Handelinge 10:44-48 – 9 Mei

Sesde Sondag in Paastyd

Carolyn Brown lewer ‘n kosbare inset om die teksgedeelte met kinders te hanteer. Skakels ingesluit. Die preekriglyn fokus op die goeie nuus dat God grense oorsteek – na ons, en deur ons na ander. As die evangelie net vir ‘n sekere groep of volk was, dan was ons verlore en sonder hoop in hierdie wêreld. Ons is geroep om soos God te wees. Dit is wat ‘n Paasgemeente doen: dit steek godsdienstige grense na alle mense oor. Dit is insiggewend dat die Here die hoofindoena van die kerk van Jerusalem, Petrus, kies om die eerste treë te gee op hierdie pad. Hy was ‘n getemperde leier, wat met groot vrymoedigheid en oortuiging opgetree het, van die verkiesing van Mattias af in hoofstuk 1, regdeur al die toesprake op Pinksterdag en tot by die tempeltoespraak na die verlamde man se genesing en die gevolglike verskyning voor die Joodse Raad. En met die optrede van Stefanus en Filippus in Jerusalem en Samaria, is die tyd ryp vir die volgende skuif. En God gebruik vir Petrus. Twee hoofstukke in Handelinge (10-11) word gewy aan Petrus se kultuur-en veral godsdiens-bekering wat hierdie skuif begin en motiveer en wat ook tot die bekering en grensoorskryding van die kerk lei.

Daar is drie perspektiewe wat vertel hoe dié bekering moontlik geraak het.

  • Die eerste is hoe God daarin gewerk het.
  • En die tweede is die wyse waarop vooroordele opgehef is.
  • Die derde is die rol wat gasvryheid gespeel het.

Die evangelie van Jesus Christus is goeie nuus en dit is vir die hele wêreld bestem. Die oomblik dat jy dit vir jouself hou en God vir jouself en vir jou eie belang opeis, begin die stadige kanker van geestelike dood intree. Die oomblik egter dat jy die deure van jou hart en lewe vir ander oopmaak – in navolging van Christus se koms aarde toe – en jy daarmee oor die grense van jou eie lewe, kultuur en belange beweeg, word die liefde en diensbetoon, die gemeenskap en genade, die reg en vrede van God se teenwoordigheid herontdek. Soos wat dit inspoel in mense se lewe en kultuur en dit omswaai en suiwer, bring dit ongekende nuwe lewe. Dit is waarvoor ons ons lewe moet gee!

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 8:26-40 – 2 Mei

Vyfde Sondag in Paastyd

Daar is skakels na ‘n video en ‘n inkleurprent om te gebruik in Familietyd. Daar is ook ‘n idee van John Stevens om ‘n stuk papier te skeur sodat mense daardeur kan stap wat die idee van die oorsteek van grense en mense wat ingesluit word, kan illustreer. Daar is ook opsies vir liedere om te gebruik. Die preekriglyn val weg met die verhaal van Misha (nie sy regte naam nie), ‘n tandheelkundestudent uit Noord-Afrika, wat vertel hoe hy vir agt jaar na iemand gesoek het wat hom meer oor Jesus kon vertel. Hy het as skolier bewus geraak van gebeure uit Jesus se lewe soos die Nuwe Testament dit oorvertel, maar kon geen detail daaroor kry nie. In sy land word die Christelike geloof egter aktief onderdruk. Uiteindelik, na agt jaar, sien hy ‘n advertensie oor ‘n kursus in die Nuwe Testament. Hy maak kontak en ontdek die volheid oor Jesus. Sy leermeesters het hom die evangelie in die gebeure van die Nuwe Testament help ontdek. Hoewel hy in die grootste risiko moontlik leef, is hy ‘n toegewyde volgeling van Jesus, met ‘n lewende geloof. Misha vertel hoe hy sedertdien bewus geraak het Jesus het nog volgelinge in sy land. Hy kon die Here al saam met ander gelowiges aanbid, een van die groot vreugdes in die lewe. Dit gee ‘n uitstekende inleiding om te gesels oor die soortgelyke gebeure in Handelinge 8 waar die Etiopiër op soek is antwoorde wat saak maak. Daar is ‘n dieper honger by hom wat na versadiging vra. Ons lees hoedat God voorsiening maak deur iemand te stuur, Filippus, die evangelis. Die honger word gestil – na God en na behoort aan God se gemeenskap.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 10:11-18 – 25 April

Vierde Sondag in Paastyd | Goeie Herder-Sondag

Gebruik die volledige “Kinderkerk” wat by Algoa Gemeenskapskerk beskikbaar is of gebruik die ingeslote moderne weergawe van ‘n herder wat sy skape roep of gebruik die verhaal van die verskil tussen ‘n slagter en ‘n skaapwagter. Die beskrywing van Jesus in ons teksgedeelte as die Goeie Herder is die mees troosvolle bekendstelling van Jesus moontlik, veral vir mense in Covid-tyd. Dink net. Die herder bring die meeste ure van die dag in die skape se geselskap deur. Hy ken elkeen se karakter, merke en voorkeure. En hulle ken hom. Hulle ken sy stem. As hulle sy stem hoor, het hy nie ‘n skaaphond nodig om hulle bymekaar te hou nie. Hy sal vooruit loop en hulle roep en hulle sal Hom volg. Wanneer die pad vir ons duister lyk, en ons nie reg weet hoe om vorentoe te gaan nie. Volg ons net die stem van die Herder wat ons vertrou.

Laai af: Word – PowerPoint