheid en ons innig lief het” (2:4).  Dit bewys Hy aan ons nie omdat ons self sulke deugdelike mense is nie – inherent goed en gaaf nie. Nee, God deurbreek juis ons wanhoopsituasie.  Hy bewys aan ons sy liefde en sluit ons by sy genadewerk in Christus in terwyl ons nog “dood was as gevolg van ons oortredings”.  Terwyl ons nie kon of wou reageer nie, het God ons “saam met Christus lewend gemaak” (2:5; Rom 5:6-8).  Dit laat Paulus uitroep: “Uit genade is julle gered!” (2:5).  In sowel 2:5 as 2:8 word die woord vir “redding” gebruik wat verwys na ‘n handeling van God in die verlede wat ‘n blywende gevolg het.  Ons word deur die geloof ingesluit in ‘n voltooide daad van God! ‘n Totaal nuwe lewe het tot stand gekom.  Ons bestaan is “in Christus” en voortaan geld van ons hele lewe dat ons “saam met Christus Jesus” opgewek is uit die dood en saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee is (2:6).  Los van Christus Jesus verval alles.  Hy omsluit/omvou ons met God se goedheid en liefde. In Christus is ons ‘n nuwe skepping om ons lewe te wy aan goeie dade/werke.  Daarvoor het God die gelowiges in Christus bestem (10; 2  Kor 5:17).  Wie God se genade in Christus Jesus gelowig aangeneem het, leef deur die Gees op ‘n nuwe manier en is volledig in diens van God se heil op alle terreine van die lewe.  Wie glo, lewe!

Laai af: WordPowerPoint

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

%d