Lukas 24:36b-48 – 18 April

Derde Sondag in Paastyd

Gesels met die kinders oor hulle vrese in die nag. Dit gee jou ‘n goeie aanknopingspunt om oor Jesus se verskynings en die gawe van die Heilige Gees te gesels en die vrede wat dit vir ons bring. Jesus is altyd by ons, daarom hoef ons nie bang te wees nie. Ons teks vertel van die laaste van Jesus se drie opstandingsverskynings in Lukas. Al drie episodes, soos vroeër in Lukas, stel die noodsaaklikheid van Jesus se lyding en sterwe duidelik. Jesus se lyding en sterwe word telkens met “dit moet” verduidelik. Dit is ‘n Goddelike “moet”. Die opstanding volg op Jesus se lyding en sterwe. Dít is God se reddingsplan, nie iets anders nie. Jesus red ons omdat Jesus moes ly, sterf en opstaan uit die dood – ter wille van ons. “Onthou my wonde,” sê Jesus, “en raak daaraan …” Uit hierdie wonde kom daar vir ons genesing. Die afgelope jaar het ons met Covid-19 soveel wonde gesien. Mense het hulle lewens verloor. Ander het hulle werk verloor. Baie het ernstig siek geword en swaar gely. Talle het ernstige mediese nagevolge en sukkel om van die effekte van Covid-19 ontslae te raak. Jesus se wonde bring genesing. As ons ons identifiseer met Jesus se wonde en oor sy offer ter wille van die wêreld getuig, kom daar genesing. Hierdie getuienis kom deur woord en dade. Dink aan die pragtige getuienis oor ‘n bejaarde Italiaanse priester wat sy respirator afgestaan het aan ‘n jong Covid-19-pasiënt en later self gesterf het – moderne voorbeelde van die lyding van gelowiges wat saad vir die evangelie geword het.

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 4:32-37 – 11 April

Tweede Sondag van Paastyd

Vra vir die kinders wat die heel beste nuus is wat hulle nog ooit gekry het.  Verduidelik dan dat daar selfs nog beter nuus is, wat iemand baie lank terug gekry het, maar wat ons ook vandag kry.  Vra die kinders of hulle onthou waaraan ons Vrydag gedink het?  (Jesus se kruisiging en dood.)  Vertel dan vir die kinders hoe hartseer en moedeloos almal was.  Alles wat hulle gehoop het, is nou verby, want Jesus is dood.  Vertel dan die verhaal van Maria en die leë graf.  Dít is die beste nuus wat enige iemand ooit gekry het en ooit sal kry:  Jesus leef!  Jy kan ook eerder ‘n video wys van die leë graf. Daar is baie kindervideos op Youtube – soek vir Jesus risen children. Skakel na een ingesluit. Preekriglyn: Ons teks beskryf ‘n wêreld vol ongelykheid waar sommige baie het en ander bitter min. Tog word die gelowiges deur die nood van ander aangegryp en doen iets daadwerkliks daaraan. Mense se grootste nood – die nood aan gemeenskap en behoort – word aangespreek, en ook hulle nood aan lewensmiddele. Die wêreldbekende teoloog Jürgen Moltmann sê na aanleiding van ons teks: The solution to poverty is not property. The solution to both poverty and property is community. Dit is waarom hierdie gemeente lewe met oop deure en vensters voor die Here en voor die wêreld, want daar is altyd die gevaar dat die gemeente hulleself kan afsluit, eenkant hou, isoleer … en dan niks meer vir iemand te sê het nie.

Laai af: Word – PowerPoint

Handelinge 10:34-43 – 4 April

Paassondag

Gaan maak ‘n draai by Dollar Store Children’s Sermons en kyk na die groot klomp idees wat John Stevens bied, veral vir vandag die idee met die papiersak, glowstick en skoenlappers. Uit ervaring, ‘n waarskuwing: as jy die voorstel van die leë kougom of leë eier gebruik, gaan jy ‘n verrassing gereed moet hê. Anders, in stede van opgewonde (die gevoel wat ons wil hê vir Paasfees) is die kinders net teleurgesteld! Ons vier vandag Paassondag. Dit is die Opstandingsondag, die hoogtepunt in die Christelike geloof. Hierdie feesdag is ryk aan betekenis. Ons kan dit gerus verder verken. Dit is wat Petrus in ons teks doen. Hy bring Christus se opwekking uit die dood in verband bring met al God se werke, die volle geskiedenis van God se genadige werke in die lewe van God se skepping.

Laai af: Word – PowerPoint