Filippense 2:5-11 – 28 Maart
Sesde Sondag in Lydenstyd – Passiesondag
Fokus op Palmsondag. Sluit die kinders deurlopend by die liturgie in. Laat die kinders of die hele gemeente ‘n prosessie dien met (versigtig) swaaiende palmtakke. Hierna kan almal kruise vou van palmblare volgens die ingeslote demonstrasie. John Stephens stel voor dat jy die beginsel gebruik van die spons-vingers wat mense tydens sportbyeenkomste gebruik. Jy het nie die sponsvinger nodig nie, jy kan bloot met jou vinger in die lug wys. Dis hoe almal vir Jesus gevier het met die intog – soos vingers in die lug wat sê “nommer 1 nommer 1 nommer 1”. (Laat almal met hul vingers in die lug juig.”) Maar kort daarna het dieselfde vingers gedraai en gesê: “Kruisig hom!” Of gebruik een van ons vorige voorstelle wat ook ingesluit is. Die preekriglyn werk met die voorbereiding vir die Groot Lydensweek, die herdenking van die laaste week van Jesus se bediening voor sy kruisiging. Ons sien die heerlikheid van die lydende Christus wat doelbewus afstuur op Goeie Vrydag. Vandag val die klem op Jesus se lyding. Ons maak gebruik van palmtakke om ons aan Jesus se intog in Jerusalem te herinner. Die skare het palms geswaai om Jesus as koning te verwelkom. Daarmee het hulle die pad eintlik voorberei vir die lydende kneg van die Here om op die finale fase van sy lydingsweg te gaan. Ons teks is die bekende Filippense 2:5-11. Dit is ‘n aangrypende teks wat besondere lig op die betekenis van Jesus se lyding laat val. Mens kan hierdie teks lees wanneer jy nadink oor Jesus se voetewassing van sy dissipels. Net soos Jesus by die voetewassing in die bovertrek eers sy bokleed uitgetrek het, toe gedien het, en daarna weer aangetrek het, so vertel ons teks hoe Jesus Homself tot ons diens ontklee het, in nederigheid tot in die dood kom dien het, en daarna weer beklee is met besondere heerlikheid. Die tema is ontklee en beklee.