Markus 6-1-13 – 4 Julie

6de Sondag van Koninkrykstyd

Vir Familietyd: Carolyn Brown gebruik ‘n idee van Ann Scull. Vra iemand om ‘n massiewe, swaar tas vorentoe te bring. Die tas is volgepak van goed wat hulle gaan saamvat wanneer hulle vir ander van Jesus gaan vertel. Laat hulle die tas vol simpel goed pak, soos ‘n toaster, baie klere vir verskillende soorte weer, ‘n skateboard, ens. Laat hulle verduidelik hoekom hulle dink hulle gaan die goed benodig. Dan kan jy Jesus se instruksies aan die dissipels voorlees en met die persoon gesels oor wat ons werklik nodig het om vir ander van Jesus te gaan verstel. Die punt is dat ons geen spesiale toerusting benodig om vir ander mense van Jesus se liefde te vertel nie. John Stevens (van Dollar Store Children’s Sermons) plaas die fokus op die feit dat Jesus dissipels twee-twee uitstuur en praat oor die feit dat ons beter saam is. Wys goed wat beter saam is – grondboontjiebotter en konfyt (as daar nie kinders is wat allergies is vir grondboontjies nie), Oreos, ens. Of goed wat sterker saam is – wys hoe jy een potlood middeldeur kan breek, maar ‘n klomp potlode kan jy nie breek nie. Ons geloof is nie iets wat ons op ons eie doen nie – ons geloof is iets wat ons saam uitleef. ‘n Ander opsie is om te gesels vanuit die oogpunt van die mense wat die dissipels ontvang. Dan kan jy ‘n “welkom”-matjie of ‘n deurstop gebruik en gesels oor oop deure, oor die manier waarop ons mense ontvang.

Vir die preekriglyn: In hierdie aangrypende teks ontdek ons mense se reaksie teenoor Jesus, die gestuurde van die Vader. Dit gebeur in die eerste episode in ons teks. In die tweede episode leer ons onsself ook – deur die ervaring van die gestuurde dissipels – as gestuurdes van die Vader Seun en Heilige Gees ken. Ons ontdek ook hoe die ervaring lyk van diegene wat deur Jesus gestuur word. Dit bemoedig en versterk ons, en help ons om met teenstand en teleurstelling te kan saamleef.

Laai af: Word – PowerPoint

Markus 5:21-43 – 27 Junie

5de Sondag van Koninkrykstyd

Dit is heeltemal voldoende om gewoon die Bybelverhale vir kinders te vertel, sonder om ‘n morele lessie daaruit te probeer haal. Die twee verhale wys hoe geloof prakties werk.  Vertel die verhale met die klem op hulle vertroue op Jesus, ten spyte van wat ander mense sou kon sê of doen aan hulle. Die preekriglyn fokus op versterking wat hierdie verhale vir ons bied dat God in Jesus Christus op aarde aangekom en God as ‘n God wat in ons donkerste momente aktief besig is, geopenbaar het. Ons is vandag bevoorreg om egte, lewensgetroue verhale te lees. Dit vertel oor gebeure van intense lyding, wat oor jare strek of wat ‘n mens aan jou hart ruk omdat dit oor die dood van ‘n kindjie gaan. In hierdie gebeure is Jesus teenwoordig en handel Jesus. Die werke van God – die genesing van ‘n vrou en die opwekking van ‘n kind uit die dood – roep egter ook baie ingewikkelde vrae by mens op. Een gewilde vraag is waarom alle mense nie genees word of waarom lyding nie deur God voorkom word nie. Ons kan dit nie ontwyk nie. Maar ons stap eers deur ons teks en vra dan daarna wat dit vir ons geloof in die lewende, teenwoordige, handelende God beteken aan die verhaal van Joni Eareckson Tada, ‘n gelowige wat nie genesing gevind het nie, en tog bly glo. Om God te vertrou selfs al word jy nie genees nie, is haar getuienis.

Laai af: Word – PowerPoint

1 Samuel 17:(1a, 4-11, 19-23) 32-49 – 20 Junie

4de Sondag van Koninkrykstyd

Die Skriflesing kan op heelwat maniere dramaties gelees of oorvertel word. So kan vrywilligers dit bv. (onvoorbereid) “mimiek” terwyl dit gelees word. Jy kan byvoorbeeld die lekker interaktiewe weergawe van die YouVersion App vir kinders gebruik – wat ook in Afrikaans beskikbaar is. Of hierdie video van Online Church: Kids. Durbanville Bergsig het ‘n oulike video gemaak van ‘n liedjie wat die hele storie vertel. Hier is ‘n redelik dramatiese “live action” uitbeelding van die verhaal – die geweld is waarskynlik te grafies, maar aan die ander kant maak kinders nie onderskeid tussen illustrasie en realiteit nie. Hierdie is ‘n uiters gewelddadige verhaal. Leer die bewegings en sing die bekende liedjie van Jan de Wet saam. Hier is ‘n klomp inkleurprente om van te kies en hier is lekker craft idees. Die preekriglyn sluit aan by die reeks Survivor: David versus Goliath, wat gewen is deur Nick Wilson, ‘n regte underdog. Uit ‘n sekere hoek is Dawid as’t ware die beskermheilige van sulke underdogs. Maar, vanuit die Bybelse perspektief het die oorkom van onbereikbare struikelblokke alles met God se hulp te doen. Dit gaan oor veel meer as bloot menslike vasberadenheid of prestasie. Die belangrike vraag is of Dawid en Goliat ‘n Survivor-storie is? Die antwoord is: nee. Hierdie teks handel oor hoe mag in God se koninkryk werk.

Laai af: Word – PowerPoint