Jakobus 5:13-20 – 26 September

18de Sondag van Koninkrykstyd

Roep al die kinders vorentoe. Vra vir een kind of hy of sy weet hoe om by die kerk uit te loop. Sodra die kind antwoord, kan jy ‘n blinddoek uithaal en vra dat die kind – met die blinddoek aan – by die kerk uit stap. Gee ‘n tydjie daarvoor. Daar is ‘n goeie kans dat die kind sal verdwaal. Indien nie, plaas so ‘n paar hindernisse in die pad. Sodra daar chaos is, vra een van die ander kinders om die geblinddoekte kind te help en vir hom of haar rigting aan te dui. Die les hierin kan eenvoudig wees: Deur gebed help medegelowiges ons om ons pad te vind. Dit sal ‘n goeie inleiding wees vir die prediking. Jakobus skryf aan mense wat konflik onderling en rondom hulle ervaar het, want hulle het weens hul geloof nie goed ingepas in die samelewing nie. Jakobus help hulle om koers te vind en gepas op te tree in die tyd waarin hulle leef. Hy gee hulle perspektief op die lewe van dissipels van Jesus. Hy begelei die gemeentes aan wie hy skryf tot genesing en heilsaamheid. Daarom is hierdie brief ook so waardevol vir mense wat steeds in gebroke samelewings lewe, wat steeds worstel met egte en opregte godsdiens voor God die Vader. Hy sluit die brief af met ‘n oproep aan sy lesers om gelowig, hoopvol en biddend te bly sodat hulle heilsaamheid en genesing kan vind. Gebed blyk die beste raad te wees wat Jakobus vir sy lesers se stryd aanbied. Dit is die hooffokus van Jakobus 5:13-18, ons teks.

Laai af: Word – PowerPoint

Jakobus 3:13-4:3, 7-8a – 19 September

17de Sondag van Koninkrykstyd

As jy hou van “object lessons”, oorweeg gerus om ‘n borrel-blaas stelletjie te bring en borrels te blaas. Gesels oor hoe mens soms groot borrels blaas en soms klein borrels. Die truuk is – jy moet saggies blaas! Jakobus praat van “sagmoedige wysheid”. Laat kinders borrels stukkend slaan terwyl hulle gesels oor wat die teenoorgestelde van “sagmoedig” is. (Jakobus praat van afguns, selfsug, leuens, wanorde, gemene dade.) Verduidelik dan dat “sagmoedige wysheid” saggies is – dit baklei nie en soek nie skoor met mense nie (vredeliewend), is bedagsaam (laat kinders voorbeelde noem van wat bedagsaam is), moet nie altyd hul eie sin kry nie (inskiklik), gee om vir ander mense (vol deernis). In die preekriglyn word Jakobus se klem op die verband tussen geloof en dade as uitgangspunt geneem. Geloof wat nie deur dade bevestig word nie is dood. Hy reflekteer nou verder oor die feit dat ons dade ons geloofsuitsprake bevestig. Hy gooi dit oor die boeg van die praktiese uitlewing van wysheid wat van Bo kom. Eers skryf hy oor die wysheid self (3:13-18). Daarna roep hy die gelowiges op om die hemelse wysheid ten opsigte van die volgende sake prakties uit te leef: hulle houding teenoor besittings (4:1-3), onderwerping aan God (4:4-10), verhouding met medegelowiges (4:11-12), afhanklikheid van God (4:13-17), rykdom (5:1-6), die volhardende gewag op die Here se koms (5:7-11), integriteit (5:12), swaarkry en vreugde (5:13) en siekte en sonde (5:14-20).

Laai af: Word – PowerPoint

Jakobus 3:1-12 – 12 September

16de Sondag van Koninkrykstyd

Dirkie Smit vertel in sy boek Wat sien ons in die spieël? die volgende storie: ‘n Vrou het by ‘n wyse man om raad gaan aanklop. Sy wou graag iets wat sy gesê het, ongedaan maak. Eers, het hy geantwoord, sal sy moet teruggaan, ‘n sak vol hoendervere neem, dit in die wind uitstrooi, en dan na hom terugkom. So gesê, so gedaan. Met haar terugkeer sê hy sy moet wéér teruggaan, elke veer gaan soek en dit in die sak terugsit, en dan weer na hom kom. Toe sy sê dit is tog onmoontlik omdat die wind dit teen daardie tyd al die wêreld vol gewaai het, was sy antwoord: “Net so onmoontlik is dit jou – vir enigeen – om die gevolge van wat jy gesê het, ongedaan te maak.” Dalk kan die liturg so ‘n verhaal lewendig maak deur dit vir kinders te illustreer met vere en ‘n sak. Die preekriglyn fokus op hoe belangrik dit is dat gelowiges hulle tong onder beheer moet kry. Wat ‘n gelowige menses sê, is van die grootste belang. Wat ons sê, die woorde wat ons uiter, is deel van die werke van ons geloof, dit is deel van die dade waarsonder geloof waardeloos is. Praat is dus vir Jakobus nie neutraal nie. Hy is diep besorg oor woorde wat selfsug en jaloesie uitdruk, die ander skade aandoen en selfs gewelddadig is.

Laai af: Word – PowerPoint