Psalm 22 – 2 April

Goeie Vrydag

Om die gedagte van Godverlatenheid oor te dra, kan jy vir die kinders vra of hulle al ooit in die middel van die nag in die donker wakker geword het en gevoel het hulle is alleen.  Laat hulle vertel hoe dit voel.  Verduidelik dat dit amper is hoe Jesus aan die kruis gevoel het – en hoe ons ook soms voel.  Ons voel alleen en dink God is nie by ons nie.  Net soos wat Pappa en Mamma tog naby is, al voel ons alleen, is God ook steeds naby. Lydenstyd 2021 gedenk die tweede jaar waarin die wêreld in die knyptang van Covid-19 verkeer. Ons ken almal viende of familielede wat hul lewens weens Covid-19 verloor het of dit oorleef het maar bly worstel met ernstige, moontlike lewenslange komplikasies. Waar kry ons woorde om hieroor met God te praat? In die donkerste oomblik in die wêreld se geskiedenis, wanneer Jesus gebroke aan die kruis hang, kies Hy die woorde van Psalm 22 om sy ellende voor God te verwoord:  “My God, my God, waarom het U my verlaat?”  Hierdie psalm gee aan Hom woorde om sy diepste gevoel, sy klaaglike toestand, voor God se troon uit te stort.

Laai af: Word – PowerPoint

Filippense 2:5-11 – 28 Maart

Sesde Sondag in Lydenstyd – Passiesondag

Fokus op Palmsondag. Sluit die kinders deurlopend by die liturgie in. Laat die kinders of die hele gemeente ‘n prosessie dien met (versigtig) swaaiende palmtakke. Hierna kan almal kruise vou van palmblare volgens die ingeslote demonstrasie. John Stephens stel voor dat jy die beginsel gebruik van die spons-vingers wat mense tydens sportbyeenkomste gebruik. Jy het nie die sponsvinger nodig nie, jy kan bloot met jou vinger in die lug wys. Dis hoe almal vir Jesus gevier het met die intog – soos vingers in die lug wat sê “nommer 1 nommer 1 nommer 1”.  (Laat almal met hul vingers in die lug juig.”) Maar kort daarna het dieselfde vingers gedraai en gesê:  “Kruisig hom!” Of gebruik een van ons vorige voorstelle wat ook ingesluit is. Die preekriglyn werk met die voorbereiding vir die Groot Lydensweek, die herdenking van die laaste week van Jesus se bediening voor sy kruisiging. Ons sien die heerlikheid van die lydende Christus wat doelbewus afstuur op Goeie Vrydag.  Vandag val die klem op Jesus se lyding. Ons maak gebruik van palmtakke om ons aan Jesus se intog in Jerusalem te herinner. Die skare het palms geswaai om Jesus as koning te verwelkom. Daarmee het hulle die pad eintlik voorberei vir die lydende kneg van die Here om op die finale fase van sy lydingsweg te gaan. Ons teks is die bekende Filippense 2:5-11. Dit is ‘n aangrypende teks wat besondere lig op die betekenis van Jesus se lyding laat val. Mens kan hierdie teks lees wanneer jy nadink oor Jesus se voetewassing van sy dissipels. Net soos Jesus by die voetewassing in die bovertrek eers sy bokleed uitgetrek het, toe gedien het, en daarna weer aangetrek het, so vertel ons teks hoe Jesus Homself tot ons diens ontklee het, in nederigheid tot in die dood kom dien het, en daarna weer beklee is met besondere heerlikheid. Die tema is ontklee en beklee.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 12:20-33 – 21 Maart

Vyfde Sondag in Lydenstyd

Met Familietyd kan jy gesels oor die betekenis van die kruis. Dit is aan die een kant ’n pynlike ervaring. Aan die ander kant ’n bewys van hoe lief God vir ons het. Jy kan ook die X-Men se karakter as “mutants” gebruik om te illustreer hoe andersheid jou soms help om ander te kan help. Met die preekriglyn kan jy aansluit by ons gevoel van ontworteling in die Corona-tyd. Ons betree die tweede jaar van inperking. Baie se lewens voel en is verrinneweer en gedisoriënteerd. Mens wonder hoe dinge weer gaan regkom en hoe ons vorentoe sal regkom? In so ‘n tyd vra mens nuut wat beteken sukses vir ons. Hoe bereik ons sukses, hoe jaag ons dit na? Baie mense smag daarna om die ongebreidelde soeke na selfvervulling, selfverruiming en selfverryking te hervat. Hoe gaan ons dinge weer herstel om te wees soos dit was voor Covid ons getref het? Jesus wys ‘n ander rigting. Sukses en vervulling het met diens te doen. Dit klink vreemd op ons Westerse ore. Ons ken ander opvattings oor sukses. Waar plaas ons selfverloënende liefde en diens ons op hierdie weg na sukses? In ons teks word voorspoed verbind aan sterwe ter wille van ander, sterwe in diens. Dit staan lynreg teenoor ons gangbare strewe na sukses en bevordering van ons eie belang.

Laai af: Word – PowerPoint