Efesiërs 4:1-16 – 1 Augustus
10de Sondag van Koninkrykstyd
Kry vir hierdie Sondag ‘n groot voorstelling van die menslike senuweestelsel met die brein, of wys ‘n prent daarvan op die skerm. Verduidelik vir die kinders dat die senuweepunte in jou liggaam met jou brein praat. Sonder jou brein, sal jy nie weet wat jy voel nie. Jy sal nie voel of jy warm of koud kry nie; jy sal nie weet of jy seerkry of lekkerkry nie. Jou senuwees voel dit alles, maar jy weet eers wat hulle voel (en wat om daaraan te doen) wanneer jou brein hoor wat die senuweepunte sê. Dan sê jou brein vir jou om ‘n warm baadjie aan te trek of die doring uit jou voet te haal. Die kerk werk ook so. Ons almal is soos die verskillende senuweepunte in ons liggaam, maar wat ons doen, maak net ‘n verskil in die wêreld wanneer die kerk se “brein” – Jesus – vir ons sê wat om te doen en ons na Hom luister. Ons sien dalk iemand wat hartseer of honger is en Jesus sê vir ons om vir hulle te sorg en vir hulle om te gee. Die preekriglyn sluit aan by die rede waarom Paulus aan die gemeente in Efese skryf in die vroeë sestigerjare uit die tronk in Rome. Hy het begin agterkom dat daar valse leringe versprei word in Efese en wil hulle help om die waarheid in Christus te omarm, sodat hulle gewortel en gegrondves kan wees in sy liefde. Hy het hulle ongeveer vyf jaar tevore gewaarsku dat daar wrede wolwe sal kom wat die gemeente onder druk sal plaas met vreemde en verkeerde leringe, Hy het toe gesê. Hy skryf dus nou vir hulle in die eerste deel van hoofstuk 4 oor die eenheid wat die Gees bewerk, ‘n eenheid wat hulle deur die samebindende krag van die vrede moet bewaar. Dit is ook die uitdaging vir ons as gemeente en as kerk, om die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, te bewaar. Baie mense sê teoloë mors tyd en energie met hulle ivoortoring debatte. Daarmee bedoel mense dat hulle moeg raak vir die oënskynlik sinlose teologiese debatte en die eindelose worstelinge met perspektiewe wat vir baie nie regtig met die werklike lewe te make het nie. Is sulke debatte nie net tydmors nie? Daar sal in elk geval nooit ‘n einde aan kom nie, nie waar nie? ‘n Mens sou vir Athanasius, die aartsbiskop van Alexandrië in die 4de eeu n.C. daarvan kon beskuldig, dat sy debatte met die kerk en met die vier keisers van sy tyd tydmors was. Hy het vir vyf dekades lank hom beywer nie net vir ‘n frase of ‘n woord in die geloofsbelydenis van Nicea nie, maar om een letter daaruit te hou. Een enkele letter. Geen wonder dat die mense van hom gepraat het as “Athanasius Contra Mundum” – Athanasius teen die wêreld. Die ding is net, as Athanasius ingegee het, as hy opgehou worstel het, as hy tou opgegooi het, was ons almal vandag in die moeilikheid. Sy stryd het alles te make gehad met wat Christus se Godheid vir ons beteken. Die waarheid oor Jesus – dat Hy een wese is met die Vader – is van lewensbelang vir ons saligheid. Ons hele verwagting van wat Jesus as Middelaar tussen God en mens vir ons kan doen, word daarmee op vaste grond geplaas. Ons kan voluit vertrou daarop dat Jesus as God in ons belang optree, omdat Hy inderdaad God is, homo-ousios, een in wese met die Vader. Dít is ook waarom ons geloofsbelydenisse vir ons so kosbaar is, waarom elke predikant dit onderteken by sy of haar legitimasie, en elke lidmaat voor die kansel bely dat hulle die leer van die kerk van harte aanvaar, en met alles in hulle sal vashou daaraan, en nie ‘n aks daarvan sal afwyk nie. Die harmonie van die liggaam van Christus is afhanklik van ons vashou aan die waarheid. Die samebindende krag van die vrede wat die Gees in die liggaam van Christus bewerk, is afhanklik van ons vashou aan die waarheid. Dit is alleen wanneer ons saam vashou aan die waarheid – in liefde – dat die hele liggaam harmonieus kan groei, en die hulp van elke gewrig in die liggaam kan dien om die onderskeie lede nie net saam te voeg nie, maar elkeen op sy eie kan bydra dat die liggaam as ‘n geheel verenig en die groei van die liggaam bewerk kan word deur die aandeel wat elke lid dra.