1 Samuel 15:34-16:13 – 13 Junie

3de Sondag van Koninkrykstyd

Kinders is goed bekend met die ervaring van uitgesluit wees of nie goed genoeg wees nie. Soos om by die “kinder-tafel” te sit tydens groot familie-etes. Of om nie lank genoeg te wees om in die Spur se speel-area te speel nie. Of wanneer grootmense oor dinge praat waarvan jy nie mag weet nie. Of wanneer maatjies jou uitsluit. Dit maak dat hulle goed kan identifiseer met Dawid en die boodskap van 16:7 sal waardeer: “Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” Daar is ook baie stories van mense wat uitgesluit is omdat mense hulle op uiterlike dinge beoordeel het, maar wat toe groot dinge vermag het. Die kinders sal bv. die storie van Hiccup in “How to train your dragon” ken. Hy was nie groot en sterk genoeg vir ’n Viking nie. Maar op die ou end het hy vriende gemaak met drake en sy hele dorpie gered. Die preekriglyn begin met ‘n verwysing na “The Human Library”. Dit is ‘n biblioteek, maar nie van boeke nie. In hierdie projek is die “boeke” regte mense. In hierdie menslike biblioteek kan jy ‘n regte mens “uitleen”, ʼn proses wat beteken jy luister in so 30 minute na hulle verhaal. Elke menslike boek het ‘n titel, soos “werkloos”, “vlugteling”, “bipolêr”, “verslaafde”, wat ook al die geval mag wees. Sodra jy hierdie boek uitneem en na die persoon se verhaal luister, ontdek jy talle dieper redes waarom ‘n mens nooit ‘n boek op sy buiteblad moet takseer nie. Die punt is natuurlik om vooroordeel te beperk. Die leuse is “unjudge someone”. Die werklikheid is dat elke mens deur ander met vooroordeel bekyk word. Jy is vir sommige ‘n “boer” of ‘n “settler”; ander mense word weer as ‘n “tsotsi”, ‘n “oupatjie” of ‘n “kortbroek” gesien. Die afbreek van vooroordeel is in almal se belang. Dit help ons ontdek hoe ons almal eintlik dieselfde nastreef, oor dieselfde besorg is, en afhanklik is van die ondersteuning van ander. Ons teks sê ook dat die Here mense nie op hulle baadjies takseer nie. Die Here kyk dieper as die buiteblad, die Here sien die hart. Ons teks nooi ons uit om met God se oë te kyk, met geloofsoë wat gevorm is deur ‘n fyn aanvoeling en ‘n openheid vir die Here se manier van kyk. Dit is ‘n dieper kyk met dieper oë van ‘n Geesvervulde hart. Ons word gemaan om nie teenoor ander te reageer met die indrukke van die eerste oogopslag nie. Dit is nie die uiterlike wat deurslaggewend mense se identiteit bepaal nie. Uiterlike dinge: voorkoms, lengte, dapperheid, welsprekendheid, is nie alles nie. God kyk egter veral na die innerlike. Selfs Samuel het nodig dat die Here hom begelei om die verskil te kan raaksien om daarvolgens op te tree. In die Weste en in ons eie land is ons deesdae so ingestel op identiteitspolitiek. Is jy wit, bruin of swart? Het jy ‘n Arabiese, Indiese of Europese voorkoms? Met die eerste oogopslag meen ons ons weet waar ons met jou staan. As jy anders as ons lyk, is jy nie welkom nie. Mens kan maar net weer vers 7 lees en bid om bevryding van jou oppervlakkige blik: Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” Die onvergeetlike woorde van Ray Boltz se lied spel dit uit: “When others see a shepherd boy, God may see a king. In a moment He touches you ….”

Laai af: Word – PowerPoint

1 Samuel 8:4-11, (12-15) 16-20 (11:14-15) – 6 Junie

2de Sondag van Koninkrykstyd

Bybel-Media se Woord en Fees gee ‘n voorbeeld van ‘n dramatiese teksvoorlesing wat jy kan gebruik. Daar is ook oulike voorstelle om kinders te help om die konsep van ‘n koning te verstaan. Twee stories kan jou daarmee help. “No” deur Claudia Reuda gaan oor ‘n beertjie wat nie “nee” vir ‘n antwoord wou aanvaar nie en opsluit in die winter wou uitgaan. Enige storie oor iemand wat “nee” sê – en die gevolge van nie na die “nee” luister nie – kan goed werk.  The Mixed Up Chameleon gaan oor ‘n verkleurmannetjie wat soos al die ander diere wil wees – en op die ou end nie ‘n vlieg kan vang nie. Carolyn Brown verbind dit aan die Israeliete wat soos al die ander volke rondom hulle wil wees. Sy stel ook voor dat jy die geleentheid gebruik om vir verskillende soorte leiers te bid. Die preekriglyn sluit aan by die feit dat publieke leierskap dikwels ‘n ramp is. Jy kan maar enige Suid-Afrikaner daaroor uitvra. Dis nie net van ons land waar nie. Selfs in Europa word staatshoofde by ongerymdhede betrek en beland in diep moeilikheid. Dieselfde geld die VSA en ander sg. ontwikkelde lande. Ons teks is ‘n eerlike blik op leierskap. Dit praat met elkeen van ons, want ons is ook leiers: by ons werkplekke, in ons families, vriendekringe, sportklubs, of selfs in ons woonbuurte. Ons gedrag het gevolge vir ander. Daarom is ons leiers, nie in die minste nie van onsself en ons eie optrede. Opvallend is die Bybel baie realisties oor leierskap en ook genuanseerd. Die Bybel – en hierdie teks – is eerlik en allesbehalwe naïef oor leierskap. In ons teks ontmoet ons die groot eksperiment in die vroeë lewe van Israel as ‘n volk. Ons staan hier by die begin van die era van konings in Israel. Ons teks is nie tevrede om ‘n eendimensionele storie van sukses of mislukking te vertel nie. Die oorgang van gesag van een bedeling na ‘n ander is kompleks en loop net so maklik beide op mislukking en sukses uit. Niks is ooit eenvoudig nie. Uiteindelik sou Jesus vir ons kom demonstreer hoe ware leierskap lyk.

Laai af: Word – PowerPoint

Johannes 3:1-17 – 30 Mei

Drie-eenheidssondag feesdiens

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders. Beklemtoon hoedat die 3 persone van die Goddelike drie-eenheid in die teksgedeelte na vore kom. Eerder as om geykte voorbeelde van die drie-eenheid soos ’n eier (geel, wit en dop) aan kinders voor te hou (wat hulle in elk geval moeilik vind om van sin te maak), illustreer dit volgens Carolyn Brown aan die hand van verskillende name wat mense mag hê… ’n Kind se ouma mag vir hom/haar oumie wees; die oupa noem haar dalk Poplap en vir haar dogter is sy Moemsie. Dieselfde persoon met verskillende name… God drie-enig as Vader, Seun en Gees. Dit is vandag Drie-eenheidsondag. Christene benader die drie-eenheid dikwels as iets wat verduidelik moet word. Asof ons met voorbeelde van ys, water en stoom of gestolde kerswas, vloeibare kerswas en ’n vlam moet probeer verduidelik hoe die Drie-eenheid “werk”. Ons teks bevry ons van hierdie doellose pogings om God met ons verstand te probeer “ontsyfer”. Ons teks vier die werk van God as Skepper en Vader, van Jesus Christus as Here en Verlosser, en van die geheimnisvolle maar kragtige werk van die Heilige Gees wat die nuwe lewe in ons skep.

Laai af: Word – PowerPoint