Esegiël 37:1-14 – 23 Mei

Pinksterfees

Ons hou daarvan om op Pinkstersondag die uitstorting van die Gees met vlamme uit te beeld, soos met hierdie lekker aktiwiteit waar kinders krone met vlamme maak. Vanjaar is egter ‘n goeie geleentheid om op die wind-simboliek te fokus. Kyk by Daniellesplace vir baie oulike idees. Vir vanjaar hou ek veral van die wind en vuur streamers idee. Sny vooraf repe kreukelpapier – rooi en geel vir vlamme en blou en wit vir wind. Laat kinders 4 blou/wit of rooi/geel repe aan ‘n stokkie vasmaak. Terwyl julle sing, kan hulle dan hul stokkies swaai. Of hier is ‘n patroon vir ‘n papier windmeul met prentjies van vlamme en duiwe op. Daar is nog talle ander voorstelle ingesluit. Vir die preekriglyn sluit ons uiteraard by Pinksterdag aan. Ons vier immers die uitstorting van die lewendmakende Heilige Gees. Pinksterdag is eintlik die geboortedatum van die kerk. Dit is immers die Gees, wat reeds met die skepping lewegewend oor die waters gesweef het, wat die kerk skep. Dit is die Gees wat gelowiges bemagtig om God se kerk te wees. Die Gees vul ons met krag. Sonder die Gees – hoor ons in vandag se teks – is daar net droë bene. Dit is presies die toestand waarin ons die Ou Testamentiese volk van God in Esegiël 37 ontmoet: in ballingskap, geestelik gesproke ʼn vallei vol doodsbeendere. Daar is in groot dele van die wêreld en selfs kerke weinig meer oor as net droë bene van wanhoop. Net God kan dié situasie omdraai. ‘n Voëlvlug oor die historiese verloop van die ballingskap en Israel se terugkeer, maak die hand van God daarin sigbaar. God bring nuwe lewe in morsdooie beendere omdat Hy kan en wil. Ongeag die moegheid en doodsheid van die wêreld, stu God se liefdevolle heilswerk voort.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 17:6-19 – 16 Mei

Sewende Sondag van Paastyd

Met Familietyd kan jy die storie van Brenda voorlees wat genooi is om te gaan rotsklim en toe haar kontaklens verloor. Lees self wat gebeur toe sy die Here vra om haar te help om haar verlore kontaklens te vind. En geniet die kostelike prentjie wat haar pa toe van dié gebeure geteken het! Die storie illustreer God se gewilligheid om te help, sowel as die wyse waarop Hy die natuur gebruik, ook vir ons, in die proses. Dit gee ’n goeie inleiding om oor Jesus se hoëpriesterlike gebed vir ons te preek. Die inhoud van die gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het. Jesus bid vir Homself en die voltooiing van sy roeping. Hy bid vir die dissipels en Hy bid vir die kerk. Hierdie gebed wys vir ons as geloofsgemeenskap heen na ‘n toekoms waarin God se sorg en bestuur volledig is. Dit wys heen na ‘n toekoms waarin die ervaring van God se liefde vir ons ‘n werklikheid word, ten spyte van Covid-19 of watter krisis ook al. Dit is hierdie heerlike verwagting wat ons daaglikse lewe moontlik maak. Die gebed herinner ons aan God wat ons toekoms koester, te midde van gevare. Daarom nooi hierdie gebed vir ons as geloofsgemeenskap uit om, soos wat Jesus in sy uur van nood daaraan vasgehou het dat God Hom liefhet, ook vir seker te weet dat God op grond van sy oneindige liefde sy kinders sal versorg.

Laai af: Word – PowerPoint

Psalm 47 – 13 Mei 2021

Hemelvaart

Ons vier vandag Hemelvaart. Dit is ‘n fees wat met die kern van ons geloof verband hou. Die Here wat ons liefhet, vir ons gesterf en opgestaan het, is dié Here wat op die troon sit en regeer. Op ‘n dag soos vandag vier ons die koningskap van ons Here Jesus Christus aan die hand van Psalm 47, ‘n Psalm wat God as koning oor die aarde en die nasies vier, en almal oproep om tot eer van hierdie God te juig. Psalm 47 is ‘n jubelende Psalm wat enersyds vir Israel, die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof bo alles te besing, maar andersyds ook alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God. Want: God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3,8) en oor al die nasies (vers 9,10). Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm:

  1. Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5;
  2. Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10.

Wat beteken dit vandag vir ons?

Eerstens: God op die troon, en Jesus op die troon, loop uit op die nuwe werklikheid van ‘n verenigde Godsvolk wat die Here loof en prys. Tweedens is ware realisme meer as net om TV te kyk en koerant te lees. Die Bybel help ons om ál die feite raak te sien. Derdens is die koninkryke van die wêreld ondergeskik aan die koninkryk van God, of hulle dit weet en bely, of nie. Vierdens, en dalk die belangrikste, is hierdie Psalm ‘n oproep aan siniese Westerlinge wat verleer het om te loof en te prys. Ons is so gewoond om alles rasioneel en skepties te benader. Alles moet ondersoek, gedefinieer, geklassifiseer en bevraagteken word. Dit maak dat ons sukkel om met dankbaarheid en jubeling vervul te raak. Daarom moet ons in die erediens – die toneel van hierdie Psalm – ons oorgee aan die God wat hier aan ons voorgestel word. Kom ons loof en prys die Here op die troon, by sy heilige troonsbestyging wat op met Hemelvaart herdenk.

Laai af: Word – PowerPoint