Efesiërs 5:15-20 – 15 Augustus

12de Sondag van Koninkrykstyd

Maak seker dat jy minstens twee ballonne het: een wat met helium opgeblaas is en een wat jy self opgeblaas het. Maak toutjies aan albei ballonne vas en maak dit in die liturgiese ruimte aan ‘n stoel of ‘n tafel vas sodat die ballon met helium in die lug is en die ander een hang. Wys dit vir die kinders. Vra vir hulle of hulle weet wat die verskil tussen die twee ballonne is. Vra vir hulle of hulle weet watter een sal kan “vlieg” as jy hulle losmaak. Verduidelik vir die kinders dat hierdie twee ballonne vir ons wys wat die verskil is tussen wanneer ons deur die Gees leef en wanneer ons deur onsself leef. Wanneer ons na die Gees luister, is ons verstandig, soos Efesiërs sê. Dan doen ons wat reg is en loof God en Jesus met ons lewe. Die preekriglyn maak ons opgewonde oor wat dit beteken om vol van die Heilige Gees te wees. Daarom kan ons saam met Peterson die teks vertaal: “Drink the Spirit of God, huge draughts of him.” (The Message). Want, as ons van Hom drink, groot teue van die Gees, by wyse van spreke, dan sal ons vol word van Hom en oorloop van sy goedheid en heiligheid. Dit sal half outomaties gebeur, as ons in plaas van baie wyn te drink, baie van die Gees drink, dan sal ons onder die invloed van die Gees kom, en sal ons lewe deur Hom bepaal word. Soos wat drank ‘n mens kan laat slinger van sy invloed, só sal die Gees ons lewenstyl in die wêreld bepaal. Hoe meer Gees, hoe meer leef ons soos Hy dit bedoel. Hoe minder Gees, hoe minder leef ons soos Hy dit bedoel. Dit het ‘n groot impak in ons lewe. ‘n Lewe deur die Gees is ‘n lewe wat kies teen onsedelikheid, onreinheid en gierigheid en kies vir alle goedheid, geregtigheid en waarheid. Dit is ‘n lewe wat kies om ander se belange eerste te stel, veral in die huwelik, gesin en werksplek soos Paulus net hierna sal skryf.  Die doel van gehoorsaamheid is dat ons vol moet word van God.

Laai af: Word – PowerPoint

Efesiërs 4:25-5:2 – 8 Augustus

11de Sondag van Koninkrykstyd

John Stevens stel voor dat jy vir Familietyd fokus op Ef 5:1 – Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders. Sommige  Engels vertalings praat van “immitate”. Daar is allerhande lekker maniere waarop jy kan gesels oor iemand se voorbeeld volg. Jy kan “Simon Says” speel, waar almal jou voorbeeld moet volg – maar nét wanneer jy sê “Simon says”.  Of julle kan op sekere maniere aantrek en mense namaak: jy kan ‘n plastiek tiara opsit en ‘n prinses namaak; ‘n kind met ‘n toga op ‘n preekstoel; iemand in ‘n Superman mantel, ens. Dan kan julle gesels oor hoe ons God se voorbeeld volg – deur lief te hê soos God liefhet. Probeer aan praktiese kind-vriendelike voorbeelde dink, soos tafel dek, vir iemand waai, ens. Jy kan ook gesels oor al die reëls waarvolgens ‘n mens moet leef. Jy kan bv lekker gesels oor die reëls by die skool of die Covid-veiligheidsreëls. Dan kan jy verwys na die “reëls” van die fokusteks wat in eenvoudige kindertaal in hierdie bydrae vertaal is. Die preekriglyn werk met die lied van C. Austin Miles as invalshoek: I come to the garden alone. Die lied is ‘n ongelooflike raak beskrywing van die ervaring wat ‘n mens het as jy in ‘n noue gemeenskap met die Here wandel. En dít is die roeping van elke kind van God. Dít is die deel van elke kind van God. Om in ‘n ononderbroke gemeenskap met God te lewe. Maar, dié lied van Miles roep twee ander verhale oor tuine in die Bybel in herinnering. Die tuin van Eden waar dié gemeenskap met God verlore geraak het. En die tuin van Josef op Golgota waar Jesus die gemeenskap met God deur sy opstanding herstel het. Die een tuin is ‘n verhaal van verlies. Die ander tuin ‘n verhaal van vreugde. Hierdie twee tuine help ons om ons teks verstaan. Paulus gee vir ons ‘n prentjie van God se droom vir ons. Hy wil die vrees vir Hom weens ons sonde wegneem en ons in die vreugde van sy teenwoordigheid laat wandel. Hy wil met ons ononderbroke gemeenskap hê. Hy wil die skuld en skande van ons ou mens verander sodat ons in die nuwe lewe kan wandel in alle waarheid en heiligheid. Hy wil die beeld van God wat in ons beskadig is deur die sonde herstel en ons maak soos Hyself is, sonder sonde, heilig, onbesproke. Daarom moedig Paulus ons aan: “Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (4:24). Ons prentjie van Christenwees moet wees om “soos God” te wees, om God se navolgers te wees, om soos Hy lief te hê, om soos Hy alles wat sleg is te haat en te leef vir die goeie, die opbouende, die verheffende. Dít wat ons in Eden verloor het, en op die opstandingsmôre terug gekry het, dít moet ons doelwit wees, om herskep te word na die beeld van God, in ware geregtigheid, in ware heiligheid, trouens, in die waarheid, soos Paulus dit hier uitspel.

Laai af: Word – PowerPoint

Efesiërs 4:1-16 – 1 Augustus

10de Sondag van Koninkrykstyd

Kry vir hierdie Sondag ‘n groot voorstelling van die menslike senuweestelsel met die brein, of wys ‘n prent daarvan op die skerm. Verduidelik vir die kinders dat die senuweepunte in jou liggaam met jou brein praat. Sonder jou brein, sal jy nie weet wat jy voel nie. Jy sal nie voel of jy warm of koud kry nie; jy sal nie weet of jy seerkry of lekkerkry nie. Jou senuwees voel dit alles, maar jy weet eers wat hulle voel (en wat om daaraan te doen) wanneer jou brein hoor wat die senuweepunte sê. Dan sê jou brein vir jou om ‘n warm baadjie aan te trek of die doring uit jou voet te haal. Die kerk werk ook so. Ons almal is soos die verskillende senuweepunte in ons liggaam, maar wat ons doen, maak net ‘n verskil in die wêreld wanneer die kerk se “brein” – Jesus – vir ons sê wat om te doen en ons na Hom luister. Ons sien dalk iemand wat hartseer of honger is en Jesus sê vir ons om vir hulle te sorg en vir hulle om te gee. Die preekriglyn sluit aan by die rede waarom Paulus aan die gemeente in Efese skryf in die vroeë sestigerjare uit die tronk in Rome. Hy het begin agterkom dat daar valse leringe versprei word in Efese en wil hulle help om die waarheid in Christus te omarm, sodat hulle gewortel en gegrondves kan wees in sy liefde. Hy het hulle ongeveer vyf jaar tevore gewaarsku dat daar wrede wolwe sal kom wat die gemeente onder druk sal plaas met vreemde en verkeerde leringe, Hy het toe gesê. Hy skryf dus nou vir hulle in die eerste deel van hoofstuk 4 oor die eenheid wat die Gees bewerk, ‘n eenheid wat hulle deur die samebindende krag van die vrede moet bewaar. Dit is ook die uitdaging vir ons as gemeente en as kerk, om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te bewaar. Baie mense sê teoloë mors tyd en energie met hulle ivoortoring debatte. Daarmee bedoel mense dat hulle moeg raak vir die oënskynlik sinlose teologiese debatte en die eindelose worstelinge met perspektiewe wat vir baie nie regtig met die werklike lewe te make het nie. Is sulke debatte nie net tydmors nie? Daar sal in elk geval nooit ‘n einde aan kom nie, nie waar nie? ‘n Mens sou vir Athanasius, die aartsbiskop van Alexandrië in die 4de eeu n.C. daarvan kon beskuldig, dat sy debatte met die kerk en met die vier keisers van sy tyd tydmors was. Hy het vir vyf dekades lank hom beywer nie net vir ‘n frase of ‘n woord in die geloofsbelydenis van Nicea nie, maar om een letter daaruit te hou. Een enkele letter. Geen wonder dat die mense van hom gepraat het as “Athanasius Contra Mundum” – Athanasius teen die wêreld. Die ding is net, as Athanasius ingegee het, as hy opgehou worstel het, as hy tou opgegooi het, was ons almal vandag in die moeilikheid. Sy stryd het alles te make gehad met wat Christus se Godheid vir ons beteken. Die waarheid oor Jesus – dat Hy een wese is met die Vader – is van lewensbelang vir ons saligheid. Ons hele verwagting van wat Jesus as Middelaar tussen God en mens vir ons kan doen, word daarmee op vaste grond geplaas. Ons kan voluit vertrou daarop dat Jesus as God in ons belang optree, omdat Hy inderdaad God is, homo-ousios, een in wese met die Vader. Dít is ook waarom ons geloofsbelydenisse vir ons so kosbaar is, waarom elke predikant dit onderteken by sy of haar legitimasie, en elke lidmaat voor die kansel bely dat hulle die leer van die kerk van harte aanvaar, en met alles in hulle sal vashou daaraan, en nie ‘n aks daarvan sal afwyk nie. Die harmonie van die liggaam van Christus is afhanklik van ons vashou aan die waarheid. Die samebindende krag van die vrede wat die Gees in die liggaam van Christus bewerk, is afhanklik van ons vashou aan die waarheid. Dit is alleen wanneer ons saam vashou aan die waarheid – in liefde – dat die hele liggaam harmonieus kan groei, en die hulp van elke gewrig in die liggaam kan dien om die onderskeie lede nie net saam te voeg nie, maar elkeen op sy eie kan bydra dat die liggaam as ‘n geheel verenig en die groei van die liggaam bewerk kan word deur die aandeel wat elke lid dra.

Laai af: Word – PowerPoint